’n Groot figuur in die Suid-Afrikaanse geskiedenis … Hendrik Potgieter
June 27, 2017
Japie Greyling
June 27, 2017

(Geskryf deur JA van Vuuren, Hoërskool Wolmaransstad, soos verskyn in Historia Junior, Februarie 1961)

Ongeveer 3 myl ten suidooste van die dorp Wolmaransstad in die Wes-Transvaal, in ’n laagte waar doringbome welig groei, beskut deur die Makwassie-rante, lê die eensame graftes van Magaritha Louisa Badenhorst (gebore Erasmus) en haar 3 maande-oue seuntjie, Philippus Lodewickus – boodskappers van ’n tragiese verhaal uit die veelbewoë geskiedenis van ons volk.

Magaritha Louisa was die eggenote van Hendrik Johannes Badenhorst van die plaas Vlakfontein (naas die graftes is die bouvalle van die opstal nog te sien) en kommandant van die Makwassiespruit-kommando tydens die Sekoekoenie-oorlog van 1876.

Toe die oorlog uitbreek en kommandant Badenhorst en sy makkers opgeroep word om die stryd teen Sekoekoenie aan te knoop, het hy dapper en vol heldemoed afskeid geneem van sy vroutjie en vertrek. Weinig het hy geweet dat dit die laaste maal sou wees dat hy haar in sy arms sou neem; sy het ’n vae voorgevoel daartoe gehad.

Op 28 Junie 1876, ongeveer ’n halfuur te perd van die Olifantsrivier tussen die berge van Sekoekoenieland, terwyl hy op sy groot wit perd vooraan die kommando gery het, is hy deur sy kuiltjie noodlottig getref deur die vyand. Die lyk is verder op sy perd vervoer wat twee keer gaan lê het onder die swaar vrag. Later is ’n bees geslag, die lyk is in die beesvel toegedraai en so begrawe. Die burgers het beeste op die graf laat slaap om dit onsigbaar te maak, want hulle was bang dat die naturelle die lyk sou kom opgrawe.

Kommandant Badenhorst se getroue hond Werda, wat hy vir ’n vers geruil het, en wat hom gevolg het na die slagveld, het, nadat sy geliefde baas geval het, een oggend onverwags sy opwagting op die plaas gemaak. Mev. Badenhorst wat geduldig en biddend gewag het op die terugkoms van haar man, het dit dadelik as ’n onheilsteken beskou. Kort hierna het die doodstyding haar bereik.

Op 3 Januarie 1877 is ’n seuntjie Philippus Lodewickus gebore. Mev. Badenhorst, oorstelp van verdriet oor die dood van haar man, het beswyk op 2 Maart 1877. Philippus is deur die ander kinders uit die huwelik getrou versorg tot op 3 maande ouderdom, toe ook hy deur die dood weggeneem is.

So rus moeder en seun langs mekaar, ’n getuienis van die opofferings en ontberings wat ons Afrikaner-moeders en -kinders hul getroos het om die Afrikaanse bodem vir hul nageslagte bewoonbaar te maak.