Kruger verlaat Transvaal

Die “Kruger-miljoene”
January 22, 2015
Nederlanders en Vlaminge steun die boere
January 22, 2015

President Kruger was sedert sy vertrek uit Pretoria saam met sy huishouding by Waterval-Onder, omdat Machadodorp te koud vir hom was. Die regering het op Machadodorp gebly en staatsekretaris FW Reitz het elke dag per trein heen en weer gereis om met Kruger te beraadslaag. Kruger was baie neerslagtig en sy pynlike oogaandoening (chroniese ontsteking van die bindvliese) het daartoe bygedra.

President Steyn, wat met ’n lang omweg na Machadodorp gegaan het, het op  25 Augustus saam met lede van die twee regerings samesprekings met president Kruger gevoer. Uit die verte kon die presidente die gebulder van die kanonne hoor – die laaste groot stellinggeveg van die oorlog, die Slag van Dalmanutha, was aan die gang. Hier het generaal Botha weer getoon dat hy teen die beste Britse generaals opgewasse was. Roberts kon net weens sy groot oormag wen. Die Johannesburgse polisie was in die sentrum van die kanonvuur en het so heldhaftig weerstand gebied dat die Britte swaar verliese gely het. Die meeste van die polisiemanne het daar ’n heldedood gesterf.

Die burgers kon die groot oormag nie stuit nie, en generaal Botha het president Kruger telefonies ingelig. Dit is toe dat Steyn die gedagte van die voortsetting van die oorlog deur guerillametodes geopper het. Op 28 Augustus is die regeringsetel na Nelspruit verplaas, en ook Kruger en Steyn is daarheen. Op Waterval-Boven het die burgers van Kruger afskeid geneem. Hy het hulle toegespreek en baie persoonlik gegroet. Sy rol in Transvaal was byna uitgespeel. Nog een formele taak het oorgebly. In die mening dat Transvaal ná die verlore Slag van Dalmanutha alle verdere weerstand sal staak, het Roberts op 1 September 1900 die republiek as Britse gebied geproklameer. Twee dae later was daar ’n teenproklamasie van Kruger dat die volk “’n vrye, onafhanklike volk” is en bly en weier om hom aan die Britse gesag te onderwerp.

Die twee presidente en hul regerings het besluit dat hulle die oorlog gaan voortsit deur die totale reorganisasie van die kommando’s in kleiner eenhede, die aanwending van guerillataktiek en die gedeeltelike verplasing van die oorlog na die Kaapkolonie om die druk op die republieke te verlig. Ook het hulle besluit dat Kruger weens sy hoë ouderdom nie by die burgers kon bly nie – enersyds om te verhoed dat hy in die hande van die vyand val en andersyds om deur sy teenwoordigheid in die buiteland die Boeresaak te bevorder. In sy plek sou die vise-president, Schalk Burger, as regeringshoof optree.

Op Hectorspruit het Steyn en Kruger van mekaar afskeid geneem en op 11 September het Kruger Komatipoort oorgesteek op pad na Lourenço Marques. Danksy Britse druk op Portugal was Kruger feitlik ’n gevangene in die woning van die goewerneur. Honderde burgers, wat na Lourenço Marques uitgewyk het, kon hom op 10 Oktober op sy 75ste verjaarsdag net op ’n afstand sien en groet. Die jong koningin Wilhelmina van Nederland het die gedagte gekry om ’n oorlogskip te stuur om Kruger na Europa te vervoer. Die kruiser Gelderland was op pad na Oos-Indië, en by sy aankoms in Aden was daar ’n bevel om na Lourenço Marques te vaar. Daar het Kruger op 19 Oktober aan boord gegaan.