Losie De Goede Hoop (Geen toegang)

Die Kompanjiestuin en sy Gedenkwaardighede
December 12, 2017
Rust en Vreugd
December 12, 2017

Die Losie de Goede Hoop • Elliott-versameling, Staatsargief, Kaapstad

Die westelike hoek van Stalplein word gevorm deur ’n groep ou geboue, histories en argitektonies uniek in Kaapstad. Aan die regterkant is die Presidentswoning, vroeër Goewermentshuis, waarvan die geskiedenis terugstrek tot in die dae van die Van der Stels. Links daarvan lê die gebou van die Staatsdrukker, die eertydse banketsaal van die Losie de Goede Hoop, waarin die Kaapse parlement jarelank gesit het en wat later die Goede Hoop-teater geword het. En dan links van die Staatsdrukkery, agter die sierlike poort lê die vrymesselaarsgebou, die Losie De Goede Hoop.

In 1772 is die grondslag vir die Vrymesselary in Suid-Afrika gelê deur die stigting van die Losie De Goede Hoop wat sy magsbrief van die Nasionale Groot-Losie in Nederland ontvang het. Aanvanklik het die Broeders byeengekom in ’n nuwe gebou wat hulle gehuur en vir hul doeleindes ingerig het. Van 1794 het hulle ’n gebou gehuur wat geleë was op die terrein waarop die Hotel Union in Pleinstraat gestaan het en wat aan Abraham de Smidt, ’n vooraanstaande Vrymesselaar, behoort het. Later het hulle die gebou gekoop, maar dit het weldra geblyk dat dit ontoereikend vir hul doeleindes was. In 1800 het hulle dus die terrein, waarop die Losie tans geleë is, van ’n sekere George Muller gekoop.

Hierdie eiendom was bekend as die “Tuin Domberg”. Dit het oorspronklik uit twee skenkings bestaan – die een in 1666 aan die destydse kommandeur Zacharias Wagenaer en die ander in 1667 aan Maria Prignon, weduwee van ds. P Wagtendorp. In 1668 het albei in besit van HE Griesingh gekom en dit is daarna as ’n eenheid beskou. Die Vrymesselaars het die bestaande geboue op die perseel in ’n Tempel en ’n klublokaal omskep, maar het weldra besluit om ’n behoorlike losie op te rig. Vir hierdie doel het hulle binne hul geledere oor die dienste beskik van die destydse uitgelese driemanskap, Louis Michel Thibault, argitek, Herman Schutte, boumeester, en Anton Anreith, beeldhouer.

In 1801 het broeder Louis Thibault die planne vir die vrymesselaarsgeboue ontwerp. ’n Kontrak is met broeder Herman Schutte aangegaan om die gebou teen £6 000 (R12 000) op te rig en aan broeder Anton Anreith is opdrag gegee om vier beelde van simboliese figure, groter as lewensgrootte, te maak om langs die mure in die Tempel te plaas en nog drie vir ander kamers.

Terwyl die Losie in aanbou was, is die Vrede van Amiens gesluit en die Kaap is aan die Bataafse Republiek teruggegee. Adv. JA de Mist is as kommissaris hierheen gestuur om die administrasie op vaste grondslag te plaas. Vir die Vrymesselaars was sy koms belangrik, want hy was destyds in Nederland die Nasionale Adjunk-Grootmeester en het opdrag gehad om Vrymesselaarsaangeleenthede aan die Kaap te ondersoek en, waar nodig, sake reg te stel. Die eer het hom dan ook te beurt geval om op 7 Julie 1803 die Tempel in die teenwoordigheid van ’n groot skare in te wy.

De Mist self het die Losie beskryf as die mooiste in die wêreld. Treffend was veral en is nog altyd, die forse en gewaagde fasade van die gebou. Die interieur was voorwaar indrukwekkend. Uit die voorportaal het trappe na die Tempel gelei – ’n reuse saal met ’n bloemryke, tongeweefde plafon en die vier beelde van Anton Anreith teen die mure.

In die jare veertig van die 19de eeu het die Vrymesselaars die banketsaal langs die Losie gebou. In hierdie saal het die Kaapse Parlement van 1854 tot 1884 gesit toe die huidige Volksraadsaal voltooi is.

In Februarie 1892 is die Losie sowel as die banketsaal deur ’n verwoestende brand grootliks in puin gelê. Van die Losie is slegs die Meesterskamer, die vestibule, die wagkamer en ’n enkele ander vertrek nie vernietig nie. Die verlies van Anton Anreith se vier beelde in die Tempel was onberekenbaar, maar gelukkig het die ander drie beelde in die onbeskadigde deel van die gebou behoue gebly. Hierdie drie beelde – ’n staande figuur met die vinger op die mond, ’n sterwende figuur en ’n bedroefde moeder met kind – is verteenwoordigend van Anton Anreith se beeldehouwerk op sy hoogtepunt en versinnebeeld Stilte, Dood en Ontvalling.

Die Vrymesselaars het die Losie herbou en in April 1893 is dit voltooi en gewy. By die herstel van die banketsaal, is dit in ’n teater omskep en dit is as sodanig tot 1916 gebruik toe die Staat dit aangekoop het.

(Geproklameer 1968)

Die Losie de Goede Hoop • Elliott-versameling, Staatsargief, Kaapstad

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 17-18.