Louis Trichardt (1783-1838)

Piet Retief (1780-1838)
March 4, 2019
Ulrich Gerhard Lauts (1787-1865)
March 4, 2019

LEIER VAN DIE VOORSTE VOORTREK

Hierdie stoere trekker van die voorste Voortrek verdien ’n ereplaas in die portretgalery van Afrikaanse helde. In hom het ons ’n pragtige voorbeeld van die taaiheid en durf, die lewenskrag van die volk waaruit die Groot Trek gebore is. Die lotgevalle van hierdie koene baanbreker vorm dan ook een van die aangrypendste tonele in die heroïese drama van ons trekgeskiedenis.

Louis Trichardt was die jongste van vier kinders, en is in 1783 in die distrik Stellenbosch gebore. Op jeugdige leeftyd het hy sy vader na die oostelike grensdistrikte vergesel. Hy woon agtereenvolgens in die distrik Uitenhage, daarna op die leningsplaas Bosberg (waarop later Somerset-Oos uitgelê word) en vervolgens verhuis hy na De Plat, ’n plaas aan die Visrivier geleë.

Aanhoudende plundertogte, ’n swak inboorlingbeleid, die gedwonge gebruik van die Engelse taal en die onsimpatieke houding van die Britse outoriteite noop Louis om met ’n betreklike klein geselskap, waaronder Daniël Pfeffer, die ou skoolmeester, die onbekende Noorde in te trek. In 1833 voeg hy hom by sy seun Karel langs die Wit-Keirivier, maar teen die end van 1835 het Louis sy waens opgepak en tot onderkant die Grootrivier getrek. Hier sluit vyf ander families by hom aan. Naby Elandspruit ontmoet hy die trekgeselskap van “Lang Hans” van Rensburg, wat ongeveer gelyktydig met Trichardt uit die Kolonie weg is.

Foto: Louis Trichardt (Tekening van ’n portret deur Die Volkstem ontdek – vermoedelik van ’n ou skildery geneem)

Die twee trekke, elk bestaande uit ongeveer 50 siele, het in voeling met mekaar gebly tot by Strydpoort. Hier het die trekke uiteengegaan. Van Rensburg is verder noordwaarts na die Soutpan, terwyl Trichardt op die “agterste” mense sou wag. Die Van Rensburg-trek is in Julie 1835 deur ’n Zoeloe-kommando van Manukosi, êrens naby die samevloeiing van die Limpopo- en die Olifantsrivier, geheel uitgewis. Hendrik Potgieter het in Julie 1836 vir Trichardt by Soutpansberg ingehaal, en hier is ooreengekom dat laasgenoemde vir die groter trekgolf uit die suide sou wag. In die Dagboek van Louis Trichardt is die veelbewoë ervarings van hierdie dapper aanvoerder van dag tot dag geboekstaaf.

Nadat by ’n jaar op Potgieter gewag het, aanvaar Trichardt, aanvanklik op die spoor van die gemelde ongelukkige geselskap, die moeisame tog na Lourenço Marques. Dit was ’n ontsettende trek deur byna onbegaanbare terrein. Riviere, berge en die gevreesde tsetsevlieg was groot struikelblokke. Drie maande lank was hulle besig met die oortog oor die Drakensberge, maar uiteindelik, op 13 April 1838, bereik hulle Delagoabaai, waar hulle met oop arms deur die Portugese Kaptein Antonio Candido Pedroso Gamitto ontvang is.

Trichardt het vervolgens sy seun Karel uitgestuur op ’n ontdekkingstog langs die Ooskus van Afrika om die land te verken, ten einde ’n geskikte nedersettingsoord vir die trekkers te soek. Eers in 1840 kom hy weer in Delagoabaai aan.

Ramp op ramp tref nou die Trichardt-geselskap in Lourenço Marques. Binne enkele weke sterf meer as die helfte aan koors, en voor die end van die jaar, op 25 Oktober, het die dapper leier ook beswyk. Die paar oorlewende vroue en kinders is met die Mazeppa, deur die Natalse Trekkers vir die doel gestuur, oorgebring na Natal waar hulle hul verenig het met die ander emigrante.

Die voorste Voortrek was volbring…en dit deur ’n man bedeel met al die gawes van die ware leier, versigtig, taktvol, beslis, vergewensgesind; ’n onverskrokke, nobele figuur, deurdronge van ’n fiere vryheidsin wat hom sonder vrees die woestenye van die Noorde laat trotseer het.

Van betekenis was hierdie eerste trekke van Louis Trichardt en Hans van Rensburg gewis nie ontbloot nie, want nie alleen is ’n weg na die see nou aangetoon nie, maar hierdie trek het ook bekendheid gebring met die oostelike gedeeltes van Transvaal, en origens is goeie kennis ingewin omtrent die inboorlingstamme van daardie geweste. Karel Trichardt sou in latere jare ook belangrike dienste aan sy mede-emigrante bewys in hul strewe om deur te dring na die see.

Deurdronge van ’n fiere vryheidsin wat hom sonder vrees die woestyne laat trotseer het

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck