Koina se musiekinstrumente verwant aan Europa s’n

21 JULIE
July 21, 2016
Eugène Marais dramatiseer Koranna-dwaalstorie oor inheemse musiek
August 9, 2016

Marthinus van Bart

kultuurkroniek@gmail.com

  

Die Franse natuurkundige reisiger, kartograaf en kunstenaar Francois le Vaillant (1753-1824) het die Kaapprovinsie in die laat VOC-tydperk by twee geleenthede besoek en soveel besonderhede as hy maar kon, opgeteken en geïllustreer van die mense, diere en plante wat hy teengekom het. Ook het hy gedetailleerde landkaarte geteken, wat daarvan getuig dat hy ’n hoogs opgeleide kartograaf was.

Afrikanergeskiedenis KOINA MUSIEKINSTRUMENTE Le Vaillant 1780's

Die Franse ontdekkingsreisiger Francois le Vaillant se waterverftekeninge van die verskillende musiekinstrumente wat hy in die 1780’s by die Koina van Suidelike Afrika aangetref het. Sy sketse word in die Parlementsbiblioteek in Kaapstad bewaar. Die twee mondboë aan die bokant van die skets word met die mond en die tikstokkie daarby gespeel. Links is ʼn soort ramkie, met drie snare, en links onder is ʼn trom, wat met die tromstokkie daarby bespeel word. In die middel is ʼn rietfluit en regs is ʼn panfluit van vyf riete van verskillende lengtes vir toonverskeidenheid.

Sy eerste besoek was in 1781 en 1782, en die tweede was van 1783 tot 1785. Sy ontdekkings is in pragtig geïllustreerde boeke in Frankryk gepubliseer. Hy was ’n begaafde illustreerder en besonder vaardig met waterverf. Van die 165 illustrasies in sy boek Second Voyage dans l’interier de l’Afrique par le Cap de Bonne-Esperance dans les annees 1783, 84 et 85, uitgegee in 1795, is minstens 23 bewese sy eie kunswerke. Die oorspronklike akwarelle is in 1963 deur die regering op ’n Sotheby-veiling in Londen aangekoop. Dit word saam met kopieë van hierdie publikasie in die Parlementsbiblioteek in Kaapstad bewaar. In 1973 is hierdie boek in Afrikaans met die titel Francois Le Vaillant, reisiger in Suid-Afrika deur die Parlementsbiblioteek uitgegee. Dit bevat volkleurafdrukke van sy illustrasies. Die werk kan by die naslaanafdeling van die SA Nasionale Biblioteek in die Kompanjiestuin bestudeer word.

In hierdie tweede reisjoernaal bespreek Le Vaillant in detail van die  musiekinstrumente wat hy onder die Koina in die Oos-, Suid- en Wes-Kaap aangetref het. Hoewel verskeie ontdekkingsreisigers voor Le Vaillant, soos die Portugese seevaarder Vasco da Gama, in hul joernale oor die inheemse bevolkings se musiek en musiekinstrumente geskryf het, is Le Vaillant se beskrywings en illustrasies meer gedetailleerd en het hy die instrumente ook  kleurvol geskets.

Tapinyoka die Damara-mondboogspeler is in 1861 in waterverf deur Thomas Baines, Britse kunstenaar en ontdekkingsreisiger, in Namibië geskilder.

Tapinyoka die Damara-mondboogspeler is in 1861 in waterverf deur Thomas Baines, Britse kunstenaar en ontdekkingsreisiger, in Namibië geskilder.

Hy het ’n aantal trompies, wat in die 1700’s ’n gewilde musiekinstrumentjie in Frankryk was, saamgebring om aan die inheemse musikante van Afrika bekend te stel. Die trompie, guimbarde in Frans genoem, met sy enkele trilplaatjie wat met die duim geaktiveer word terwyl die instrumentjie teen die tande vasgedruk word en die speler daaroor in- en uitasem, kan slegs tone van die Westerse harmoniese musiekreeks voortbring. Wat Le Vaillant nie vooraf  kon weet nie, was dat die inheemse snaarinstrumente in Suider Afrika juis dieselfde tone voortgebring het.

In sy joernaal beskryf die Fransman hoedat hy trompies aan die Auteniqua uitgedeel het. Hulle het dit nie geken nie, maar nadat hy die werking daarvan aan hulle gedemonstreer het, het hulle dit gou baasgeraak. Dit het hulle aangespoor om hul eie musiekinstrumente te voorskyn te haal, en toe is daar uitbundig konsert gehou. So kon Le Valliant die Koina se instrumente en musiek in aksie sien, dit bestudeer, beskryf en ook nateken.

Hy beskryf die mondboog, of ghoera, as soortgelyk aan ’n gewone jagboog, met die verskil dat aan die een ent van die dermsnaar ’n stukkie platgedrukte veerskag in die vorm van ’n gelykbenige driehoek by die aansluiting met die boograam ingelas is. Die speler klem die veerskag met sy kake vas en stut die ander punt van die boograam teen die grond. Deur op die boograam te druk of te ontspan, word ’n toonverskeidenheid voortgebring terwyl die speler se mond as resonator dien. Die speler tik ritmies met ’n ligte stokkie teen die boogsnaar om musiek te maak.

Anton van Wouw se brons beeld Die Skapu-speler wat hy in 1907 gebeeldhou het. Die skapu is ʼn snaarinstrument verwant aan die mondboog, maar daar is ʼn kalbas aan die boogskag geheg wat as resonator die klank versterk. Die speler tik ritmies met ʼn stokkie op die snaar. Foto: Strauss & Co

Anton van Wouw se brons beeld Die Skapu-speler wat hy in 1907 gebeeldhou het. Die skapu is ʼn snaarinstrument verwant aan die mondboog, maar daar is ʼn kalbas aan die boogskag geheg wat as resonator die klank versterk. Die speler tik ritmies met ʼn stokkie op die snaar. Foto: Strauss & Co

Le Vaillant beskryf ook ’n kitaaragtige instrument met drie snare, die ramkie, wat hy ’n rabouquin of gabowie noem. Die bestaan uit ’n driehoekige klankbord met ’n kam waaroor drie dermsnare gespan en aan die bopunt van die nekgedeelte in snaargleuwe geheg word.

Le Vaillant beskryf voorts ook ’n trom, khais, wat hy met ’n Europese romelpot vergelyk. Dit bestaan uit ’n erdepot met ’n dun leervel oor die opening gespan. Die tromspeler gee die maat met ’n tromstok, wat soos ’n klein knopkierie lyk, aan.

Ook beskryf en skets hy twee soorte rietfluite. Een lyk na ’n primitiewe weergawe van die Europese dwarsfluit, en die ander na ’n panfluit, bestaande uit vyf riete van verskillende diktes en lengtes (vir toonverskeidenheid) wat met riempies aanmekaar vasgemaak is. Die enkel-rietfluite is met die mond en neus geblaas.

Die laaste kommandeur van die Kaapse garnisoen onder die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie, kol. Robert Jacob Gordon (1743-1795), was ook ’n ontdekkingsreisiger wat mooi kon skilder. Hy beskryf in sy reisjoernaal van 1779 hoedat hy op sy reis deur Namakwaland onder meer ’n dansparty van die Klein Namaquas bywoon. Mans speel op fluite van verskillende lengtes en diktes, en die vroue klap ritmies met die hande op die maat van die musiek, terwyl almal vooroor buigend rieldans met die gestamp van die voete. Voordat die musiek egter begin, kry elke fluit sy eie toonhoogte, wat met proppies binne-in die instrument verstelbaar is. Hy beskryf die musiek as “’n wilde melodie”.

Die dansparty van die Klein-Namakwas is in 1779 in waterverf deur kol. Robert Jacob Gordon, kommandeur van die Kaapse garnisoen en ontdekkingsreisiger, gemaak. Hulle speel op fluite, klap ritmies met die hande op die maat van die musiek, en rieldans met die gestamp van die voete. Voordat die musiek begin, word elke fluit se toonhoogte met behulp van proppies in die instrument ingestel.

Die dansparty van die Klein-Namakwas is in 1779 in waterverf deur kol. Robert Jacob Gordon, kommandeur van die Kaapse garnisoen en ontdekkingsreisiger, gemaak. Hulle speel op fluite, klap ritmies met die hande op die maat van die musiek, en rieldans met die gestamp van die voete. Voordat die musiek begin, word elke fluit se toonhoogte met behulp van proppies in die instrument ingestel.