Langtermynprojekte voortgesit

Afrikaanse instellings
January 26, 2015
Wit en bruin Afrikaanstaliges
January 26, 2015

Ondanks die aftakeling van Afrikaans in die openbare lewe het die kultuurlewe in die jare 90 lewenskragtig gebly. Sedert 1980 word Afrikaanse (en Engelse) boeke op groot skaal versprei deur Leserskring wat twee jaar ná sy stigting ’n 100 000 lede gehad het. Die eerste twee hoofbestuurders was meneer Piet Botma en meneer Hannes van Zyl. Die hoë ledetal het groot oplaes moontlik gemaak. Van Huisgenoot se wenresepte is tot 80 000 eksemplare in ’n eerste bestelling geplaas.

Intussen het die langtermynprojekte voortgegaan, wat ’n aanduiding is van vertroue in die toekoms. Deel X van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, die WAT, wat die letter M bevat, het in 1996 verskyn met dr DJ van Schalkwyk as hoofredakteur. Daarmee is die halfpadmerk bereik van sowel die alfabet as die WAT, wat by voltooiing uit twintig dele sal bestaan. Die eerste oplaag van die verskillende dele het soos volg verskyn: deel I 1950; II 1955; III 1957; IV 1961, V 1968; VI 1976; VII 1984; VIII 1991; IX 1994. In deel X is ook ’n mededeling opgeneem waarin die beheerraad om verskoning vra dat “beledigende en sensitiewe” woorde in die verlede nie altyd sensitief gehanteer is nie. Die beheerraad is jammer oor enige aanstoot wat die hantering van sulke woorde mag gee. ’n Nuwe beleid word nou gevolg oor sulke soorte woorde. By “rassismes” word die gebruik ook nie toegelig met sitate wat ’n negatiewe houding teenoor enige bevolkingsgroep weerspieël nie.

Intussen het die WAT onder Van Schalkwyk so gemoderniseer dat hy en die WAT-span leiding en raad kan gee aan woordeboekmakers in Suid-Afrika en ander lande. Die gevorderde rekenaarprogramme van die WAT het die makers van Webster in Amerika in vervoering. Hulle meen dat die Afrikaanse woordeboekmakers van die beste ter wêreld is. Die gerekenariseerde program is in Swede ontwikkel, maar die WAT-mense gebruik dit op ’n hoër vlak as die Swede self. Van Schalkwyk het in 2000 ’n seminaar daar gaan lewer oor dieselfde program. Die WAT help ook met woordeboeke vir ander tale in Afrika, selfs van Gaboen.

Die derde uitgawe van die gewilde Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) het in 1994 verskyn met as redakteur FF Odendal, emeritus professor in Afrikaans en Nederlands aan die RAU.

Die agtste uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls is in 1991 uitgegee. Van die sewende druk van 1964 het Tafelberg-Uitgewers tot in 1990 247 603 eksemplare gedruk (in sestien drukke). Vir die Akademie was dit ’n belangrike bron van inkomste. Die reëling van die spelling was die grootste taak van die Akademie – naas die toeken van pryse en die versorging en uitgee van sy twee vakblaaie, die Tydskrif vir Geesteswetenskappe en die Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie.

Die Tweetalige Woordeboek van DB Bosman en IW van der Merwe is van 1955 af ingrypend hersien deur LW Hiemstra. Hiemstra was lank verbonde aan die Nasionale Pers, onder andere as assistent-redakteur van Die Volksblad en later taalredakteur van die pers se publikasies en ook lid van die taalkommissie van die Akademie. ’n Deeglik hersiene en uitgebreide vierde uitgawe het in 1962 verskyn en daarna het hy nog drie uitgawes versorg. Toe hy in 1978 op 81-jarige ouderdom sterf, is hy opgevolg deur PA Joubert, voormalige redakteur van Die Huisgenoot en in 1986 deur George Louw. Joubert is ook opsteller van ’n nuttige Tweetalige Frasewoordeboek.

Doktor Louis Hiemstra het ’n aansienlike boedel nagelaat. Sy weduwee, mevrou Rikie Hiemstra, het tot sy eer ’n trust geskep vir die publikasie van verdienstelike Afrikaanse tekste. Die trust het ’n hele aantal belangrike Afrikaanse boeke geborg.