Koms van Herstigte Nasionale Party

Sport word ’n twisappel
January 26, 2015
Eerste hartoorplanting in Suid-Afrika
January 26, 2015

In die jare sewentig is die sportbeleid verder gevoer sodat kleurdiskriminasie kon verdwyn. Die minister van sport, doktor Piet Koornhof, het mense soms met sy vernuftige planne verwar; grappenderwys het ’n kollega eendag gesê hy weet nie mooi wat die sportbeleid is nie want hy het tienuur die oggend laas met Koornhof gepraat!

Sportintegrasie, en meer spesifiek die besluit om Maori’s vir ’n besoekende All Black-span te aanvaar, was intussen ’n belangrike rede vir verdeeldheid in die Nasionale Party. Daar was ook ander redes; Vorster het in 1968 ’n aanval gedoen op sekere “taalhandhawers” en “Wagters op Sionsmure”. In die 1969-Parlementsitting is die botsing op die spits gedryf ná ’n toespraak van doktor Albert Hertzog, wat in 1968 as minister van gesondheid afgedank is. In sy toespraak het Hertzog die Afrikaans- en Engelssprekendes teenoor mekaar gestel – die Afrikaner met sy Calvinistiese inslag en die Engelssprekende met sy tradisionele liberale lewensbeskouing. Aan die hand van die skrywer GH Calpin het hy verduidelik dat die liberalisme deel is van die Engelssprekende se wese. Dit is egter net die mens wat deurdrenk is van die Calvinisme wat staande sal kan bly in die aanslag op die blankedom in Afrika.

Nadat Afrikaanse koerante Hertzog oor die toespraak aangeval het, het die leier van die opposisie, sir De Villiers Graaff, in die Volksraad geëis dat die regering Hertzog moet repudieer. Meneer Ben Schoeman, leier van die NP in Transvaal, het die eerste repudiëring in die Volksraad gedoen; die toespraak was ’n “verskriklike belediging” vir die Engelssprekendes, het hy betoog. Daarna het ook premier Vorster Hertzog gerepudieer.

Op die Transvaalse kongres van die NP in September 1969 is die sportbeleid bespreek en het Schoeman gevra dat die name van die afgevaardigdes wat teen regeringsbeleid stem, aangeteken moes word. Elf het daarteen gestem en sewe het buite stemming gebly. Hul name is aan kiesafdelingbesture oorhandig sodat dié teen hulle kon optree. Die besture het daarop Hertzog en meneer Jaap Marais, LV vir Innesdal, uit die party geskors. In Kaapland het die NP die lidmaatskap van ’n ander LV, meneer LF Stofberg, beëindig, en meneer WT Marais, LV vir Wonderboom, het self uit die party bedank.

Hulle was stigterslede van die Herstigte Nasionale Party op 25 Oktober 1969 in die Skilpadsaal in Pretoria. Hertzog was leier. Sport was aanleiding tot die skeuring, maar basies was dit ’n keuse van die Verwoerd-beleid van skeiding bo die geleidelike aanvaarding van integrasie. ’n Verkiesing is in April 1970 gehou om die vier HNP-ondersteuners in die Volksraad uit te skakel. Geen HNP is inderdaad verkies nie, maar die NP het agt setels aan die VP afgestaan. Vir die eerste keer ná 1948 het dié party onder sir De Villiers Graaff tydelik gevorder.  Ook dié party het ’n groot skeuring beleef toe van sy bekendste lede soos mnr. Harry Oppenheimer in 1959 weggebreek en die Progressiewe Party gestig het.  Doktor Jan Steytler was leier. Aanleiding tot die skeuring was ’n besluit van ’n VP-kongres om die aankoop van “wit” grond vir die tuislande te opponeer. Jare lank was mevrou Helen Suzman as die party se enigste Volksraadslid ’n verbete stryder teen apartheid.