Kruger-wildtuin en ander ontwikkelings

Verwoes, verwoes, verwoes
January 22, 2015
Nuwe tydskrifte en koerante
January 22, 2015

Die emansipasie van Afrikaans was een van die kenmerke van die eerste Afrikanerbewind tussen 1924 en 1933 onder generaal Hertzog. Daarby was dit tot in 1929 ’n tyd van ’n ongekende opbloei van die ekonomiese lewe en landbou. Daar was ook allerlei ander aktiwiteite.

Die grondslag vir een van die ontwikkelings is in die ou Transvaalse republiek gelê. Soos reeds vermeld, het dié regering in 1898 ’n wildtuin in die gebied tussen die Sabie- en Krokodilrivier in die distrik Lydenburg geproklameer. Weens die Anglo-Boereoorlog kon daaraan nie veel gedoen word nie, maar ná die oorlog het die nuwe Britse bewind die Sabie-wildtuin opnuut geproklameer. ’n Bewaarder, majoor (later kolonel) J Stevenson-Hamilton is aangestel om toesig te hou en te sorg dat daar nie gejag word nie. In 1903 is die beskermde gebied uitgebrei sodat daar feitlik twee wildtuine in Oos-Transvaal was – die een noord en die ander suid. Hamilton het gestreef na die uitbreiding van die beskermde gebied en gehoop dat dit toeriste kan lok. In 1926 het die Minister van Lande, meneer Piet Grobler, die Wet op Nasionale Parke laat aanneem waardeur die twee wildtuine gekonsolideer is tot een reservaat, tereg die (Paul) Kruger-wildtuin genoem.

’n Tweede ontwikkeling het die selfstandigheid van Suid-Afrika geraak. Op inisiatief van generaal Hertzog het die Britse Rykskonferensie in Oktober 1926 verklaar dat Engeland en sy dominiums “outonome gemeenskappe is, gelyk in status, op generlei wyse die een aan die ander ondergeskik in enige opsig van hul binne- of buitelandse sake nie, hoewel hulle verenig is deur ’n gemeenskaplike trou aan die Kroon en vryelik geassosieer as lede van die Britse Gemenebes van Nasies.” Die regering het ’n eie Departement van Buitelandse Sake geskep en diplomatieke betrekkinge met ander lande begin aanknoop.

As sinnebeeld van die land se onafhanklikheid het Suid-Afrika ook ’n nuwe vlag gekry. Meningsverskille was so groot dat hier en daar met burgeroorlog gedreig is. Die kompromis was ’n driekleur van oranje, wit en blou, met die Union Jack en die vlae van die twee republieke in klein op die wit baan. Die Britse vlag sou nog by bepaalde amptelike geleenthede gehys word. Op 31 Mei 1928 is die nuwe vlag in elke stad en dorp feestelik gehys.

In Suidwes het die Hertzog-regering betrekkings met die Duitsers probeer verbeter, en bepaal dat Duitse onderdane kon kies of hul Britse onderdane wou word. Duitse kinders kon onderrig deur medium van Duits ontvang en dié taal sou in die wetgewende liggaam gebruik kon word. Verder sou Afrikaans en Engels die offisiële tale wees. Tussen Afrikaner en Duitser het die spanning gebly. In die jare dertig het Duitse koerante die Duitsers in Suidwes gewaarsku teen “verbastering” met Afrikaners! In 1928 het die Unie-regering die afstammelinge van die Dorsland-trekkers uit Angola laat terugbring en in Suidwes gevestig. Hulle het langer as ’n halfeeu op die hoogvlakte van Humpata gewoon, maar kon geen eiendomsbewyse vir hul plase van die Portugese regering kry nie en het gevrees dat hul taal en godsdiens gevaar loop om te verdwyn. Vierhonderd gesinne is teruggebring.