Louis Trichardt
April 9, 2017
Kommandant Louw Wepener (1812-1865)
April 9, 2017

(Geskryf deur Elize van Vuuren, Dirkie Uys Voortrekkerkommando, Krugersdorp-Wes, soos verskyn in Historia Junior, Februarie 1971)

Die sjarmante lady Anne Barnard, eggenote van die destydse Koloniale sekretaris Andrew Barnard, het gedurende haar kort verblyf in die Kasteel (1797-1802), ’n onmiskenbare stempel op die sosiale lewe aan die Kaap afgedruk.

Lady Anne was ’n dame wie se intellek en karakter ’n goeie indruk op ’n mens gemaak het. Sy was die oudste kind van James, vyfde graaf van Balvarres, en sy vrou Anne Dalrymple, dogter van Sir Robert Dalrymple. Sy is in Desember 1750 te Balvarres in Skotland gebore. Haar opvoeding was liberaal vir daardie tyd, en as jong meisie het sy en haar suster vrylik in die hoë kringe van Londen en Edinburg beweeg waar hulle ook van die lewendigste en populêrste was.

Lady Anne is in 1793 met Andrew Barnard, seun van die Biskop van Lumerick getroud. Sy was toe drie-en-veertig jaar oud en haar man sowat twaalf jaar jonger.

Hierdie vrou het saam met die eerste Engelse goewerneur, Lord Macartney, in die Kaap aangekom. Aangesien mev. Macartney nie oorgekom het nie, het al die pligte en gesellighede op lady Anne afgekom. Daarom het sy haar woonplek so ingerig, en het sy ook as gasvrou opgetree by die funksies wat gereël is.

Sy het gereeld aan Henry Dundas en haar suster geskryf. Daaruit kan ’n mens aflei dat daar ’n lewenslange vriendskap tussen hulle was. Sy gee in haar briewe ’n duidelike beskrywing van die  land self gedurende die jare toe die Britse regering vir die eerste keer die bewind hier aanvaar het, asook van haar liefde vir die Kaap, haar vrymoedigheid, geaardheid, skerp humorsin en haar romantiese uitsig op die lewe. Hierdie reeks taferele van die lewe aan die Kaap wat lady Anne vir Henry Dundas, die kabinetsminister, geskilder het, verryk ons kennis van daardie jare heelwat en gee ons ook ’n duidelike beeld van die eeu self.

Aangesien Lady Anne ’n lewendige geaardheid gehad het, en daarby weetgierig en reislustig was, het sy nie alleen gou met die gesiene Kaapse mense in aanraking gekom nie, maar spoedig ook kennis gemaak met die platteland. Daarom dat dit die moeite werd is om haar briewe te lees. Daarin sien ons hoe ons vrouens gedurende die eerste Britse besetting geleef het. Lady Anne het dikwels gasvryheid in die huise van die burgers ontvang, en dan beskryf sy die huise van die Stellenbossers met die hoë voorportale en die vierkantige vertrekke aan weerskante.

In die binneland was sy met eweveel gasvryheid ontvang, maar hier lewe die boere eenvoudiger. Tog woon die rykste veeboere ook in mooi geboude huise. Lady Anne gee in een van haar briewe ’n baie mooi beskrywing van die huis van Jacob van Reenen, een van Swellendam se rykste boere.

Lady Anne het baie meer met die mense van die Kaap omgegaan, as met diegene wat in die binneland gewoon het. In die onmiddellike omgewing van Kaapstad het sy heelwat rondgekuier, bv. by “Meerlust” wat destyds aan die Myburgs behoort het. Sy het Stellenbosch ook besoek en vertel in haar briewe van die pragtige dorp met sy mooi Drosdy.

Lady Anne was ’n groot liefhebber van die natuur. Sy skrywe van die blou hortensias en silwerbome en die eike. Sy was bo-op Tafelberg en vertel van die berg en die see. Lord Macartney het haar ’n regeringshuis geskenk, wat “Paridise” genoem is. Dit het gestaan op ’n heuwel agter die teenwoordige “Fernwood” op Nuweland. As die lewe te druk word, het sy en haar man na “Paridise” gegaan om sodoende die rustigheid te kry waarna hulle gesmag het.

As verteenwoordiger van die era van die goewerneur het Lady Anne die politieke omstandighede nogal interessant gevind. In Kaapstad was dit die “Patriotte” wat vyandig gesind was teenoor die huis van Oranje en hulle geskaar het aan die kant van die Republikeine. Baie van die Kapenaars het die Engelse gehaat, en Lady Anne het tog so lekker gekry wanneer sy jong meisies gevind het wat van die Engelse offisiere gehou het, ten spyte van hul vaders se afkoms. Bekende besoekers het in Kaapstad aangekom, bv. Admiraal Haverines was op een tyd haar gas, en hy skryf dat die vrouens aan die Kaap baie geestiger en lewendiger as die mans is, wat heeldag net op die stoep sit of om die huis dwaal.

Daar was wel ’n militêre kliek wat glad nie van die Barnards gehou het nie, en toe Lord Macartney terug na Engeland is, en sy plaasvervanger Sir George Young hier aangekom het, het hierdie kliek pogings aangewend om van Lady Anne en haar man ontslae te raak. Toe neem Dundas sy intrek in die Kasteel en moes Lady Anne en haar man verhuis na “The Vineyard”.

Toe die Kaap kragtens die vrede van Amiens, in 1802 aan Holland teruggegee is, het sy vertrek en ’n paar maande later het haar man haar gevolg. Andrew Barnard het gedurende die tweede Britse bewind na Suid-Afrika teruggekeer waar hy kort daarna oorlede is. Lady Anne het egter in Engeland gebly.

In die offisiële dokumente vind ons maar min omtrent die verblyf van hierdie vrou aan die Kaap. Haar briewe en dagboek bewys trouens haar begeerte om haar land in Suid-Afrika te dien, asook die genoeë wat sy geskep het om geliefd te wees en haar medemens lief te hê. Die vermaaklikhede wat sy aan die koloniste hier gebied het, was aantreklik, heeltemal onskuldig en onberispelik. Haar uitgesprokenheid mog wel ergernis verwek het, maar haar beginselvastheid en humorsin het getuig van  ’n beskaafde, aangename vrou uit wie se persoonlikheid ’n merkwaardige bekoorlikheid gestraal het.

Lady Anne Barnard is oorlede in 1825. Sy het haar bes gedoen om die belangrikste persone in die Britse bewind te versoen. Haar indrukke van die land het bewaar gebly in ’n aantal briewe waarvan party gepubliseer is in South Africa a century ago.