Lady Anne Barnard
April 9, 2017
Jan Visagie: Rustenburg se eerste “geneesheer”
April 9, 2017

(Geskryf deur Neels Roodt, Hoërskool Wepener, soos verskyn in Historia Junior, November 1965)

Louw Wepener se vader was ’n Duitse emigrant na Suid-Afrika en nadat hy met ’n Erasmus-meisie in die huwelik bevestig is, het die Wepener-paar hulle in die distrik Graaff-Reinet gaan vestig, waar Louw Wepener op 21 Julie 1812 gebore is.

Reeds op tienjarige leeftyd het Louw sy moeder verloor en vier jaar later, in 1826, is ook sy vader oorlede. Op veertienjarige leeftyd moes hy dus sy eie weg deur die lewe baan en daardeur het hy selfstandigheid en selfvertroue bekom en het daar by hom die karaktertrekke van volharding en onverskrokkenheid ontwikkel, wat later van hom ’n gevierde leier sou maak.

Voor sy vader se dood het Louw skoolonderrig geniet, maar daarna het hy die skool verlaat en by sy oorlede moeder se broer gaan werk. Die ruwe, vrye lewe het van hom ’n taai, gebreide man gemaak en in die vrye natuur het hy ’n sterk liefde vir vryheid en vaderland ontwikkel. Weens sy vlyt was hy in staat om sy eie boerdery te begin in die Graaff-Reinetse distrik.

Hy het aan twee “Kafferoorloë” deelgeneem en in 1858 ook die Vrystaters in die eerste Basoeto-oorlog bygestaan. Louw was nou in die distrik van die teenswoordige Aliwal-Noord woonagtig.

Louw Wepener was twee keer getroud. Sy eerste vrou is twee jaar na hul troue oorlede en in 1843 is hy met ’n Van Aardt-meisie getroud. In 1862 het hulle na Bethulie verhuis, waar hulle hulle op die plaas Constantia gaan vestig het. Hier is Louw spoedig as vrederegter aangestel en met die uitbreek van die tweede Basoeto-oorlog in 1865, is hy tot kommandant van die Bethuliese kommando verkies. Kort voor die kommando vertrek het, het hy die volgende roemryke woorde tot die burger gespreek: “Medeburgers, julle het my eenparig as julle kommandant  gekies. Ek aanvaar die betrekking op voorwaarde dat julle my die belofte sal doen dat elke burger hom manlik sal gedra en dat julle my bevel sal gehoorsaam. Wanneer ons in gevaarlike plekke kom, sal ek julle nie toeroep nie ‘gaan burgers’ maar ‘kom burgers’. As ons in Basoetoland moet omkom, laat ons dan sterwe soos helde, en nie soos lafaards nie.”

Die opperbevelhebber van die magte in die Basoeto-oorlog was kommandant-generaal Fick. Sy oorversigtigheid, veral met die aanval op die stat van kaptein Moperi, het kommandant Louw Wepener dwars in die krop gesteek en hy is met verlof terug huis toe. Die burgers het nou ontevrede begin word, maar dit het verdwyn toe kommandant Wepener na die laer teruggekeer het.

Wepener het dadelik ’n versoek aan die kommandant-generaal gerig om ’n aanval op die Basoeto’s te maak en met laasgenoemde se verlof, het kommandant Wepener met seshonderd man die bergvesting, Vegkop, van kaptein Posjuli op 14 Julie 1865 in besit geneem.

Na hierdie oorwinning het kommandant Wepener met sy kommando in die rigting van Thaba Bosigo getrek en op 1 Augustus die vesting van Letsea sonder moeite ingeneem. Hierna het die kommando’s van generaal Fick en dié van kommandant Wepener verenig om ’n aanval op Thaba Bosigo (Berg van die Nag) te maak. Hierdie bergvesting was alleenlik deur twee klowe bereikbaar en in tyd van oorlog is hierdie klowe vol skanse gepak deur die Basoeto’s.

Assistent-kommandant-generaal Louw Wepener het 8 Augustus ’n aanval op dié vesting geloods, maar dit het misluk. Daar is toe besluit dat die hoofaanval op die 15de sou plaasvind. Vyftienhonderd man was nodig, maar slegs 550 was bereid om vrywillig te veg; gevolglik moes 950 gekommandeer word. Die Vrystaters is gesteun deur 500 Barolongs en 400 Fingo’s.

Vroeg die oggend op 15 Augustus 1865 het kommandant Louw Wepener met sy mag uitgetrek, maar aan die voet van die berg het daar onenigheid tussen die burgers ontstaan; gevolglik moes die kommando op bevel van generaal Fick terugtrek.

Kommandante Wepener en Wessels het egter verlof ontvang om die sendingstasie aan te val. ’n Duisend man het saam met die twee leiers vertrek, maar op pad het 500 se moed hulle begewe. Met slegs vyfhonderd man het kommandant Louw Wepener na sy eerste bestemming, ’n rif teen die rant van die berg, gepyl. Toe die burgers mekaar oor die eerste steil krans in die kloof gehelp het, was daar sleg honderd-en-twintig man by die kommandant. Kommandant Wepener het dadelik die generaal gevra om versterkings te stuur; dit het egter nooit opgedaag nie. Daarna het hy dadelik hoër opgeklim tot op die rotse bokant ’n skeur. Slegs agt man het saam met die kommandant op dié rotse stelling ingeneem.

Toe die Basoeto’s se vuur ’n bietjie bedaar het, het Louw Wepener opgestaan, waarskynlik om die ander burgers wat nog in die skeur was, aan te moedig. Daar het toe ’n Basoeto agter die skans verskyn maar voordat hy sy moordwapen na die kommandant kon slinger, het laasgenoemde hom doodgeskiet Onmiddellik hierna het ’n ander Basoeto egter op kommandant Wepener losgebrand en hom dodelik gewond.

Die erg verminkte lyke van die kommandant en diegene wat saam met hom gesterf het, is later op die plaas Constantia in die distrik Bethulie begrawe.

Louw Wepener was een van die  roemrykste helde wat die Vrystaat opgelewer het. Deur sy heldedood het ons geleer dat vryheid iets edels en heiligs is; ja dat ’n mens selfs sy lewe daarvoor kan opoffer; daarom kon minister Jim Fouché tereg sê: “Volg sy goeie voorbeeld,” toe hy die borsbeeld van hierdie gevierde Vrystaatse leier onthul het.