“Lojale” Afrikaners veg teen hul taal

Gideon Scheepers
January 22, 2015
Wit en bruin Afrikaanstaliges
January 22, 2015

Stellenbosch was een van ’n paar plekke waar Engels- en Engelsgesinde ondernemings geboikot is. Die boikot het op verskeie dorpe in die Kaapkolonie ontstaan weens die vernederende maatreëls waaraan Afrikaners onderwerp is. Professor CFJ Muller van die teologiese kweekskool (grootvader van die historikus met dieselfde voorletters en van) was die krag agter die boikot op dié dorp. Ander teologie-professore en predikante het Muller glo bygestaan. Britsgesinde “lojaliste” het beweer dat die raad van die Victoriakollege – voorloper van die Universiteit van Stellenbosch – gekant was teen alles wat Engels is en die kollegesaal geweier het vir ’n konsert om geld vir siek en gewonde Britse soldate te in.

Die oorlog en die boikotbeweging het aan Afrikaners getoon watter agterstand hulle in die handel het. Die optrede van sekere Engelse handelaars het hulle so teen die bors gestuit dat hulle ’n hele paar Afrikaanse handelshuise en “Boerewinkels” opgerig het. Ook ’n paar trustmaatskappye is opgerig – belangrikste die Paarlsche Afrikaansche Trust Maatschappij en die African Mutual Trust and Assurance Company van Malmesbury in 1900. Later sou hulle saam met die Stellenbosse Distriksbank ’n belangrike rol in die bankwese speel.

Een van die skrikwekkendste kenmerke van die oorlog in die Kaapkolonie was die bitterheid van die “lojaliste” en Boergesindes teenoor mekaar. Sommige lojaliste het deelgeneem aan ’n agitasie om die Kaapse grondwet op te hef. Sodoende kon die land volgens hulle dan ontslae raak van die invloed van die Afrikanerbond en die “vertroeteling” van ’n Afrikaanse kultuur. Ene LS de Wet en veertig ander van Worcester, asook ’n tweede groep van Worcester en ’n groep van Caledon, het ’n petisie met dié strekking aan die militêre owerheid gerig.

Hulle het beweer dat die Afrikanerbond ’n opleidingskool van “sedition-mongers” en rebelle was, en dat die Bond sy invloed op alle lewensterreine laat geld het. Die petisionarisse was veral beswaard omdat “the Taal” die kommunikasiemedium van die Bond was, en dat die organisasie geen spreker op ’n openbare vergadering geduld het as hy nie sy toespraak in Afrikaans gelewer het nie. Die Afrikanerbond en “the Taal” het hand aan hand gegaan en solank as wat die Afrikanerbond bestaan, sal “the Taal” as ’n semi-amptelike taal gekoester word.

Die “moederland”, dus Brittanje, sal die hele vraagstuk kan oplos as hy die grondwet opskort en wette kan aanneem wat die gelykberegtiging van Engels en Nederlands in die parlement, laer geregshowe en elders kon ophef. Terselfdertyd moet onderrig in Nederlands verbied word. Die regering het die petisies verwerp, maar, skryf JH Snyman in Die Afrikaner in Kaapland 1899–1902, dit gee tog ’n “insiggewende beeld van die haat waarmee selfs Afrikaanssprekendes teenoor mede-Afrikaners vervul was, of wat aan die ander kant die verknogtheid van ’n groot aantal Afrikaners aan Brittanje en Britse ideale illustreer, ’n verknogtheid wat so erg was dat daar selfs nie eens geskroom is om te pleit vir die vertrapping van hulle eie taal nie.”