Krisis oor ’n rewolwerskoot

Aanhitsers van ’n oorlog
January 22, 2015
’n Edele besluit
January 22, 2015

Terwyl generaal William Butler in 1898 as hoë kommissaris waargeneem het, het hy baie gedoen om die South African League met sy buitensporige eise en luidrugtige propaganda teen te werk. Die uitlanders se veldtog het ’n hoogtepunt bereik ná ’n insident rondom middernag 18 op 19 Desember 1898. Ene Thomas Edgar, ’n Britse burger, is ietwat beskonke na sy huis in Johannesburg. Op pad het hy woorde gekry met drie mans, en een van hulle met die vuis geslaan. Die ander twee het om hulp geroep, en twee konstabels het opgedaag wat Edgar agtervolg het. Hy het die deur van sy huis gesluit, en die konstabels moes die deur oopforseer. Edgar het konstabel S Jones toe met ’n stuk yster oor die kop geslaan, en hy het Edgar uit noodweer geskiet. Hy is dood, en die man wat hy in die rusie aangeval het, ook. Die hof het Jones se verdediging aanvaar en hy is vrygespreek.

Dit was ’n doodgewone rusie, maar die uitlanders het dit gebruik om ’n politieke krisis aan te blaas. Op 24 Desember is ’n versoekskrif aan die Koningin op ’n monstervergadering voorgelees. Butler het geweier om dit na haar te stuur aangesien die inhoud bekend gemaak is. Hy het gemeen dat dit ’n gewone dronkmansbakleiery was. Toe Milner in Februarie 1899 terugkeer, was hy vererg oor Butler se houding en het die uitlanders aangemoedig om hul klagtes rugbaar te maak. Op 28 Maart 1899 het hy ’n petisie van 21 684 uitlanders na Chamberlain gestuur; 23 000 het egter ’n teenpetisie onderteken om tevredenheid met Transvaal te betuig.

Intussen het Kaapse leiers soos Hofmeyr, John X Merriman en hoofregter sir JH de Villiers by Kruger daarop aangedring om toegeefliker te wees oor die stemreg, wat die vernaamste voorwendsel vir die agitasie was. Kruger het op  17 Maart ingewillig om die stemreg ná nege jaar aan uitlanders toe te ken. Dit het niks aan die agitasie verander nie.

Van 31 Mei tot 5 Junie 1899 is ’n konferensie tussen Milner en Kruger in Bloemfontein gehou. Milner het stemreg ná vyf jaar geëis, Kruger het aangedring op sewe. Milner het volhard, en Kruger het uiteindelik uitgeroep: “Dis my land wat jy wil hê!” Milner het aan Chamberlain geskryf dat hoewel oorlog onaangenaam sou wees, duisende mense daarna na Transvaal sou stroom. Dan sou die politieke magsbalans “turned against the Boer for ever”.

So erg het Kruger hom die lot van sy land en volk aangetrek dat hy op die terugreis trane gestort het. Steyn het besef dat as Transvaal ondergaan, ook die Vrystaat sou verdwyn. Hy was vasbeslote om getrou te bly aan die bondgenootskap tussen die twee state. Milner was gretig om die oorlog gou te laat begin. Hy het die lot van die uitlanders voorgehou as betreurenswaardig onder “die drukkende en verrotte bestuur van ‘n koppige en agterlike ou Boerepresident met sy kliek”. Baie het hom geglo en begin meen dis Engeland se heilige plig om ’n oorlog te begin. Selfs party Kaapse en republikeinse Afrikaners het gedink dat Kruger “darem maar” “’n ongemanierde en buffelagtige ou hardekop” is wat “’n verkeerde koers ingeslaan het”, vertel MER.