Laat jou belasting vir Afrikaans werk!

Taalvyltjie: Afkappingstekens
Junie 13, 2018
Antjie Krog vereer met gesogte Gouden Ganzenveer-prys
Junie 13, 2018

Gee aan die keiser wat die keiser toekom …

Maar laat jou belasting vir ‘n slag vir Afrikaans werk!

Dit is moontlik met ’n Artikel 18A- belastingvrystellingssertifikaat vir individue en organisasies wat die FAK se Internasionale Afrikaans-Ekspo finansieel ondersteun.  

Die Internasionale Afrikaans-Ekspo is die FAK se jeugontwikkelingsprojek waarmee leerders en studente se kreatiewe hantering van Afrikaans met skryf en kuns bevorder word. 

Vanjaar is die tema: ONS ERFENIS. Die FAK vier saam met ons jeug die erfenis van ons digters, skrywers, monumente, historiese geboue, kunswerke, literatuur, musiek en koserfenis.

Die FAK moedig alle graad 6- tot 12-leerders en studente, Afrikaanse huistaalsprekers of sprekers wat Afrikaans as nie-moedertaal het, in enige land, om hulle erfenis in Afrikaans te vier d.m.v. ’n dagboekinskrywing, ’n resensie, ’n opstel, ’n kortverhaal, poësie, fotografie en skilderkuns.

Jaarliks neem ongeveer tweeduisend leerlinge van 125 skole deel aan die Afrikaans-Ekspo.

Die Afrikaanse-Ekspo vlieg reeds internasionaal met deelname uit Namibië, België, Australië en Nieu-Seeland, Kanada en die VSA.

Elke deelnemer ontvang ’n sertifikaat. Wenners ontvang kontantpryse en wenskole ’n kontantbedrag vir die bevordering van Afrikaans in hulle gemeenskap. Wenskole sal volgens ’n formule bepaal word. Die volgende sal bv. in ag geneem word: hoeveelheid deelnemers, hoeveelheid wenners en deelname aan verskeidenheid kategorieë.

Deur jou belasting vir ’n slag Afrikaans te laat praat, help jy nie net om ons Afrikaanse erfenis onder ons jeug te bevorder nie, maar gee die keiser jou boonop belastingafslag daarvoor!

Kontak [email protected] vir verdere navrae hoe om jou Artikel 18A-belastingvrystellingssertifikaat te kry.

The post Laat jou belasting vir Afrikaans werk! appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico

Comments are closed.