Speeltyd
February 5, 2015
Volksfeeste
February 5, 2015

Soos alle kinders was die Trekkerkinders lief vir lekker kos en veral vir soetgoed. Daar was nie winkels of supermarkte waar Ma gou suiker, meel en eiers vir pannekoek kon gaan koop nie. Trekkerkinders het ook nie kitskos geken nie. Die Voortrekkers moes alles wat hulle nodig gehad het self voorsien en het produkte soos koffie, suiker, sout, meel en droë kos soos boontjies, ertjies, lensies en beskuit saam met hulle op die Trek geneem. Vars produkte soos mielies, boontjies, pampoen, koring, patats, aartappels, waatlemoene en heuning het hulle op die trekpad van die plaaslike stamme geruil. Trekkerkinders het graag wildevrugte en bessies gepluk of wildeheuning gesoek waarmee hulle tameletjies kon maak.

Die Voortrekkers was baie lief vir vleis en het dit gebraai, gekook of biltong daarvan gemaak. Mielies was vir die Trekkers ’n stapelvoedsel en baie gesinne het in die aand mieliepap geëet. Die Voortrekkers het ook gehou van boontjiesop, gebraaide pampoen, mieliebrood, biefstuk, mielierys, hoendersop en vetkoek. Selfs vandag is ons nog steeds lief vir baie van die ou Voortrekkerkosse, soos melktert en biltong. Trekkerkinders het graag karringmelk of dikmelk gedrink, maar het veral van gemmerbier gehou. Die Voortrekkers het oor oop vure gekook en op die trekpad het hulle op die grond vuurgemaak. Gewoonlik het hulle ’n kookskerm van takke en bossies gemaak om die wind weg te keer.

Wanneer Voortrekkers brood of beskuit wou bak, het hulle ’n bakoond gehad. Die bakoond was ’n koepelvormige geboutjie waarvan die mure met ’n dik kleilaag bedek was om die hitte solank moontlik binne te hou. Die Voortrekkers kon twaalf tot agtien brode op ’n keer hierin bak. Op die trekpad was daar nie tyd om sulke oonde te bou nie. Dan is ’n miershoopoond gebruik. ’n Groot miershoop is uitgehol en daarin vuurgemaak, net soos in ’n bakoond. Nadat die broodpanne ingesit is, is die opening met klei toegestop totdat die brode gaar was. Trekkerkinders het veral van die volgende resepte gehou:

Welbeloontjies (Stokbrood)

Bestanddele
240 g meelblom (500 ml)
16 g bakpoeier (20 ml)
4 g sout (4 ml)
140 g botter
2 eiers
melk

Metode
Sif die droë bestanddele. Vryf botter liggies met vingerpunte in. Meng tot stywe deeg met geklitste eiers en genoeg melk. Rol uit en sny in repe van 12 mm breed. Draai om groen stokke wat omtrent 18 mm dik is, sodat dit ’n horinkie van omtrent 150 mm in lengte vorm. Die repies moet altyd half oormekaar lê. Hierdie horinkies word nou oor kole gaar gemaak deur die een punt van die stok vas te hou en dit gedurig in die rondte te draai. Sodra die horinkie goudbruin is, word dit met appelkooskonfyt, room en dik vla gevul. Dit was ’n baie gewilde nagereg vir Voortrekkerkinders.

Kouewater-gemmerbier

Bestanddele
4,5 ℓ koue water
600 g suiker (750 ml)
12,5 ml aktiewe droë suurdeeg
30 ml fyn gemmer
5 ml kremetart
75 g rosyntjies met pitte, gekneus (125 ml)

Metode
Meng die water, suiker, suurdeeg, gemmer, kremetart en rosyntjies saam in ’n groot kastrol of houer. Sit die deksel op en laat dit 24 uur by kamertemperatuur staan om te gis. Gooi die gemmerbier deur ’n skoon doek in bottels en verkoel.

Outydse soetkoekies

Bestanddele
500 g botter by kamertemperatuur
750 ml suiker
5 groot eiers
800 g koekmeelblom (6 x 250 ml ongesif afgemeet)
30 ml bakpoeier
10 ml fyn neutmuskaat
2 ml sout

Versiering
1 eier, geklits
25 ml melk
Suiker

Metode
Verroom die botter, suiker en eiers saam. Sif die koekmeelblom, bakpoeier, neutmuskaat en sout saam. Meng die droë bestanddele met die eiermengsel tot ’n taamlike sagte deeg. Voorverhit die oond tot 200 °C. Smeer bakplate effens. Rol die deeg dun uit op ’n deegplank wat met meel bestrooi is. Druk sirkels met ’n koekiedrukker uit. Plaas die deegsirkels effens uitmekaar op die bakplate. Meng die geklitste eier en melk en bestryk die koekie liggies daarmee. Strooi bietjie suiker op elke koekie. Bak die koekies agt tot tien minute of tot goudkleurig. Laat hulle effens op die bakplate afkoel en plaas hulle dan op ’n drarak om heeltemal koud te word. Bewaar die koekies in ’n digte houer.

Plaatkoekies

Bestanddele
375 ml meel
1 t sout
3 t bakpoeier
2 t suiker
250 ml melk
1 eier
2,5 ml gesmelte botter

Metode
Sif die droë bestanddele saam. Voeg die melk geleidelik by en klop goed tot ’n gladde deeg. Voeg die geklitste eier by. Voeg laastens die gesmelte botter by. Drup teelepels deeg op ’n warm pan wat met olie gesmeer is. As die deeg borreltjies bo-op maak, draai dit met ’n spaan om. (Voortrekkerkinders het graag plaatkoekies saam met heuning en plaasbotter geëet.)

Voortrekker hamburgers
Dié frikkadelle is die lekkerste as jy dit op die kole gaarmaak. As jy nie kole het nie, werk die oond net so goed.

Bestanddele
500 g gemaalde beesvleis
250 g varkworsvleis
Sout en peper na smaak
1 eier, geklits
1 uitjie fyn gekap
1 soetrissie ontpit en gekap
50 ml gekapte pietersielie
Kookolie

Metode
Meng al die bestanddele behalwe die kookolie en vorm agt plat frikkadelle. Plaas op ’n draadrak in ’n pan of op ’n rooster. Bestryk die kant wat gerooster word met kookolie en rooster vyf minute in oond of op kole. Draai om, bestryk weer met kookolie en rooster nog vir minute, of tot gaar. Bedien binne-in ’n vetkoek of roosterkoek.

Mieliebrood in ’n blikkie

Bestanddele
250 g spekvleis, grof gekap
1 blik heel mielies (410 g)
50 g (100 ml) koekmeelblom
50 ml suurroom of karringmelk
5 eiers
3 ml sout
5 ml bakpoeier

Metode
Braai spek tot bros. Voeg die res van die bestanddele by en meng deeglik. Skep ’n gesmeerde konfytblik driekwart vol met die mengsel. Bedek met ’n dubbellaag gesmeerde foelie. Bak 45 minute lank by 180°C of bak in die warm kole. Keer op ’n bord uit, sny in dik skywe en sit dadelik voor.

Roosterkoek

Bestanddele
7 koppies meel
1 pakkie (10 g) gis
500 ml louwarm water
1 t sout
125 ml kookolie

Metode
Begin vroegoggend, of selfs die vorige aand, met die deeg vir die roosterkoek. Sprinkel die gis oor ’n koppie of bakkie louwarm water waarin ’n teelepel suiker opgelos is. Roer ná ’n paar minute en los die gis om te skuim. Voeg dit dan by die meel en sout. Voeg die olie en genoeg louwarm water by om ’n stywe deeg te vorm. Knie tot glad. Smeer lig met olie, bedek en laat rys tot die deeg verdubbel het. Knie goed af en vorm balletjies. Druk effens plat, plaas op rooster en laat vir 10 tot 15 minute rys. Plaas die rooster bo-oor ligte kooltjies en rooster aan alle kante tot bruin en gaar. Toets deur liggies te tik – as dit gaar is, klink dit hol.

Vetkoek

Bestanddele
120 g (250 ml) koekmeelblom
5 ml bakpoeier
2 ml sout
125 ml water of melk
1 eier, geklits
Kookolie vir braai

Metode
Sif die droë bestanddele saam. Klits die eier en water saam, voeg by die meelmengsel en meng tot ’n sagte deeg. Giet die kookolie 12 mm diep in ’n braaipan en verhit. Plaas teelepels vol van die deeg in warm olie en braai tot goudbruin aan beide kante. Dreineer op ’n papierhanddoek. Sit warm voor.