Kollig op Suid-Afrika se kommandostelsel

Vlammesee verswelg ‘bakermat van Afrikaans’
February 1, 2017
AFRIKANERPERSPEKTIEWE OP DIE ANGLO-BOEREOORLOG
February 20, 2017

deur Petronel Fourie

Die verhaal van kommando’s in Suid-Afrika is bykans net so oud soos die land self. In twee artikels wat in die Military History Journal verskyn het, beskryf kommandant JJ Retief die ontstaan en ontwikkeling van Boerekommando’s breedvoerig. Hy vertel dat die kommando’s ’n vorm van deeltydse militêre diens was wat tot op die been gestroop was van alles wat nie absoluut noodsaaklik was nie. In ander wêrelddele is tradisionele militêre gebruike soos uniforms, parades, salueer en eerbewys, asook slaafse gehoorsaamheid aan bevele, as normaal beskou. Maar vir ’n pioniersgemeenskap wat voortdurend in ’n oorlewingstryd gewikkel was, was hierdie aspekte van krygsdiens heeltemal onaanvaarbaar.

 

Die kom en gaan van die Kaapse kommandostelsel

Dit was ook van die begin af duidelik dat die voltydse garnisoen wat saam met Jan van Riebeeck na die Kaap gekom het, nooit groot genoeg sou wees om ’n aanval op die Kaap deur veral Brittanje of Frankryk doeltreffend af te weer nie. Daarom is ’n deeltydse militêre mag op die been gebring. Uit die oogpunt van die landsburgers het deeltydse militêre diens egter om ’n heel ander rede noodsaaklik geword. Botsende aansprake op dieselfde weidingsgebiede deur Vryburgers, wat in 1657 hul plase ontvang het, en die Khoikhoi-veeboere het reeds in Van Riebeeck se tyd op konflik uitgeloop. Op 1 Mei 1659 het die Politieke Raad besluit om die weerbare burgers in ’n “kompagnie schutters” in te deel, georganiseer op ’n soortgelyke basis as die garnisoen. Dit kan as die ontstaan van die burgermag in Suid-Afrika beskou word.

In 1673 het ’n militêre mag bestaande uit Kompanjiesoldate, Vryburgers en Khoikhoi-meelopers teen Gonnema, ’n Khoikhoi-opperhoof, opgetrek. Dit was ’n voorloper van die latere kommando’s. Met die verloop van tyd het die verdediging van die land meer en meer die taak van dié burgers geword, wat die meeste aan aanvalle blootgestel is.

Ná 1703 het die aantal blanke veeboere drasties toegeneem as gevolg van die oopstelling van die veeruilhandel en die toekenning van gratis weidingspermitte. Grootskeepse verset van die Khoisan teen die veeboeruitbreiding het tot langdurige konflik gelei. Dit het die daarstelling en ontwikkeling van burgerkommando’s as ’n eiesoortige vorm van verdediging tot gevolg gehad. Die stelsel het uit nood ontstaan, aangesien die VOC nie ’n polisiemag gehad het nie en die trekboere gevolglik self na hul veiligheid moes omsien.

Met die snelle uitbreiding van die Kolonie gedurende die 18de eeu, het die burgermilisie ’n verdere en betekenisvolle ontwikkeling ondergaan. Die Burgerkrygsraad van die Kaap het op 4 Julie 1740, na aanleiding van ’n voorstel deur luitenant Rudolf Siegfried Aalman, die president, besluit om “een Veld-Corporaal onder het Caabse district” aan te stel. Sy opdrag was om alle wandade wat deur gedroste slawe gepleeg is, asook “verdere onheijlen” teen te gaan en te voorkom. Hy het magtiging ontvang om, indien nodig, manskappe op te roep om hom by te staan. So het die sogenoemde “veldkorporaal” ontstaan, wat bestem was om onder ander benamings, ’n uiters belangrike rol in die geskiedenis van Suid-Afrika oor ’n eeu en ’n half te speel. Die feit dat hy spesifiek vir ’n distrik verantwoordelik was, verteenwoordig ’n radikale afwyking van die pligte van ’n gewone korporaal in die burgermilisie. Hiermee is die grondslag gelê vir gebiedsverantwoordelikhede vir kommando’s, ’n gebruik wat met onderbrekings tot vandag toe nog steeds voortbestaan.

Tussen die tweede Britse besetting en die Groot Trek het drie grensoorloë plaasgevind. Verskeie Britse goewerneurs, soos Cradock en Somerset, het ’n hoë opinie van die kommando’s gehuldig en het dit nodig geag om daarvan gebruik te maak tydens die Vierde en Vyfde Grensoorloë. Na afloop van elke oorlog het politieke druk egter tot ’n beleid van vrede ten alle koste gelei. Hewige protes teen die beweerde optrede van die kommando’s het streng beperkings op hul aanwending tot gevolg gehad. In 1833 het die verwerping van Cole se herinstelling van MacCartney se kommandowette van 1797 tot sy bedanking as goewerneur gelei, asook tot die afskaffing van die kommandostelsel in 1834. Ironies genoeg, moes die kommando’s later in dieselfde jaar weereens opgeroep word vir diens tydens die Sesde Grensoorlog. Sommige historici is van mening dat die afskaffing van die kommandostelsel een van die belangrikste oorsake van die Groot Trek was.

 

Kommando’s herleef met die Groot Trek

In 1834, net voor die aanvang van die Groot Trek, is drie kommissies uitgestuur om die binneland te verken. As gevolg van die Difaqane was groot gedeeltes skynbaar onbewoon. Uit die verslae van die kommissies was dit egter duidelik dat konflik met die inboorlinge ’n moontlikheid was waarmee rekening gehou sou moes word. Daarom het die kommandostelsel saam na die binneland getrek. Dit het nie net as verdedigingstelsel vir die trekkerlaers gedien nie, maar was ook bestem om ’n belangrike rol te speel in die konstitusionele ontwikkeling van die Boererepublieke.

Gedurende die jare van storm en drang in die Suid-Afrikaanse Republiek, was dit die veldkornet wat toegesien het dat die staatsadministrasie, op grondvlak altans, behoorlik voortgaan. In die afwesigheid van ander staatsamptenare op die platteland, het die burgerlike aspekte van die amp van veldkornet voortdurend uitgebrei. Militêr was hy aanspreeklik aan die kommandant en op burgerlike terrein ondergeskik aan die landdros.

Op 7 Junie 1873 besluit die Volksraad om die ampte van kommandant-generaal en kommandant in vredestyd af te skaf. Ten spyte van beroeringe onder die swart stamme en opkomende Britse imperialisme, was die Suid-Afrikaanse Republiek nou sonder militêre leiding, met die president wat as opperbevelhebber van die kommando moes optree. Hoewel president Burgers tydens die daaropvolgende veldtog teen Sekhukhune daarin kon slaag om hom met ’n beleg deur huursoldate tot oorgawe te dwing, het die hantering van die veldtog aan die Britse minister van Kolonies, lord Carnarvon, die verskoning gebied om in Transvaal se sake in te meng. Na uitgerekte onderhandelings is die Suid-Afrikaanse Republiek op 12 April 1877 as die Britse kolonie “Transvaal” geannekseer. Sommige historici twyfel of hierdie roemlose oorname van die Suid-Afrikaanse Republiek ooit sou plaasgevind het indien die kommandostelsel behoue gebly het.

Teen September 1900 het die regering van die Suid-Afrikaanse Republiek, toe dit blyk dat die oorlog langer duur as wat verwag was, besluit om die kommando’s te herorganiseer. Vir die eerste keer is bepaal dat kommando’s uit tussen 300 en 500 man sou bestaan en veldkornetskappe uit tussen 100 en 200 man, onderhewig aan die diskresie van die kommandant-generaal. Korporaalskappe sou bestaan uit nie meer as 15 man nie. Alle offisiere sou voortaan aangestel word. Daar is verder besluit om aan alle burgers rangsoldy te betaal.

 

Hiërargie, taktiek en die kommandolewe

Die webblad www.angloboerwar.com vertel dat elke distrik mans vir kommando moes oproep. Die kommando het ’n demokratiese struktuur en hiërargie gehad. ’n Veldkornet was die verkose leier van die distrik. As dit ’n groot distrik was, kon ’n assistent-veldkornet verkies word. Die veldkornette het aan die kommandant wat in beheer van die kommando was, gerapporteer. Die kommandant het die militêre aspekte van die distrik behartig, terwyl die landdros of magistraat die burgerlike administrasie hanteer het.

Die laagste en oudste rang in die kommandostelsel was die rang van burger. Volgens die kommandowette van beide republieke was alle burgers tussen 16 en 60 jaar dienspligtig, maar vele was op kommando wat buite hierdie ouderdomsgroep geval het.

In sy boek Die Boereoorlog, beskryf Thomas Pakenham die kommando’s as ’n volksleër. “As beroepsoldaat moet die kommandant-generaal die volksleër van die nodige krygsmateriaal voorsien – Creusot- en Krupp-kanonne, Mausers, ammunisie, tente, kos en so meer – en die strategie koördineer. In hierdie kommandostelsel is dit niemand se taak om die burgers af te rig nie.”

Afgesien van die jaarlikse wapenskou en skietoefening, is dit aan die burgers oorgelaat om te veg soos hulle nog altyd geveg het – met die taktiek van die berede grensboer. As die vyandelike oormag te groot is, lok hulle ’n vyandelike aanval uit, spring van die perd af, kruip weg en skiet, klim weer op en jaag weg. In die militêre handboeke van Europa staan die formule as “strategiese offensief, taktiese defensief” bekend. Die Boere het nog nooit die handboeke gesien nie, maar die taktiek het in talle oorloë teen die inheemse stamme uitstekend gewerk – en in 1881 by Laingsnek ook teen die Engelse. Hulle het laas in 1848 ’n slag verloor, toe Sir Harry Smith generaal Pretorius by Boomplaas kafgeloop het.

Volgens Reader’s Digest se Illustrated History of South Africa was hierdie taktiek egter nie ideaal teen ’n empire wat onbeperkte versterkings vanuit elke uithoek van die wêreld kon voorsien nie.

Pakenham het geglo dat die kommandostelsel die beste by kleinskaalse guerrilla-aanvalle pas, nie by groot klassieke veldslae nie. ’n Kleiner groep kon hul grootste bate – beweeglikheid – ten beste benut; en hul grootste nadeel – gebrek aan dissipline – was in die omstandighede nie so ’n groot hindernis nie.

Hoewel veldslae en militêre aktiwiteite die kern van kommando’s se doen en late was, was daar tog tyd vir ontspanning ook. Op www.afrikanergeskiedenis.co.za lees mens dat swem in die somer die natuurlikste daarvan was. Georganiseerde Boeresport, onder meer atletiek en perderesies, was dwarsdeur die Anglo-Boereoorlog gewild, veral op tradisionele fees- en vakansiedae soos Nuwejaarsdag, president Kruger se verjaarsdag (10 Oktober), Majubadag (27 Februarie) of die Vrystaatse onafhanklikheidsdag (23 Februarie).

Dit blyk uit Fransjohan Pretorius se Kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog dat enkele burgers troeteldiere, veral honde, aangehou het, hoewel dit in die guerillafase byna onmoontlik geraak het. Vir baie burgers was kaartspeel ’n heerlike tydverdryf, terwyl ontwikkelde burgers graag skaak en dambord gespeel het. Voor die oorlog was daar al debatsverenigings, en op kommando is ook debat gehou. Vir die meer geletterde burgers was lees natuurlik ’n vername tydverdryf.

JD Kestell vertel die volgende oor die kommandolewe saam met president Steyn: “As ons in die dag stil lê, kan ons in die skaduwee van die boom ons sokkies stop en ons klere lap. Ons lees ook. Die President het geen gebrek aan leesstof nie. Dis wonderlik hoe ’n boek hier, ’n tydskrif daar in die hande kom.”

Die webblad samilitaryhistory.org bevat ’n aantal dagboeke wat die persoonlike ervaring van burgers op kommando weergee. Uit die dagboek getiteld ‘Oupa Wilhelm op Kommando’ (uit die versameling van S van den Berg), lees ons dat die burgers wat vir kommando opgeroep is, met sy eie ryperd, saal en toom, geweer en ten minste dertig patrone – of ’n halwe pond kruit, dertig koeëls en doppies – sowel as kos vir agt dae gereed moes wees. Die burgers se rantsoene het grootliks uit biltong of wors, ’n soutribbetjie waar beskikbaar, brood en beskuit bestaan.

 

Oupa Wilhelm vertel

“Die afdeling perderuiters vanaf Edenville is vroeg-vroeg alreeds by die huis van die Veldkornet. Die jonges onder die klomp is vol heldemoed, pronk met hulle perde, en die een probeer beter lyk as die ander met hulle wyerandhoede, bandoliers vol patrone en geweerlope wat skitter in die son. Hier en daar is een wat spog met ’n volstruisveer in die hoed se rand, maar hulle makkers maak soveel grappe dat hierdie windmakerigheid gou op ’n end is.

Daar was gemaan dat vroue verkieslik nie na die bymekaarkomplek moet kom nie, maar die Veldkornet se vrou is daar en word gou bygestaan deur ’n hele aantal ander, en voor lank bedien hulle koffie en beskuit. Die Veldkornet roep almal gou tot orde, hy vra vir een van die ouderlinge om hom by te staan met skriflesing en gebed, en almal kniel eerbiedig met ontblote hoof, geweer aan die sy, tot dit klaar gelees en gebid is, en almal ’n psalm saamsing.

Ons ry almal in ’n baie meer ernstige gemoed, twee-twee in die stowwerige pad af, op pad na Generaal de Wet by Kroonstad, en ons besef skielik dat die oorlog nou begin het.

Die Krygskommissie het bepaal dat die kommando’s van Heilbron (De Wet se wyk), Vrede, Harrismith, gedeeltes van Bethlehem, Winburg en Kroonstad saam na die Natalse grens moet opruk. Toe begin die kommandolewe. Die agt dae van burgers se self-onderhoud met kos is gou verstreke en dit word die plig van die regering om kos te voorsien. Meel, mieliemeel, koffie en suiker word uitgedeel, en daar word beeste en skape geslag wat in porsies uitgedeel word deur ’n “vleiskorporaal”. Om onpartydig en regverdig uit te deel staan hierdie man met sy rug na die toustaners en gee hy oor sy skouers vir elkeen ’n deel sonder om uit te soek – met baie klagtes en rusies samegaande tot tyd en wyl almal meer of min aan die stelsel gewoond geraak het. Die burger maak sy eie vleis gaar (braai of kook) en hulle maak roosterkoek en vetkoek en ’n soort kluitjie (dumpling) wat hulle saam met die vleis kook of in warm vet braai – dan noem hulle dit ‘stormjaers’ of ‘maagbomme’.”

Die kommando’s het onteenseglik ’n belangrike bydrae tot die verdediging en groei van Suid-Afrika gelewer. Sonder hierdie burgermag sou die verhaal van ons land oor byna vier eeue heen beslis baie anders verloop het.

Bronne:

Angloboerwar.com. 2016 Boer Units. [Aanlyn]. Beskikbaar by: https://www.angloboerwar.com/unit-information/boer-units/1953-boer-forces?start=1 [Besoek op 15 November 2016].

FAK, 2015. Die kommandolewe. [Aanlyn]. Beskikbaar by: https://www.afrikanergeskiedenis.co.za/die-kommandolewe/ [Besoek op 15 November 2016].

Pakenham, T. 1979. Die Boereoorlog. Johannesburg: Jonathan Ball Uitgewers.

Reader’s Digest Assocation South Africa. 1988. Illustrated History of South Africa – the Real Story. Cape Town: The Readers Digest Assocation South Africa.

Retief, J.J. 1993. Die ontwikkeling van die rangstruktuur van die boerekommando’s deel 1: 1715 – 1836. Military History Journal, vol 9, no 4. [Aanlyn]. Beskikbaar by: https://samilitaryhistory.org/vol094jr.html [Besoek op 15 November 2016].

Retief, J.J. 1994. Die ontwikkeling van die rangstruktuur van die boerekommando’s, deel 2: 1834 – 1902. Military History Journal, vol 9, no 5. [Aanlyn]. Beskikbaar by: https://samilitaryhistory.org/vol095jr.html [Besoek op 15 November 2016].

Van den Bergh, S. 1999. Ouma se stories, hoofstuk 3: Oupa Wilhelm van den Bergh – op kommando. South African Military History Society. [Aanlyn]. Beskikbaar by: https://samilitaryhistory.org/diaries/oumaab3.html [Besoek op 15 November 2016].