Langenhoven se Geboortehuis, Hoeko, Ladismith (Geen toegang)

Oude Post, Rietvallei, Swellendam
June 27, 2018
Tolhuis, Garciapas, Riversdal
June 27, 2018

Ongeveer 15 km oos van Ladismith (Kaap) in die skaduwee van die Swartberge en omring deur olyfgroen heuwels is die fraai en vrugbare Hoeko-vallei geleë. ’n Standhoudende riviertjie wat bo in die berge ontspring en koel en rustig deur die vallei vloei, maak dit des te skilderagtiger. Oorspronklik het één plaas die ganse vallei beslaan, maar met die loop van jare is dit onderverdeel, sodat dit tans uit ’n hele aantal kleinhoewes bestaan. Hier, nouliks ’n kilometer vanaf die hoofpad na Calitzdorp, staan die geboortehuis van die alombekende Afrikaanse skrywer, C.J. Langenhoven, op die plasie “Stille Waters” so genoem na sy bekende werk. Dit is ’n eenvoudige boerewoning bestaande uit vier slaapkamers, ’n voorhuis, ’n kombuis en ’n spens. Hier, so skryf Langenhoven self, “in die nag tussen 12 en 13 Augustus 1873 is ek gebore, ’n ou dingetjie wat so swak en tengerig was dat hy nooit kon lewe en tog geleef het. Vyf dae ná my geboorte is my moeder Rachel dood”.

(Bronsplaat 1950)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 119.