Kort geskiedenis van die Krugerwildtuin

Generaal Jan Smuts
April 14, 2017
Ons spoorweë
April 14, 2017

(Geskryf deur JJ van Tonder, soos verskyn in Historia Junior, September 1977)

’n Groep van 31 Blankes het in die oostelike deel van die huidige Transvaal in 1725 onder leiding van Francois de Cuiper, ’n Hollander, na die denkbeeldige Monomotapa gaan soek. Hulle het vanaf Delagoabaai die soektog onderneem. Swartmense het hulle planne laat misluk, en die Hollanders moes omdraai.

Louis Trichardt en sy voorste Voortrekkers het vanaf Soutpansberg deur die Laeveld van Transvaal na Delagoabaai getrek en die see omstreeks 1837 bereik. ’n Aantal van die mense het langs die trekpad aan koorssiekte gesterf. Die tsetsevlieg was die oorsaak.

Hoof-kommandant AH Potgieter het ook met ’n aantal Trekkers deur die Laeveld getrek om met die see in verbinding te kom. Hy het met die Portugese wat destyds in Mosambiek regeer het, ’n ooreenkoms gesluit waardeur die gebied van die huidige Krugerwildtuin aan die Transvaalse Republiek afgestaan is.

Joao Albasini, ’n Portugees, was waarskynlik die eerste Blanke wat in die gebied van die Krugerwildtuin ’n baksteenhuis gebou en vrugtebome aangeplant het. Hy het handelgedrywe.

Na die ontdekking van goud in Oos-Transvaal in die sestigerjare van die vorige eeu, het daar groot werksaamhede in daardie streke van die eertydse Republiek plaasgevind. Talle jagters het daarvan ’n skietparadys gemaak. Baie boere het gedurende wintermaande hulle vee vir weiding na die Oos-Transvaalse Laeveld geneem. Die wild het vinnig verminder en dit het ’n groot probleem geword.

President Kruger het in 1884 in die Volksraad aan die hand gedoen dat die wild beskerm moes word. Alhoewel sy woorde destyds op dowe ore geval het, het hy weer vyf jaar later, in 1889 die saak aangeroer deur ’n konkrete voorstel in te dien dat twee gebiede, een in die nabyheid van die Pongolarivier, ten noorde van Soeloeland, en die ander in die uiterste noord-ooste van Transvaal, as reservate vir wild afgesonder moes word. Die voorstel is aanvaar, en hoewel daar destyds geen pogings aangewend is om uitvoering daaraan te gee nie, het hierdie gebiede desondanks later onderskeidelik die Pongola-reservaat en die Shingwidzi-gebied van die Sabie-wildreservaat uitgemaak.

In 1895 het die saak van ’n wildreservaat weer aandag geniet en die voorstel is onder toejuiging met net twee teenstemme goedgekeur.

In 1897 is die grense afgebaken en in Maart 1898 het ’n proklamasie in die Staatskoerant verskyn waarin aangekondig is dat enige persoon wat wild binne die gespesifiseerde grense sou vernietig, jag of kwes, aan straf onderworpe sou wees.

“Die datum,26 Maart 1898, was dus die geboortedag van die Sabie-wildreservaat en onregstreeks dus ook van die Nasionale Krugerwildtuin. Die gebied was toe slegs sowat 1800 vierkante myl groot. Geen spesiale personeel is aangestel nie en die sersant in bevel van die Polisie gestasioneer op Komatipoort moes in naam toesig hou.”

In 1899 het die Driejarige Oorlog uitgebreek en tot 1902 is die jagwette nie uitgevoer nie. Jagters en die runderpes in 1896 het byna al die buffels, koedoes en elande uitgeroei. Daar was net klein klompies bokke in afgeleë dele in Oos-Transvaal versprei.

Luitenant-kolonel J Stevenson-Hamilton is in Julie 1902 in bevel van die geproklameerde wildreservaat aangestel. “Met die onwrikbare beslistheid waardeur sy dienstyd met die Wildtuin gekenmerk was, het hy onder die moeilikste toestande en belemmeringe aan die werk gespring om ’n ware toevlugsoord vir die wild tot stand te bring in ’n gebied wat deur die Blankes sowel as die Bantoes as hulle natuurlike jagveld beskou is. Die baie verbeterings wat hy ingevoer het om die vernietiging van die wild te bestry, het spoedig tot gevolg gehad dat die Bantoes hom “Skukuza” of “die man wat alles verander” genoem het. Daar is voortgegaan om verbeteringe in die wildtuin aan te bring. Daar was baie probleme wat oorbrug moes word.

Op 31 Mei 1926 het wyle Minister Piet Grobler die Wet op Nasionale Parke deur die Unie-parlement geloods. Die wet het ook die Nasionale Parkeraad in die lewe geroep. Dit het die Nasionale Wildtuin van die Unie van Suid-Afrika geadministreer.

Daar is baie geriewe in die Krugerwildtuin aangebring. Miskien is daar reeds te veel moderne verbeteringe in die Wildtuin, sodat die lewe daar net so blink en gerieflik soos in Johannesburg of enige wêreldstad is. Daarmee is van die natuur-, bos- en veldlewe se plesier ingeboet.

NB Daar is ’n half dosyn of meer monument-gedenktekens in die Krugerwildtuin.