Kronendal, Houtbaai

Rhodes se huisie, Muizenberg
December 13, 2017
Blokhuis, Battery en Geskut, Houtbaai
December 13, 2017

Reeds gedurende die stigtingsjaar van die Kaap het Jan van Riebeeck sy houtkappers na Houtbaai gestuur om timmerhout te soek en in Julie 1653 het hy persoonlik die bosse in “’t Houtbayken” gaan ondersoek. In sy Dagverhaal skryf hy dan ook: “… daer stonden de schoonste bosschagies van de werelt ende in deselve soo lange, dick, reghte houten als men souden mogen wenschen off begeeren”. Omdat die terrein na die baai egter “soo steenich, heuvelich, berghachtigh ende mourassigh” was, is aanvanklik daarvan afgesien om hout van hier na die Fort te vervoer en dit was eers in 1693 dat die “wagenpad na ’t bos” vanaf Kirstenbosch oor Constantianek na Houtbaai verleng is.

Reeds in 1681, egter, het ene Willem Basson hom in hierdie skilderagtige vallei op Ruijgte Plaats gevestig, wat deur die Kompanjie aan hom toegeken is. Op 12 Januarie 1713 is ’n verdere 19 hektaar grensende aan sy grond aan hom geskenk om dit “te bezaaijen, beplanten, bepooten en betimmeren”. Dit is hierdie stuk grond wat weldra as Kronendal bekend sou staan en waarop uiteindelik een van die fraaiste Kaaps-Hollandse huise opgerig sou word.

Basson is nouliks ses maande na die skenking oorlede en in die daaropvolgende eeu het die plaas dikwels van eienaar verwissel. Interessant is dit egter dat albei plase vanaf 1747 vir tien jaar die eiendom was van ds. Franciscus le Sueur, skoonseun van goewerneur Hendrik Swellengrebel. Dit was egter eers teen die einde van die eeu dat die plaas enigsins die karakter van ’n familie-eiendom gekry het en dat dit behoorlik ontwikkel is. In 1777 koop Jacobus Lourens Bierman die twee plase vir 10 000 guldens en nouliks sewe jaar daarna verkoop hy dit aan sy seun Jan vir 40 000 guldens, en toe laasgenoemde se weduwee tien jaar later met Johannes van Helsdingen trou, staan die waarde reeds op 50 000 guldens. Hoewel die abnormale prysstyging gedeeltelik aan die waardevermindering van geld toegeskryf kan word en hoewel die datum 1800 op die voorgewel pryk, skyn dit tog asof die Biermans verantwoordelik was vir die bou van die huis.

Gedurende die 19de en die 20ste eeue het die plaas en huis weer eens dikwels van eienaar verwissel en ’n tyd gelede was dit in gevaar om deur die verbreding van die pad geskend te word. Deur proklamasie is dit gered.

(Geproklameer 1960)

 

Christopher Webb Smith • Kronendal 1838 • Parlementsbiblioteek, Kaapstad
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 54.

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 53-54.