’n Kort oorsig van die ontdekking van goud aan die Witwatersrand (Deel 2)
April 9, 2017
Lady Anne Barnard
April 9, 2017

(Geskryf deur Japie Vermeulen, Annamarie Coetsee, Anette Smook, Sylvia Preuss, Corrie Erasmus, St. 4-leerlinge, soos verskyn in Historia Junior, Mei 1969)

My naam is Anna Trichardt. Ons het vanoggend vroeg hier in Port Natal aangekom. Dit het nou eintlik so begin:

My vader, Louis Trichardt, was ’n welvarende veeboer op die plaas Bosberg in die distrik Swellendam. Dit het alles goed gegaan totdat die wet van slawevrystelling begin geld het. Vader het egter geweier om sy slawe vry te stel onder die Britte se voorwaardes. Dit was natuurlik teen die wet en daarom is ’n groot som geld uitgeloof aan iemand wat hom voor die hof sou daag. Boonop het die Xhosas begin roof en plunder. Onder hierdie omstandighede het Vader in 1829 besluit om grond by die Wit-Keirivier van die Bantoe-opperhoof, Hintsa, te huur. Vader het dadelik vir ouboet Carolus met 1,300 beeste, 8,000 skape en 33 perde na die nuwe grond gestuur.

In 1833 het ons saam met ’n paar van ons welaf-bure ons daar gevestig. Ons het met swaar harte van ons lieflike plaas Bosberg afskeid geneem. Aan die einde van 1835 verneem ons dat oom Lang Hans van Rensburg besluit het om te trek uit die distrik Albanië. Intussen het ons rustig aan die Wit-Keirivier gewoon totdat die sesde Xhosa-oorlog uitgebreek het. Vader het net gewag vir die vee om klaar te lam voordat hy begin trek het, weg van die Engelse regering af. Daar was agt ander gesinne wat saam met ons getrek het, soos die Pretoriusse, Bothas, asook tant Antjie Scheepers, die Strydoms en ons skoolmeester, Daniël Pfeffer, wat al diep in die sewentig was. Ons het oor die Stormberg getrek en daarvandaan is ons tot oor die Grootrivier. Dit was ’n baie groot gesukkel om oor die rivier te kom. Die beeste is sommer deur die rivier gejaag, maar om die waens oor te kry, was ’n groot taak. Daar is vlotte gebou en met ’n groot gesukkel is ons toe eindelik die aand laat oor die rivier. Ons het toe geëet en soos gewoonlik Boeke gevat. Die volgende oggend vroeg het die swepe geklap, en daar gaan ons die onbekende in.

Ons het elke oggend vroeg begin trek tot die son opgekom het, dan het ons uitgespan, geëet en toe maar weer die volgende skof begin, tot die middag wanneer die son warm gebak het. Dit het aangehou tot oor die Vaalrivier. In April 1836 het ons oom Lang Hans van Rensburg by die Suikerbosrante ontmoet. Dit was ’n oor-en-weer-gegroetery. Vader en oom Lang Hans het toe besluit om saam te trek. Ons is van Suikerbosrand af ooswaarts en toe weer noordwaarts, tot by die Poort van Sekwaté. Die rede hiervoor was om die oorlogsugtige Matabeles onder Silkaats te ontwyk. Ons het lank vertoef by die Poort van Sekwaté, want daar was genoeg water en weiding vir die vee. Daarvandaan is oom Lang Hans ooswaarts, terwyl ons noord gehou het tot by die Soutpansberge, waar ons op 10 Mei aangekom het.

Daar het ons kennis gemaak met Ramabooya, die Bawenda-opperhoof. Die mans moes sorg vir die bou van hartbeeshuisies asook die aanlê van tuine. Hulle het ook dikwels gaan jag en daar is byna elke dag ’n paar olifantstande saam met ’n paar velle laer toe gebring wat ons dan later by die Portugese sou verruil. Drie dae na ons daar aangekom het, het twee van die seuns besluit om te gaan jag. Een seun het na ‘n rukkie by die laer aangejaag gekom en vertel dat hulle ’n soutpan ongeveer twee myl van die laer gevind het. Vader het gou ’n paar mans bymekaar gemaak en saam met die seun daarheen gejaag. Vader het ons die volgende vertel: Groot was hul verbasing toe hulle ’n yslike soutpan sien. Hulle het dadelik saalsakke vol sout gemaak en dit laer toe gebring. Skaars ’n week later daag oom Hendrik Potgieter, oom Sarel Cilliers en tien ander mans by die laer op. Ons het baie vrae gevra, maar kon niks van oom Van Rensburg uitvind nie. Vader, ouboet Carolus en drie ander mans van oom Hendrik se kommissie het op die spoor van oom Hans gevolg, terwyl oom Hendrik noord van die Limpopo gaan verken het. Toe Vader teruggekom het, het hy ons vertel dat hulle ’n spieël en ’n skêr in die stat van die Makwamba-opperhoof gevind het. Vader het dadelik onraad gemerk. Uit die verhale van naburige stamme kon ons aflei dat oom Hans-hulle se kruid en lood na ’n lang geveg moes opgeraak het. Ons het langsamerhand begin besef watter treurspel daar êrens langs die oewers van die Limpopo plaasgevind het. Baie mense was dae lank hartseer oor familielede uit die trek van oom Lang Hans van Rensburg wat hulle verloor het.

Maar ek wil julle graag vertel van Daniël Pfeffer, ons skoolmeester. By die Soutpansberge het hy vir ons ’n skooltjie opgerig waarin hy vir ons skool gehou het. Ons was altesaam 21 leerlinge, almal onder 16 jaar. Oom Hendrik het intussen ook by die laer aangekom en vertel dat hulle baie groot bouvalle gevind het. Hy het ook vir Vader gevra om vir hom een jaar te wag sodat hy die ander mense se trek kon gaan haal. Die jaar sou hy gebruik om sy oeste in te samel. Vader het ook ’n dagboek aangehou waarin hy elke dag ’n stukkie geskryf het. Ek kon my doodlees aan die boek. My lekkerste uurtjies bring ek deur na skool ver onder in die vallei. Dan verkyk ek my aan die pragtige natuurtoneel, die groen tuine en die hartbeeshuisies.

Na meer as ’n jaar het oom Potgieter nog nie opgedaag nie. Die ammunisie het min geraak en onder hierdie omstandighede het Vader besluit om alleen verder te trek. (Wat ons nie geweet het nie was dat oom Potgieter baie opgehou is deur die Matabeles.) Swaar het ons afskeid geneem van die land wat ons so lief voor geword het. Dit het baie maklik gegaan tot by Olifantsrivier, waar dit ’n weg deur die Drakensberge baan. Vader het eers verkenners in alle rigtings uitgestuur. Hy was vol vertroue dat ons oor die Drakensberge sou kom.

Oom Jan Pretorius het egter besware gemaak en met die voorstel gekom dat ons ’n ander plan moet maak. As ons vrouens die mans nie aangemoedig het nie sou hulle miskien die raad van oom Pretorius aangeneem het. Net oom Botha het nog gewaag om die volgende dag te mompel dat ons ons dood sal werk. Toe het die tog oor die Drakensberge begin. Daar is sestien tot twintig osse voor ’n wa gespan. Die osse het dikwels op hul knieë gestaan soos hul voorpote onder hul uitgegly het.

Daarna het die aftog begin, wat moeiliker was, want die oostelike berghang was baie steiler as die westelike. Die waens se wiele is omgeruil, daar is swaar houtblokke aan die agterasse gesit en waar die kranse te steil was, het ons die waens uitmekaar gehaal. Die oortog is boonop ook nog deur mistige weer en aanhoudende reën belemmer sodat die kruitkis soms drie duim diep in die water gestaan het. Party seuns het selfs moedeloos geraak. Op 15 Desember 1837 word die kind van tant Antjie Scheepers, Kooitjie, vermis, asook Isak Albach en Frederik Botha. Kooitjie het sy ma se geweer gevat en Vader se geweer was ook weg saam met twee kruithorings. Meester het gekla dat hy ’n onderbaadjie, garing, naalde en ’n mes kwyt is, terwyl ouboet Carolus koeëls uit sy koeëltas vermis het. Op die 29ste het die drie weer opgedaag. Vader wou hulle vergewe, maar nie tant Antjie nie! Sy het twee stroppe geneem en haar Kooitjie daarmee bygedam. Die gevolg was dat die ander twee se ouers hulle ook ’n deftige loesing moes gee. In Januarie 1838 is ons almal aan die voet van die Drakensberg. Daar is herstelwerk aan die waens gedoen en daar is ook weer gejag. Die wiele het toe maar weer begin rol. Ons is sestien keer oor die Olifantsrivier, terwyl die beeste begin vrek het. Met min vee het ons op 13 April in Delagoabaai aangekom. Toe het ’n nuwe ramp ons getref – Meester het skielik siek geword aan ’n onbekende siekte en vier dae daarna sterf hy. Op 1 Mei sterf ook my dierbare moeder. Vader was so hartseer oor die dood van Moeder en die mense wat vinnig minder geword het dat hy nog net een keer op 10 Augustus van sy verjaardag wat baie stil was, melding gemaak het. Op 25 Oktober sterf Vader. Voor sy dood het hy egter ’n boodskapper Natal toe gestuur om ons te kom haal, want hy het besef dat sy tydjie op aarde verby was.

Hy het vir Carolus gestuur om noord van die Limpopo ’n geskikte woonplek te soek. Toe Carolus terugkom, vind hy net die griafte van Vader, Moeder en my twee broers, asook dié van sy vrou en kinders. Andries Pretorius het intussen die boodskap van Vader ontvang en hy stuur toe ’n boot met die naam van Mazeppa om ons te kom haal. Saam met Piet Carolus en 22 ander mense het ons toe vanoggend hier in Port Natal aangekom.

Nou kan mens miskien tot die slotsom kom dat die Trichardt-trek nutteloos was en dat menselewens onnodig blootgestel was. Ek glo egter dat die grootste waarde van die Trichardt-trek daarin lê dat die land vir die nageslag oopgeploeg is en dat die toekomstige geslagte kan roem op hul voorvaders.