Lance James vier tagtig goue jare

Wen R3000 vir jou kommando!
Augustus 10, 2018
PRESIDENT KRUGER SE GRAF DEUR VANDALE GETEIKEN
Augustus 10, 2018

Deur Daantjie Dinamiet

Hoewel Charles Jacobie allerweë beskou word as die eerste Afrikaanse sanger wat sukses met country-musiek behaal het, is daar nog ’n legende van die plaaslike vermaaklikheidsbedryf wat meer as enigiemand anders gedoen het om dié musiekgenre in Suid-Afrika gewild te maak.
Lance James Liebenberg is op 18 Julie 1938 in Germiston gebore en het in 1957 sy eerste twee liedjies opgeneem.

Hy het aan verskeie talentkompetisies deelgeneem en die kompetisie in Margate drie keer gewen. Hy het transkripsieopnames vir die SAUK begin maak en hoewel ’n platemaatskappy hom genader het om Chuck Berry se liedjie “Johnny B Goode” op te neem, het sy kontraktuele verpligtinge aan die SAUK gekeer dat dié opname vrygestel sou word.

In 1965 is Lance getroud en later daardie jaar het hy ’n platekontrak van drie jaar onderteken. Tussendeur het hy ook as omroeper by Springbok Radio begin werk. In 1968 het sy pad met dié van Albie Venter gekruis, en Albie het vir hom ’n kontrak aangebied. Dit was die begin van Lance se loopbaan as Afrikaanse sanger, aangesien Albie gesê het dat Lance “in die verkeerde taal” gesing het. Albie het ook voorgestel dat hy en Min Shaw saam begin sing; hulle het dadelik ’n treffer met “Bymekaar” gehad, maar dit was net die begin van hul suksesverhaal. In 1969 is die rolprent Die Danie Bosman-storie, wat die lewensverhaal van dié legendariese liedjieskrywer vertel het, vrygestel. Franz Marx het die titelrol teenoor Min Shaw vertolk en Lance se sangstem is vir die hoofkarakter gebruik.

Lance het al hoe meer sukses as solokunstenaar behaal, veral met sy album Ahoi Madagaskar ahoi. Die titelsnit was ’n groot treffer, maar die een snit wat, volgens Lance, sy lewe verander het, was die een wat Springbok Radio se Top 20 gehaal het. “Dankie” het op 20 Maart 1970 toegetree, die dertiende plek gehaal en ses weke op die trefferslys gebly. Die volgende jaar was hy terug met sy grootste treffer. “Vicki” was die temaliedjie van die gelyknamige rolprent; dit het op 2 April 1971 toegetree, die vierde plek behaal en veertien weke op die trefferslys gebly. Lance se laaste treffer as solokunstenaar was “What’s your mama’s name, child?” wat op 7 Desember 1973 toegetree het, net die sewentiende plek gehaal het en vyf weke op die trefferslys gebly het.

Lance se suksesvolle vennootskap met Min Shaw het ongeveer in 1975 tot ’n einde gekom. Hulle het verskeie treffers gehad, onder meer “Bymekaar”, “Bloedrooi die rose”, “Gebed van ’n jong meisie”, “Aandlied van die voëls”, “Silwer en blou” en “Solank daar treine loop”. Min het egter besluit om haar uitsluitlik op kontemporêre Christelike musiek toe te spits terwyl Lance voortgegaan het om kommersiële Afrikaanse en country-musiek te sing.

Benewens sy loopbaan as sanger, het Lance ook by verskeie radiostasies gewerk. Hy sal veral onthou word vir sy programme op Springbok Radio. Hy was die aanbieder van Bubbling under/Op die drumpel, wat Saterdae net voor die amptelike Suid-Afrikaanse Top 20 uitgesaai is. In hierdie program het hy elke week nuwe vrystellings, wat in aanmerking gekom het vir die Top 20, gespeel. Toe die trefferslys van twintig na dertig liedjies vergroot is, het dié program uiteraard verval. Sy grootste nalatenskap as omroeper was egter Keep it country. Dit is aanvanklik op Sondagaande op Springbok Radio en later op Radio Orion uitgesaai en kan deesdae aanlyn gehoor word. Cora-Marie het dié program verewig deur dit in haar treffer “Gee vir my ’n bietjie country” te noem, en elke jaar is daar ’n Keep it country-musiekfees tydens die Randse Skou gehou totdat Springbok Radio in 1985 ophou bestaan het. Die program word ook op Radio Today, op die frekwensie 14,85 MW uitgesaai.

In 1977 het Lance die album After the fire is gone saam met Barbara Ray, ’n suksesvolle country-sangeres in eie reg, opgeneem. Die titelsnit het Springbok Radio se Top 20 op 9 September 1977 gehaal, tot by die vyfde plek gevorder en sestien weke op die trefferslys gebly. In 1990 het Lance met Billy Forrest, Clive Bruce, Sally Vaughn en Joanna Field saamgespan en die groep Over the Hillbillies gestig. Onder hul treffers was “Tomorrow’s dreams”, “Sweet summer love” en “Carry on”. Intussen het Lance weer ’n album saam met Min Shaw, met die gepaste titel Weer bymekaar, opgeneem. Hierdie album het “Swerwerslied”, die temaliedjie uit die televisiereeks Die meisie van Avignon bevat, asook ander groot treffers soos “Ek verlang nog altyd”, “Daar’s niks soos ware liefde”, “Sproetjies”, “Kinders van die wind” en “Gee haar ’n roos”. Die feit dat hulle “Daar’s niks soos ware liefde” ingesluit het, was eintlik ironies; toe dié liedjie vrygestel is, wou Lance James dit blykbaar opneem, maar Groep 2 het dit gedoen en dit het die grootste treffer van hul loopbaan geword.

Teen die einde van die 1990’s het Lance saam met Jurie Els begin werk, en hulle het die treffers “Vriendskap” en “Ek onthou nog daai plate”, waarin hulle hulde aan plaaslike kunstenaars van weleer gebring het, saam opgeneem. Lance het ook nog ’n album saam met Barbara Ray, getiteld Somewhere between, opgeneem. Daarby het hy al hoe meer Christelike albums opgeneem, onder meer One day at a time, Nader my God by U en It is no secret. Hy het egter steeds sukses met Afrikaanse musiek behaal. In 2006 het Lance die album 50 goue jare ter viering van sy halfeeu in die vermaaklikheidsbedryf vrygestel. Hierdie album het nuwe opnames van sy treffers soos “Ahoi Madagaskar ahoi”, “Vicki” en “Dankie”, asook country-gunstelinge soos “I walk the line”, “Distant drums”, “Adios amigo” en “He stopped loving her today” bevat. Hy het egter nie opgehou om splinternuwe liedjies op te neem nie; sy album For tears to come het die treffer “Oupa se wals” bevat. Met die herdenking van sy sestigste jaar in die vermaaklikheidsbedryf het hy die album 60 goue jare vrygestel. Rudi Muller en Kobie Koen het met ’n wenner vorendag gekom toe hulle “Lied van hoop” geskryf het. Dit het selfs die trefferslyste van ’n paar radiostasies gehaal; ‘n ui’sonderlike prestasie vir ’n kunstenaar van byna tagtig jaar.

Lance se bynaam in die musiekbedryf is “Big Daddy”; dit het niks met hoogmoed te doen nie, maar eerder met die feit dat hy baie goed na sy kollegas in die musiekbedryf omsien. Dit lyk ook asof daar nog geen sprake is dat hy gaan uittree nie en ’n mens hoop dat hy Suid-Afrikaanse gehore nog lank sal vermaak.

The post Lance James vier tagtig goue jare appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico