Welgemeend, Kampstraat (Geen toegang)
December 12, 2017
Waterhof (Geen toegang)
December 12, 2017

Bokant Welgemeend, teen die hang van Tafelberg, waar Hofstraat ’n boog maak, draai die eikelaan uit na die bekende administrateurswoning, Leeuwenhof. Hier, byna verskuil agter hoë denne- en wildevyebome met Tafelberg as agtergrond en ’n verruklike vergesig op Tafelbaai en die deinserige Kaapse voorgebergte, lê een van trotsste ou dubbelverdieping-herehuise in Kaapstad. Deur wie en wanneer hierdie huis met sy volmaakte verhoudinge en sy sierlike belyning presies gebou is, kan nie met sekerheid gesê word nie, maar die romantiese verhaal van dié landgoed gaan terug tot in die dae van Simon van der Stel se goewerneurskap en hou ten nouste verband met die geskiedenis van Kaapstad en van Suid-Afrika.

Op 22 Oktober 1693 het Simon van der Stel aan Guillaum Heems 12 ha teen die berg in lening toegeken om dit “te berooijen, bepoten, beploegen, betimmeren en te bearbeiden”. Heems was ’n ondernemende en vlytige kêrel. Ná sy aankoms aan die Kaap was hy ’n kneg by die bekende Wouter Mostert, maar weldra verwerf hy sy vryburgerskap, en verkry die reg om in wyn en brandewyn te handel. Sy dranksaak floreer sodanig dat nie slegs sy aansien in die klein gemeenskap vinnig styg nie, maar dat hy in 1691 Boschheuwel, die vroeëre plaas van Jan van Riebeeck, tans Bishopscourt in Wynberg, kon koop.

Heems het sy nuwe stuk grond hier op die uiterste grens van Kaapstad Leeuwenhof genoem. Hy het ’n paar klein geboutjies daarop aangebring en ’n groentetuin aangelê. Hy was egter sakeman en nouliks twee en ’n half jaar nadat hy eienaar daarvan geword het, verkoop jy dit weer aan Heinrich Bernhard Oldenland. Oldenland was ’n uitnemende plantkundige en ’n bekwame en veelsydige amptenaar –baastuinier van die Kompanjiestuin, landmeter en “opsiener van alle wegen, straten, bruggen en gebouwen”. Vir al hierdie dienste aan die Kompanjie het hy die karige salaris van 100 guldens per jaar ontvang en dit was waarskynlik slegs met die hulp van sy vrou, die weduwee Blum, dat hy in staat was om die koopskat van 5 000 guldens vir Leeuwenhof saam te raap.

Vir die botanikus Oldenland moes Leeuwenhof met sy verskeidenheid van inheemse bome – spekboom, olienhoutboom, wildevyeboom en geelhoutboom – en sy talle struike en plante ’n ware lushof gewees het. Dit sou hom egter slegs agt maande gegun word om hierdie weelde te geniet. Hy sterf skielik en in 1697 verkoop sy vrou die grond aan die fiskaal Joan Blesius weer vir 5 000 guldens. Oldenland se kortstondige besit en sy beperkte middele het hom waarskynlik nie in staat gestel om ’n huis te bou nie.

As Independente Fiskaal was Blesius ’n baie belangrike amptenaar. Trouens, hy was in rangorde net benede die goewerneur, maar was onafhanklik van hom. Daarbenewens was hy een van die gunstelinge van Willem Adriaan van der Stel wat van die grond gekry het wat hierdie goewerneur met so ’n kwistige hand aan die amptenare geskenk het.

Hoewel Blesius reeds in 1697 die eienaar van Leeuwenhof geword het, het hy waarskynlik eers in 1701 daarop gaan woon, en daar moet aanvaar word dat hy die eerste behoorlike woonhuis op die grond gebou het. Onomstootlike bewysgronde vir hierdie stelling is nie voorhande nie, maar onregstreeks kan dié afleiding wel gemaak word. In die eerste plaas moet aangeneem word dat so ’n belangrike amptenaar vir hom ’n residensie sou oprig wat by sy status pas. Verder is daar ’n opmerklike verskil tussen die oorspronklike grondbrief in die Akteskantoor waardeur die grond aan Blesius geskenk is en die afskrif van hierdie grondbrief aan Blesius. Op die oorspronklike grondbrief word op die plan van die grond slegs die ligging van ’n paar eenvoudige geboutjies aangedui. Op die afskrif van dieselfde grondbrief is ’n huis op die plan van die grond ingeteken. Hierdie tekening is waarskynlik deur Blesius self aangebring, eerstens om aan te dui waar hy die huis wou bou en tweedens watter tipe huis hy wou oprig. Die tekening toon “’n enkelverdiepinghuis met staandak van riet met wolwe-ente en drie dakvenstertjies voor”.[1]

Na Blesius se dood en dié van sy vrou in 1714 het die landgoed meermale van eienaar verwissel totdat dit in 1764 deur Johan Christiaan Bräsler (Bresler), afkomstig van Kopenhagen, vir 14 000 guldens gekoop is. Dr. Mary Cook, kenner van ou Kaapse huise, is van mening dat hy vir die bou van die bestaande herehuis verantwoordelik was. Hiervoor is daar weer eens geen regstreekse bewyse nie, maar omstandigheidsgetuienis dui sterk daarop. Bresler was in die eerste plaas 23 jaar besitter van die eiendom. Hy was groente- en vrugteboer en die laaste jare van sy besit was jare van buitengewone voorspoed aan die Kaap. In 1781 word ’n Franse garnisoen hier gestasioneer om die Kaap teen ’n besetting deur Engeland te vrywaar, skeepsbesoeke neem toe, vestingswerke word gebou, papiergeld word uitgegee om koste te dek en die pryse van allerhande Kaapse produkte skiet die hoogte in. Leeuwenhof was aan die voordeur van die lewendige mark geleë, en Bresler het ongetwyfeld in die voorspoed gedeel.

Verder, een van die gevolge van die algemene voorspoed was die bou van groot staatsgeboue en sierlike herewonings. Die destydse reisiger, De Jong, praat hiervan as “eene drift, een dolheid, eene besmettelijke rasernij, die meest alle menschen heeft aangestoken”. In die woningbou het hierdie “raserny” tot ’n eie boustyl, kenmerkend van die vierde kwart van die 18de eeu, gelei – dubbelverdieping-platdakhuise waarvan die skoonheid geleë was in die bykans strakke lyne en die delikate ewewig tussen en die volmaakte verhoudinge van die onderskeie dele tot mekaar. In baie gevalle, soos o.a. die Koopmans de Wet-huis, is die staandak van riet deur ’n tweede verdieping met ’n platdak vervang. Omdat Leeuwenhof se boustyl so getrou aan die boustyl van hierdie tyd is, moet ’n mens aanvaar dat Bresler as welgestelde boer aan die “raserny” meegedoen het, en dat hy die ou huis in hierdie pragtige herehuis omgeskep het.

Ten slotte kan die geweldige styging in die waarde van die eiendom gedurende sy besit as bewys dien dat hy die huis gebou het. Hy het dit vir 14 000 guldens gekoop en ná sy dood het sy vrou dit in 1788 vir 51 000 guldens verkoop. Die algemene styging in die prys van grond, die verdubbeling van die oppervlakte van die eiendom deur die toekenning van ’n ekstra 12,8 ha aangrensende berggrond en die waardevermindering van die Kaapse papiergeld, kan hierdie reuse styging nie verklaar nie.

Ná Bresler het Leeuwenhof weer snel van eienaar verwissel totdat Johannes Zorn dit in 1799 vir die som van 90 000 guldens gekoop het. Hy het in 1782 as soldaat na die Kaap gekom en het hier in die leër en die gemeenskap vinnig opgang gemaak. In 1801 word hy majoor. Hy dien in verskeie rade en kommissies en word in 1809 deur graaf Caledon as landdros van die Kaapse distrik aangestel.

Terselfdertyd het hy groot belang in die landbou en die veeboerdery gehad. Leeuwenhof het hy nie alleen in ’n lushof omgeskep nie, maar in ’n winsgewende onderneming. Daar was 35 000 wingerdstokke en ’n verskeidenheid vrugtebome. Om die landgoed te bewerk en die produkte te bemark, het hy 33 slawe en ses slavinne aangehou. Ou skrywers is met die grootste bewondering vir Zorn se gasvryheid en vir die skoonheid van sy landgoed vervul. Latrobe praat van die huis as “a good Dutch building delightfully situated  … The portico or gallery running along the whole front of the building, has an espalier roof entirely covered with vines …” Burchell noem die huis “the very pleasant villa of Leeuwenhof”, terwyl WW Bird van “the house on the celebrated gardens of Mr. Zorn” praat.

In 1814 het Zorn as landdros afgetree om sy volle aandag aan die boerdery op Leeuwenhof te gee. Hy sterf in 1825. Dit moes in hierdie tydperk gewees het dat hy die twee buitehuise en die slawekwartiere agter die groot huis gebou het. Een van die huise is nog binne die landgoed en word deur die koetsier van die administrateur bewoon, terwyl die ander tesame met die aangrensende slawekwartiere, tans as Botuin bekend, daar buite geleë is.

Na Zorn se dood het sy vrou ter beskerming van die landgoed se waterbronne ’n toevoeging van nog 41,1 ha teen die berghange vir die nominale bedrag van R20 verkry, sodat Leeuwenhof voorwaar ’n plaas van meer as 77 ha geword het.

Gedurende die 19de eeu het Leeuwenhof agtereenvolgens ses eienaars gehad. Belangwekkend is egter die tydperke van besit deur Christoffel Joseph Brand (1841-1848) en Petrus Johannes Kotzé (1848-1881).

Die bekende Christoffel Brand, vader van president Jan Brand van die Vrystaat, het as advokaat en politikus ’n buitengewoon drukke lewe gehad. Die rustige Leeuwenhof teen die berghang het dus vir hom ’n ontvlugting uit die stad gebied, maar aan die uitgestrekte tuinerye kon hy weinig aandag gee. Bowendien het finansiële teenslae hom hiervan weerhou.

Petrus Kotzé het reeds in 1839 ’n deeltjie van Leeuwenhof aan Hofstraat gekoop, daarop ’n huis gebou en dit La Belle Alliance genoem. Nege jaar later kom hy in besit van die hele plaas, maar betrek eers in 1854 die herehuis. Van hier het hy ’n belangrike rol in die openbare lewe gespeel. Twee keer was hy burgemeester van Kaapstad en in 1859 word hy lid van die Kaapse Parlement. Sy seun, John Gilbert Kotzé, die later bekende regter van die Zuid-Afrikaansche Republiek, het sy kinderjare op Leeuwenhof geslyt, en dit is uit sy opgetekende herinneringe dat ’n mens ’n duidelike beeld van hierdie ou landgoed kry. Petrus Kotzé het Leeuwenhof in sy eertydse glorie herstel. Die wingerde en vrugteboorde is weer bewerk. Sierbome en blomstruike, sommige vanuit Oosterse lande, is aangeplant – hibiskusse van verskeie kleure, selonsrose, kanferfoelie, mirte, plumbago, krismisrose, sneeurose, e.s.m.

Teen die einde van die 19de eeu het die groeiende Kaapstad egter onweerstaanbaar die ou landgoed begin binnedring. Groot dele is afverkoop totdat daar van die 80 ha slegs Die Tuin Leeuwenhof, nouliks twee ha groot, oorgebly het. Gelukkig het die ou herehuis, nieteenstaande die voortdurende wisseling van eienaars, in ’n groot mate ongeskonde gebly. In 1936 word dit die eiendom van die Provinsiale Administrasie van die Kaapprovinsie en ampswoning van die Administrateur. Daardeur is die grondslag vir die behoud van hierdie sierlike en historiese ou woning gelê.

(Geproklameer 1966)

 

Don Adair • Leeuwenhof

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 20-23.

 

[1] De Klerk, A. J. B., Leeuwenhof, die kronieke van ’n herehuis, p. 91.