Kommandant-generaal Piet Joubert begrawe op Rustfontein, Volksrust

Dr. Dawid Siegfried Annecke
May 3, 2017
Gustav Preller: sy lewe en strewe
May 3, 2017

(Geskryf deur CC Welman, Volksrustse Hoërskool, soos verskyn in Historia Junior, November 1968)

Uit die huwelik van Josua Francois Joubert en Ester Maria Gousch, is op 20 Januarie 1831 te Zwarteberg Petrus Jacobus Joubert, die latere Kommandant-generaal van die Zuid-Afrikaanse Republiek en die boereheld van die Slag van Amajuba, gebore.

In 1855 het Piet Joubert se openbare loopbaan in die Utrecht-omgewing ’n aanvang geneem. Nadat sy plaas in die omgewing van die Buffelsrivier (Utrecht) deur ’n nuwe reëling i.v.m. die grenslyn tussen Utrecht en Natal in Britse gebied geval het, het hy die distrik verlaat en hom in die Wakkerstroom-distrik op die plaas Rustfontein gaan vestig. Op 6 Junie 1859 het hy die plaas van bykans 4000 morg van JH du Preez gekoop. Agt maande later is nog agt morg, wat aan die oorspronklike plaas behoort het, bygekoop. Mev. Joubert het vertel dat dit daar beter gegaan het, maar dat dit tog nie altyd rustig was nie. Die Kommandant-generaal was ’n goeie grondkenner en het ’n groot deel van die Wakkerstroom-kiesafdeling besit.

Tans is Rustfontein twee plase waarvan die een plaas (1800 morg) die eiendom van mnr. Theo Martins L.P.R. is en dié ander plaas( 2200 morg) die eiendom van die kinders van ’n agterkleinkind van die Kommandant-generaal – Beatrix Joubert (nou mev. Theunissen) is.

Mnr. Theo Martins se moeder, tans 85 jaar oud, is die oudste kleindogter, toevallig ook die oudste lewende kleinkind en het ook die name van die generaal se vrou, nl. Hendrina Susanna Johanna. Volgens oorvertelling van bogenoemde, was die voorgestelde grens tussen die Vrystaat en Transvaal die Vaalrivier. Indien dit die geval sou wees, sou die plaas van die Kommandant-generaal in die Vrystaat val. Hierteen maak hy beswaar en stel voor dat Ganskransspruit wat in die omgewing van Schuilhoek ontstaan, die grens vorm tot waar dit in die Kliprivier inloop, ’n paar honderd tree bokant die huidige brug tussen Volksrust en Memel. Daarvandaan sou die grens die Kliprivier wees, tot waar dit in die Vaalrivier in die Standerton-omgewing by Robertsdrif inloop. Hierdie voorstel is aanvaar.

Tydens die droewige landsomstandighede van die Tweede Vryheidsoorlog het generaal Joubert ernstig siek geword. Van die besering wat hy tydens die Estcourt-ekspedisie opgedoen het, was hy nog nie volkome herstel nie, toe hy met ’n besoek aan die Vrystaat weer ’n swaar verkoue opgedoen het. Sy toestand het verswak deur die opdoen van kwaadaardige ontsteking van die maagvlies en op Dinsdag 27 Maart 1900 om 11 nm. in die ouderdom van 69 jaar het die Kommandant-generaal ontslaap. ’n Lyksdiens is die namiddag van 29 Maart 1900 in die Ned. Herv. of Geref. Kerk, Pretoria gehou. Di. HS Bosman en P. Postma het die verrigtinge gelei. Daarna het ’n militêre stoet langsaam stasie toe beweeg, waarvandaan die stoflike oorskot met ’n spesiale trein na Volksrust vervoer is. By die stasie het pres. Kruger hulde aan die ontslapene gebring.

Van Volksrust af is die lyk met ’n kanonwa na Rustfontein vervoer waar dit in die teenwoordigheid van ’n klein groepie mense begrawe is. Opvallend was die simpatie en belangstelling van die naturelle van die buurt. Op die groot stoep voor die plaashuis het ds. DP Ackerman ’n aangrypende lyksrede gehou na aanleiding van Psalm 129 vers 3. Daarna het generaal Louis Botha die aanwesiges toegespreek.

Dit was die begeerte van die Kommandant-generaal om op sy plaas Rustfontein, begrawe te word. Die oudste seun, Josua Joubert, het kontrakteurs – Italianers of Skotte – gehuur om die graf (sarkofaag) op te rig. Die klip wat gebruik is, is sandsteen wat naby die huis uitgegrawe en gekap is. Interessant om te weet, is dat die soliede blokke soos ’n legkaart inmekaar gevoeg is. Die kontrakteurs het nie onderneem om die bouwerk te doen nie, dit het die familie self behartig.

Persone, in die kerkhof begrawe, is: die Kommandant-generaal en sy vrou in die sarkofaag; sy seun Petrus Jakobus Joubert; skoondogter Tant Hannie Joubert; sy kleinseun Piet Joubert en die se tweede vrou (nooi Cooper), dan drie Joubert-kinders en een kleinkind, ’n seun van sy oudste dogter. Ingevolge ’n moontlike erfpag- of testamentbepaling is daar ook ’n Du Plessis-seun begrawe. (Oom Piet Joubert se derde vrou se broer.)

Die sarkofaag is enig van sy soort in die land en daar bestaan ’n servituut van die pad na en van die begraafplaas met die gevolg dat die publiek altoos die begraafplaas mag bereik. Die sarkofaag is in 1904 opgerig.