“Laat ’t ons toch ernst wezen!”

De Goede Hoop
January 23, 2015
Oorweldigende steun vir Afrikaans
January 23, 2015

Die man wat in Transvaal met die Afrikaanse beweging begin het, was ’n gebore Transvaler, Gustav Preller. Hy het die voordeel gehad van Hollands-Afrikaanse onderwys in Transvaal. Gelukkig was sy redakteur, FV Engelenburg, voor-stander van Afrikaans, al het hy self Nederlands bly gebruik.

Die gebeurtenis wat tot ’n taalbeweging gelei het, is ’n toespraak op 6 Maart 1905 deur “Onze Jan” Hofmeyr voor ’n studentegehoor in Stellenbosch. “Is ’t ons Ernst?” lui die titel: Is dit die Afrikaners erns met die handhawing van hul taal? Hy het gespot met die “Wendebaails” en die “Maaibugs”, en die Stellenbosse meisieskool, Bloemhof Seminary, gepak. Daar moes elke leerling nog in haar boeteboekie die oortreding aanteken as sy die minderwaardige “Dutch” in plaas van Engels gebruik. Binne ’n paar dae ná sy toespraak het die “Dutch marks” tot die verlede behoort!

Maar Hofmeyr het veronderstel dat Nederlands die Afrikaanstaliges se taal was, en daarop het Preller gereageer. Hy het met baie taalvriende gekorrespondeer, en ook, soos VE d’Assonville vasgestel het, op 30 Maart 1905 aan dominee SJ du Toit geskryf. Preller noem hom die “gelittekende veteraan” in die stryd, en vra hom om alle moontlike literatuur aan hom te stuur. “Help my om die stryd wat reeds deur u en ons onvergeetlike oud-staatsekretaris Reitz afgelê is, voort te sit.” Hy het Du Toit se verlof gevra, en gekry, om van dié se 71 stellings gebruik te maak. Du Toit het hom op 4 April geantwoord; “die taalkwessie is vir my ’n lewenskwessie”. In Preller se reeks artikels wat van 19 April tot 14 Junie 1905 in De Volksstem verskyn onder die opskrif “Laat ’t ons toch ernst wezen!” is Du Toit se invloed duidelik.

Preller het sy standpunt in drie stellings saamgevat:

“1. Die taal wat in ’n land leef, wat in die ganse volk wortel, het in daardie land en onder daardie volk die meeste kans op voortbestaan, en laat hom nie uitroei nie anders as met die uitroeiing van die volk waarin dit leef. Die geskrewe taal van iedere nasie reël hom onwillekeurig, of behoort hom te reël, na die gesproke taal van die nasie; anders loop die twee naderhand so ver uit mekaar dat hulle feitlik afsonderlike tale sou wees.

“2. Afrikaans wortel diep en leef gesond in die gehele Afrikanernasie. Geen ander taal doen dit nie. Ons skryftaal verskil sover van ons spreektaal dat die geskrewene vir die grootste gros van Afrikaners ’n vreemde taal is wat hulle self nagenoeg nooit skryf nie.

“3. Daarom het Afrikaans in Suid-Afrika die grootste en beste kans op voortbestaan. Daarom behoort ons skryftaal veel nader by Afrikaans te kom as waar hy hom tans bevind” (Preller het dit in Nederlands gepubliseer.)

Preller het gematigdheid en redelikheid bepleit: As oorgangsmaatreël, tot Afrikaans algemeen geskryf word, is sy gedragslyn: “Afrikaans schrijven en spreken, Hollands leren, albei lezen.” Vir die Patriot-uitgangspunt, “skryf soos jy praat”, het hy nie kans gesien nie, en hy het die vereenvoudigde Nederlandse spelling aanvaar.