Dr. NJ van der Merwe
April 11, 2017
Sir Arnold Theiler
April 11, 2017

(Soos verskyn in Historia Junior)

In die geskiedenis van Natal het die Uys-familie ’n baie belangrike aandeel gehad. Ons ken die verhaal van hoe die ou patriarg Jacobus Uys, saam met sy seuns uit die Kaapkolonie getrek het en hoe die Engelse koloniste by Grahamstad ’n Bybel aan die ou vader oorhandig het. Ons ken ook die aangrypende verhaal van die dood van Piet Uys en sy seuntjie Dirkie by Italeni. Onlangs het ons verneem dat die presiese plek waar Piet en Dirkie Uys gesneuwel het, nou moontlik gevind is.

Die verhaal van die heldedood van Dirkie Uys se broer Piet, is nie so goed bekend nie.

Hierdie broer van Dirkie Uys was maar tien jaar oud toe sy vader en Dirkie by Italeni die lewe verloor het. Die jonge Piet is deur ’n ouer broer, Jacobus, versorg totdat hy getroud is. Hy kon die dood van sy vader en broer nie vergeet nie en het hom voorgeneem om hulle dood te wreek.

Veertig jaar later, in 1878, het die Zoeloe-oorlog tussen Ketswajo en die Britse regering uitgebreek. Kommandant Piet Uys wat toe ’n man van 50 jaar was, het besluit om sy lot in te werp met die Britse magte en om hom te wreek op die Zoeloes. Hy het ’n kommando van vrywilligers op die been gebring en aan die hoof van hierdie Boerekommando op 5 Januarie 1879 hom by die Britse aanvoerder, kolonel Wood, aangemeld. Hierdie perdekommando het selfstandig opgetree maar tog saamgewerk met die sogenaamde Light Horse.

Kommandant Uys was ’n groot hulp vir die Britse magte, want Piet Uys het die wêreld geken en was goed bekend met die taktiek van die Zoeloes. Hy het Lord Chelmsford, die opperbevelhebber, aangeraai om laer te trek, spioene ver vooruit te stuur en nie die vyand in die oop veld aan te durf nie. Ongelukkig het die aanvoerders hierdie goeie raad nie aangeneem nie.

Op 27 Maart 1879 het ’n sterk mag opgeruk na Hlobaneberg waar ’n geslepe Zoeloe-aanvoerder met sy impi skuilgehou het. Daardie aand is kamp gemaak nie ver van die berg nie. Toe dit donker was, is bevel gegee om op te saal en onder leiding van kommandant Piet Uys het die magte na Hlobane opgeruk. Naby die bergpas het ’n swaar donderstorm oor die troepe en burgers losgebars en vier uur lank gereën. Teen dagbreek is opgetrek na die oostelike hange van die berg en kort daarna het die ruiters die bergpas bereik. Geen weerstand is ondervind nie totdat die manne onder kolonel Buller ongeveer 500 tree van die kruin was. Toe het daar skielik ’n dodelike vuur uit die natuurlike bergvesting die troepe begroet. Vir ’n uur lank het ’n verwoede geveg plaasgevind waarin baie manskappe die lewe ingeskiet het.

Terwyl die verwoede geveg aan die gang was, het die Zoeloe-lyfwag wat by sir Evelyn Wood was, die aanvoerder se aandag gevestig op ’n groot Zoeloemag wat aan die voet van die berg besig was om die berg te omsingel en die aftog van die troepe af te sny. Daar was vyf verskillende afdelings wat in hulle tipiese horingformasie die berg omsingel het. Daar moes blitsvinnig opgetree word. Kolonel Buller en ander offisiere het na die westelike punt van die berg afgetrek. Hulle was egter te laat want die Zoeloes het reeds die pas deur ’n klipmuur versper en ’n dodelike vuur vanuit hierdie verskansing op die troepe gerig. Ook kommandant Uys en sy manne wat ’n impi onder ’n krans aangeval het, moes onder hierdie spervuur deurloop. Kolonel Buller het na die noordelike front van die berg weggedraai toe hy besef dat die Zoeloes besig was om die enigste twee passe af te sny. Twee afdelings het uit die ooste aangeruk en uit die suide het die hoofmag opgeruk. Daar was geen ander uitweg nie as om teen al die magte gelyktydig op te ruk. Binne ’n paar oomblikke was die bloedige stryd aan die gang en is baie Engelse eenhede uitgedelg. Kommandant Uys het te midde van die verwarring wat  ontstaan het, probeer om orde te herstel, maar tevergeefs. Hy het probeer om die agterhoede te dek en het onverskrokke geveg. Toe die slagting op die ergste was, het kommandant Uys opgemerk dat sy oudste seun met twee ryperde gesukkel het. Hy het hom te hulp gesnel om die perde langs die berghang af te lei. Hulle kon nie met die perde vorder nie en het te voet gevlug. In die vlug het hulle van mekaar af geraak en toe sy seun Piet omkyk, merk hy hoedat ’n Zoeloe sy vader doodsteek. So sterf die broer van Dirkie Uys ook deur ’n Zoeloe-asgaai. Vir ’n geruime tyd het die beendere van die dapper en onselfsugtige Piet Uys net soos die van sy vader en broertjie op die berg gelê voordat dit begrawe kon word.

Dit is interessant om te weet dat toe kommandant Uys ’n kommando op die been gebring het, hy ’n brief aan bloedverwante geskryf het dat hy die dood van sy vader en broer moes wreek, maar dat hy geweet het dat hy in die uitvoering daarvan sy lewe sou inskiet.