Korbeelhuise, distrikte Williston/Carnarvon

Watermeul, Prins Albert
September 25, 2019
Die Stadhuis, Beaufort-Wes
September 25, 2019

Vér noord van Beaufort-Wes aan die Kareeberge lê die uitgestrekte, harde, dorre, boomlose wêreld van Williston en Carnarvon. Hier bestaan daar op talle plase vandag nog sogenaamde korbeelhuise of kliprondawels. Hierdie wonings is hoogs interessante voorbeelde van die vernuf van die vroegste blanke bewoners asook belangrike oorblyfsels uit die kultuurgeskiedenis en die geskiedenis van die volksboukunde in Suid-Afrika.

Toe die eerste trekkers hierdie gebied ingetrek het, moes hulle vind dat daar geen timmerhout vir die bou van huise in hierdie boomlose wêreld was nie. Weer eens moes die boer dus ’n plan maak: hy moes sy huis sonder die gebruik van hout bou. Uit die enigste materiaal tot sy beskikking, nl. klip, bou hy toe ’n rondawel, meesal rond, maar soms ook reghoekig. Die mure dikwels 76 centimeter dik, loop regop tot ’n hoogte van twee meter. Dan word die opeenvolgende lae plat klippe ietwat na binne getrek, totdat hulle dáár bo byna teen mekaar leun. Die oorblywende opening word dan met ’n groot plat klip gesluit. Om die instandhouding, sonder die oprigting van houtsteiers, te vergemaklik, is plat uitstekende klippe op gerieflike hoogtes as trapplek gelaat.

Die resultaat van hierdie korbeelwerk was reusebyekorwe met ’n deursnee van gemiddeld vyf meter en ’n hoogte van sewe meter. Die oorspronklike vloere was van klei gemeng met die bloed van diere. Hulle het kliphard geword en deur gereelde polering ’n spieëlgladde oppervlakte met lewendige rooibruin glans gekry. Die drempel is ruim bokant die grond en reg teenoor die deur in die agterste muur is ’n venster met ’n houtluik. Hierdie venstertjies is doelbewus klein en soms skuins in die muur gemaak sodat in die geval van ’n aanval deur Boesmans, hulle nie maklik en direk met hul pyle in die rondawel kon inskiet nie. In die mure is muurrakke ingebou en hanebalke van bonkige kareehout is bo, waar die mure begin skuins loop, dwars geplaas en o.a. gebruik vir die droogmaak van biltong en die hang van ander huishoudelike artikels.

Aanvanklik het die boer net een rondawel gebou. Later het hy òf ’n tweede en selfs ’n derde, óf ’n langwerpige kamer tot die oorspronklike toegevoeg. En so het elkeen van hierdie korbeelhuise sy eie besondere karakter gekry.

Ter bewaring van hierdie interessante volksboustyl en kultuurbesit het die Historiese Monumentekommissie dus vyf van hierdie korbeelhuise, elk vanweë sy besondere eienaardigheid, noukeurig uitgesoek en geproklameer. Hierdie huise staan op plase op verskillende afstande van die pad tussen Williston en Carnarvon. Komende vanaf Williston lê hul as volg:

(1) Grootfontein: Ongeveer 24 km van Williston draai ’n pad noordwaarts by die plaas Sakfontein af en ongeveer 16 km op hierdie pad aan die linkerkant is die huis geleë.

(2) Arbeidersfontein: Hierdie vierkantige hut is op ’n afstand van 35 km van Williston enige kilometers van die pad geleë.

(3) Schuinshoogte: ’n Paar honderd meter links van die pad ongeveer 40 km van Williston.

(4) Gorras: Ongeveer 64 km van Williston aan die groot pad voordat die spoorweghalte met dié naam bereik word asook ±64 km van Carnarvon.

(5) Stuurmansfontein: Ongeveer 29 km op ’n pad wat op ’n afstand van 110 km van Williston en 26 km van Carnarvon noordweswaarts uitdraai.

(Geproklameer 1964, 1965, 1966)

Foto: James Walton • Korbeelhuis, Stuurmansfontein

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 179-181.