Dirkie Uys
July 27, 2015
28 JULIE
July 28, 2015

deur Louis Nel.

Daar was bitter teleurstelling in die laers by Doornkop oor die afloop van die strafekspedisie. Party Voortrekkers wou dadelik die land verlaat, maar die meeste – en veral die vroue – wou nie daarvan hoor nie. Die raad besluit toe om ’n kommissie na die Vrystaat en selfs sover as Graaff-Reinet te stuur om hulp teen Dingane te gaan soek.

Andries Pretorius, wat voorheen al in Natal die Voortrekkers besoek het, het oor die Drakensberg na die laers by Doornkop gekom. Onmiddellik is besluit om Dingane die tweede keer aan te val, onder bevel van Andries Pretorius. Daarvandaan het hulle saamgetrek onder bevel van Pretorius, en die Sondag deurgebring by ’n rivier wat hulle toe die Sondagsrivier genoem het. Die volgende dag het hulle deur Wasbank getrek, waar baie van die Trekkers hulle klere uitgewas het en dit op mooi klipplate langs die rivier oopgegooi het – vandaar die naam van die rivier. Daarna is hulle Biggarsberg uit, in die rigting van Bloedrivier.

Die Gelofte
Net voor die slag van Bloedrivier het kommandant Pretorius Sarel Cilliers versoek om namens hulle aan die Here ’n gelofte te doen dat, as Hy hulle die oorwinning gee, daardie dag jaarliks godsdienstig sou gedenk word, en dat ’n kerk tot eer van Sy naam in die land gebou sou word. Cilliers was huiwerig om dit te doen, want hy was bang dat hulle die gelofte sou verontagsaam. “God is ’n jaloerse God! Wat jy God belowe moet jy vervul,” het hy gesê. Maar op aandrang van die kommandant en met goedkeuring van die hele kommando, het Sarel Cilliers op die kanonwa gaan staan en met uitgestrekte hande, soos ’n gebed hierdie gelofte gedoen:

My broeders en mede-landgenote,
hier staan ons voor die heilige God van hemel en aarde,
om ’n gelofte aan Hom te doen,
dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee,
ons die dag en datum elke jaar as ’n dankdag,
soos ’n Sabbat sal deurbring,
en dat ons ’n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag
en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hul met ons daarin moet deel
tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte.
Want die eer van Sy Naam sal verheerlik word deur
die roem en die eer van die oorwinning aan Hom te gee.

Bloedrivier
Op 15 Desember 1838 het die kommando op die plek aangekom waar die slag die volgende dag plaasgevind het. De Lange is met ’n patrollie op ’n verkenningstog uitgestuur. Hulle sien ’n klomp Zoeloes wat tot halfpad tussen twee bosklowe afkom en dan weer vlug. De Lange het besef dat die Zoeloes hulle wil uitlok om hulle te volg en hulle dan van agter wil aanval. Hy stuur toe ’n berig aan kommandant Pretorius dat daar ’n groot Zoeloemag in die nabyheid is, en dat hy moet uitkyk na ’n goeie plek vir die laer.

BloedrivierPretorius het toe die plek gekies wat nou as Bloedrivier bekendstaan. Aan die een kant was ’n lang seekoeigat, en lynreg daarmee ’n donga wat in die seekoeigat uitmond. In die hoek wat deur die seekoeigat en die donga gevorm is, het hy die laer getrek. Daar is hekke gemaak wat tussen die agter- en voorwiele van die waens kon inpas. Die hekke het baie na gewone kraalhekke gelyk, met twee regop style en talle dwarssporte. Binne die laer is ’n ronde plek vir die osse en perde afgeskort. Die afskorting is gemaak deur jukke en pale in die grond te plant en dit, met trektoue en kettings toe te span. Die bedoeling was om te verhoed dat die osse en perde hulle vertrap indien die vyand hulle miskien sou noodsaak om in die laer terug te wyk. Dit was ’n goeie besluit, want die diere was só verbouereerd deur die oorverdowende geraas tydens die geveg, dat hulle heeltyd in die rondte bly maal het. Party osse se horings is gebreek en van die perde se bene is ook so gebreek. Die diere het eers later tydens die geveg bedaar.

Sweepstokke is op ’n afstand rondom die laer ingeplant waaraan lanterns met vetkerse gehang is, en daar is deurnag rondom die laer wag gehou. Die verwagte aanval het egter nie voor dagbreek gekom nie. Die Zoeloes het van die twee kante af aangeval. Die Voortrekkers het posisie buitekant en rondom die laer ingeneem en die aanval afgeslaan. Oor en oor het die Zoeloes gestorm onder ’n woeste geskree, gefluit en geslaan op die skildvelle. Maar elke keer is dit afgeslaan.

Beesvelbomme
Die Voortrekkers het twee kanonne gehad. Die een was van koper en die eiendom van kommandant Pretorius, wat hy uit die ou Kolonie saamgebring het. Die kanonnier was Giesing, ’n Hollander. Die tweede kanon was van groter kaliber en is deur Jan Joubert bedien. Vir die groot kanon het die Voortrekkers bomme van rou beesvel gemaak gevul met koeëls en stukke yster. As Jan Joubert skiet, vertel die ou mense, dan waai die stukke beesvel by die bek van die kanon uit. Eindelik het die Zoeloes geretireer tot op ’n afstand buite skoot van die laer. Daarop het Pretorius ’n patrollie uitgestuur om op die Zoeloes te skiet en dan meteens weer om te ruk en na die laer toe te vlug. Hierin het hulle geslaag en die Zoeloes waag toe ’n laaste aanval, maar dit was ook ’n mislukking en hulle het weer geretireer.

Ná die Slag
Pretorius het nou bevel gegee om op te saal en die Zoeloes agterna te sit. ’n Menigte van die vyand wat gevlug het, is doodgeskiet en die res op die vlug gedryf. Omdat dit Sondag was, het hulle die vyand nie verder agtervolg nie, maar omgedraai. Langsaam, met vuil, leë gewere, ry die mense nou in klompies terug na die laer. Op pad het hulle erdvarkgate vol Zoeloes gekry wat wegkruip. Een Zoeloe kon net sy kop in die gat kry, omdat dit so vol vlugtelinge was. Terug kon hy nie en toe die Voortrekkers naderkom, wink hy vir hulle met sy hand dat hulle sy kop moes los grawe.

Pretorius gewond
Pretorius het op ’n Zoeloe met ’n breëlem-assegaai in sy hand afgekom. Die Zoeloe was nie gewond nie en het op sy maag gelê, waarskynlik om onder sy arm te kan deursien. Toe Pretorius van sy perd afklim en na hom toe stap met die bedoeling om die assegaai op te tel, spring die Zoeloe op en storm hom. Pretorius kyk om en sien dat sy perd te ver is om te bereik voor die Zoeloe steek, dus bly hy staan en kyk die Zoeloe vas in die gesig. Toe hy sy hand oplig om te steek, gryp hy hom aan die arm. Toe gryp die Zoeloe die assegaai met die linkerhand. Pretorius gryp weer na die Zoeloe se linkerhand, maar vat in die assegaai, wat die Zoeloe toe deur sy hand trek. Pretorius spring op die Zoeloe en gooi hom op die grond neer. Gelukkig val die assegaai toe uit die Zoeloe se hand.

“Loop, Louis!”
Daar was ’n ander geval toe ’n sewentienjarige seun, Louis Nel, amper sy lewe verloor het. Op pad terug na die laer sien hy en ’n paar maats ’n Zoeloe lê asof hy dood is, met ’n klomp assegaaie langs hom. Oom Theunis Nel sê: “Louis, klim af en bring daardie assegaaie.” Hy klim af en kom by die Zoeloe, maar sien geen wond aan hom nie. Hy gryp die assegaaie, maar meteens spring die Zoeloe op en gryp ook na die assegaaie. Dit val uit Louis se hande, die Zoeloe gryp een daarvan en jaag agter hom aan. Die perderuiters jaag agterna met leë gewere en hulle skree maar altyd: “Loop, Louis, loop!” Hy voel self dat hy begin krag verloor toe hy die woorde hoor, maar die Zoeloe trap in ’n gat en val. Gelukkig kon Louis toe ’n hele ent wegkom. Die Zoeloe spring op en loop so hard as hy kon na Louis se perd wat nog daar staan.

Hy steek die perd met sy assegaai agter die buikgord skuins na vorentoe, sodat die bloedskuim by neus en bek uitspat. Die perd stort skuinsweg dood neer.

Teen dié tyd het Willem en Theunis Nel hulle gewere gelaai en sit die Zoeloe agterna wat pylsnel na Bloedrivier loop en in die water spring.

So is ’n groot oorwinning oor Dingane by Bloedrivier behaal. Die sege van 16 Desember 1838 is tot nog toe een van die skitterendste in die geskiedenis van Suid-Afrika. Die kommando sou onder die Voortrekkers as die Wenkommando bekend staan.