Kultuurerfenis op Noblesfontein

Dr. F.V. Engelenburg (1863-1938)
September 17, 2018
Krag in die naam van Jesus
September 18, 2018

’n Kosbare argitektoniese en historiese skat uit die verlede is die klein plaashuisie op Noblesfontein in Victoria-Wes se distrik. Hierdie eenvoudige, reghoekige huisie, met gewels aan beide kante, dik mure en klip fondament, het oorspronklik ’n grasdak gehad en is ongeveer in 1837 gebou. Dit toon dieselfde patroon van konstruksie as die huise van die vroeë nedersetters in die Vrystaat en Oos Kaapland. Die boustyl is afkomstig van die Kaaps-Hollandse strooidakhuise met gewels, maar op ’n uiters beskeie en nederige wyse. Na 140 jaar is hierdie huisie ongeskonde, behalwe vir ’n verandering in 1905 toe die grasdak met sinkplaat vervang is. Van historiese belang is dat C.J. Langenhoven, Afrikaanse taalstryder, skrywer, politikus en advokaat se ‘Vroutjie’ in hierdie huis gebore is.

Foto: ’n Foto van Langenhoven en ‘Vroutjie’ by geleentheid van hul dogter Engela se huwelik. Mev. Langenhoven is op Noblesfontein gebore.

In 1841 het Jacobus Wouter Hugo die plaas Noblesfontein van ’n weduwee, Sara Johanna Bronkhorst, gekoop en hy en sy vrou, Magdalena Maria (gebore Roos), het hulle daar gevestig. Jacobus Hugo se vrou, Magdalena, was as 13-jarige dogtertjie al oorblywende van ’n trekkersgroep wat in Natal vermoor is. Sy is later na familie in Beaufort-Wes gestuur en op 16 jaar is sy met Hugo getroud. Hulle het 15 kinders gehad. Sy was bekend as ’n bekwame verpleegster en vroedvrou en vrouens het van oral in die Karoo na Noblesfontein vir die geboorte van hul babas gekom. Jacobus en Magdalena se vierde kind, Cornelius Johannes, was getroud met Anna Elizabeth van Schalkwyk en hulle het op die plaas Skietkuil, naby Noblesfontein geboer. Vir die bevalling van haar baba het Anna Hugo na haar skoonmoeder op Noblesfontein gegaan en op 12 Mei 1863 is ’n dogtertjie, Magdalena Maria Hugo, gebore. Hierdie dogtertjie was later bekend as Langenhoven se ‘Vroutjie’. Sy is op 11 Januarie 1882 in Murraysburg met Anthonie Georg van Velden, ’n afslaer van Ladismith, getroud en vier kinders is uit hierdie huwelik gebore. Na Van Velden se dood is sy op 11 Januarie 1897 in Ladismith met Langenhoven getroud.

Die argitektuur van die huisie vertolk die kenmerkende karaktertrekke van ’n ꓕ-plattegrond. Die eerste vertrek, wat bereik word deur ’n geelhout-staldeur, bestaan uit ’n voorkamer met geelhoutvloer en -plafon. Aan weerskante van die voorkamer is twee slaapkamers, albei met geelhoutvloere en -deure, maar die linkerplafon is van geelhout en dié aan die regterkant van vloerplanke wat met populierbalke vasgeheg is. Uit die voorkamer gaan ’n deur na die kombuis met ’n grondvloer, rietsolder en geelhoutagterdeur, die bekende bo- en onderdeur of staldeur. Langs die kombuis is nog ’n klein vertrekkie met sy eie buitedeur wat in ongeveer 1841 aangebou is en wat as ’n kliniek of hospitaaltjie vir bevallings gedien het. Bykans 500 babas is in hierdie kliniek gebore. Nadat die groot nuwe huis ongeveer 1911 op Noblesfontein gebou is, is die voorkamer van die klein huisie as skoolkamer vir die klompie kinders op die plaas gebruik.

Foto: Grondplan van die plaashuis

Die kunstige rietsolders in sowel die kombuis as die kliniek het ’n sagte glans van ongekleurde vernis en is pragtig bewaar. Die rietsolders is gemaak deur riete (fluitjies of spaansriet) vas teen mekaar te lê oor die ronde balke en hul punte met spykers tussen die balke vas te heg. In die helfte van elke vak is een lang riet parallel met die balke gelê en aan die rietsolder met matjiestou vasgeheg. Bo-op die rietsolder is ’n laag matjiesgoed gelê om te verhoed dat stof deursyfer. Hierop is ’n laag gebreide klei gelê wat gedien het as beskerming teen brand. Dit staan as die brandsolder bekend. Die ruimte tussen die brank-kleilaag en die grasdak is as stoorplek vir kosvoorrade gebruik. Die spasie tussen die grasdak en die geelhoutplafonne van die voorste gedeelte van die huis (voorkamer en slaapkamers) is ook met ’n laag slap klei gedek om te verhoed dat die huis afbrand ingeval daar brand in die grasdak ontstaan. Hierdie brandsolder word deur ’n klein deurtjie in die gewel aan die sykant van die huis bereik.

Die onderste gedeelte van die mure is van klip en die res van klei, gepleister met ’n mengsel van strooi, klei en beesmis. Die mure is baie dik, 0.65 cm, en het gesorg dat die vertrekke in die somer koel en in die winter warm was.

Die vensters van die voorkamer en slaapkamers is klein skuiframe met ruite van 17.5 cm x 22.5 cm (die ou Kaapse grootte), en gegroepeer met drie ruite dwars en twee ruite vertikaal om ’n dubbele vierkant te vorm. Daar was geen vensters in die kombuis of in die kliniek nie, want die boonste gedeelte van die stal-buitedeur was gewoonlik oop om lig in te laat.

Foto: Vooraansig van die huis

In 1905 is die grasdak deur ’n bou-aannemer, Hans Raath van Victoria-Wes, afgegooi en met ’n riffelsinkplaatdak vervang is. Hierdeur het ’n tragedie die familie getref. Die kinders het heerlik skelm in die weggooistrooi gespeel hoewel hulle vermaan was om dit nie te doen nie aangesien daar oop, geroeste spykers in die balke was wat tussen die strooi gelê het. Een van die seuntjies, 10-jarige Hugo Roux, het in een van die spykers getrap en was te bang om vir sy ma te sê. Die voet het begin pyn en opswel en teen die tyd dat sy ma van die ongeluk te hore kom, was dit te laat want hy het alreeds bloedvergifting gehad. Hy het klem in die kaak gekry en is dood. Sy graffie is in die kerkhof op Noblesfontein.

Die huidige eienaar van Noblesfontein is François (Mannetjies) Roux, die rugby-Springbok van die jare 1960-1970. Dit is ’n familie-erfplaas. In 1897 het Jacob Stephanus Roux Noblesfontein van sy skoonvader, J.P. Hugo gekoop, en sy seun, Pieter François (Mannetjies se vader), het dit van hom geërf. Na die skielike heengaan van sy vader in 1941 het Mannetjies Noblesfontein geërf toe hy slegs twee jaar oud was. Dit was eers in 1965 dat hy voltyds tot die boerdery toegetree het.

Foto: Die agter- en sy-aansig van die huis

Hierdie unieke kultuurerfenis, die onbelemmerde klein eenvoudige klei-huisie van sy voorvaders, word sorgvuldig deur Mannetjies Roux en sy vrou Charlotte bewaar en hulle is van voorneme om dit in ’n gastehuis te omskep.

 

Bron: Immelman, Elbie. 1978. Lantern, April: 84-86.