Krygsgevangenekampe

Die vroue van die leiers
January 22, 2015
Die ridderlike De la Rey
January 22, 2015

Sowat 27 000 Boere (volgens sommige bronne egter tot 32 000) was tydens die oorlog in krygsgevangene- en ander kampe. Daar was drie kategorieë. Die eerste was burgers van die Vrystaat en Transvaal wat onder die wapen gevang is, die tweede “undesirables” of mense van die Kaapkolonie wat met die republieke gesimpatiseer het, en die derde was burgers en hul gesinne wat voor die aankomende Britse magte oor die grens na Mosambiek getrek het en later in Portugal geïnterneer is. Krygsgevangenes is aangehou by Groenpunt en Simonstad in Kaapstad, en party in tronke in Natal en die Kaapkolonie – baie “undesirables” in Port Alfred. Baie is gestuur na Bermuda naby Noord-Amerika, St. Helena naby die weskus van Afrika, en kampe in Indië en Ceylon (Sri Lanka).

Talle gevangenes het op pad na die kampe of uit die kampe self probeer ontsnap. ’n Paar het van treine weggekom. Een ontsnapping het die aandag van die wêreld getrek. Vyf gevangenes het van ’n Britse skip afgespring en is deur ’n Russiese skip opgepik waarna hulle ná vele omswerwinge weer in Suid-Afrika beland het. Die boeiende verhaal word vertel in Die vyf swemmers deur CJ Barnard (1988). JL de Villiers vertel in Hoe ek ontsnap het sy verhaal. De Villiers was oortuig hy kan as Indiër aangesien word. Hy het homself swart gesmeer en, geklee soos ’n Indiër, van die Trichino-polykamp weggekom.

In die kampe self was verveling ’n groot probleem. Daar was gereeld kerkdienste; op Bermuda is ’n oplaag Gesangeboeke egter verbied omdat Psalm 68: “De Heer zal opstaan tot den strijd” die sensor laat skrik het! Kulturele en ander aktiwiteite is aangepak, sport beoefen, handel gedryf en artikels gemaak. Baie artikels is elders as oorlogsaandenkings verkoop. Die artikels, soms uiters kunstig, is gemaak van byna elke denkbare voorwerp: goue, silwer- en kopermuntstukke, kondensmelk- en boeliebiefblikkies, bene, horings en hout.

Op die skoolbanke het bebaarde ou burgers en kommandante saam met die jong seuns en jongkêrels gesit. Onder die vakke wat onderrig is, was boekhou, rekenkunde, wiskunde en tale. Die meer geleerde krygsgevangenes het as leer-meesters opgetree. Onder die mense wie se opleiding in die kampe begin het, was kommandant CTM Wilcocks, later Administrateur van die Vrystaat, die letterkundige EC Pienaar en ’n aantal predikante, dokters en ander later toonaangewende mense.

Verskeie boeke oor die lewe van die krygsgevangenes is gepubliseer. Hendrik de Graaf, ’n gebore Nederlander, wat op 21 Oktober 1899 by die Slag van Elandslaagte gevang is, was in die Deadwoodkamp op St. Helena. Hy het ’n dagboek gehou wat ná sy dood deur PJ Nienaber uitgegee is onder die titel Boere op St. Helena: die oorlogsdagboek van H de Graaf (1950). De Graaf maak melding van twee insidente op St. Helena waarin krygsgevangenes doodgeskiet is. Een van die slagoffers was die negentienjarige seun van dominee MJ Goddefroy, redakteur van die kerkblad van die Hervormde Kerk, De Hervormer. Dit het van September 1899 tot Mei 1900 verskyn en is in 1904 hervat.