Klinkende harde munt was skaars

Die geskiedenis van Leeuwenhof
June 25, 2018
Die toekoms van Afrikaans is in die hande van die jeug
June 26, 2018

As ’n mens vandag jou beursie optel en hy voel swaar, veral van die twintigsentstukke wat tot oorlopens in omloop is, kan jy jou beswaarlik indink in ’n tydperk toe kleingeld glad nie beskikbaar was nie.

In Transvaal was daar in sy pionierstyd geen banke nie en besigheid is op die ruilhandelstelsel gevoer tot dat banknote in 1865 uitgereik is. Vanaf 1858 is vir goedere of dienste met goedvore betaal. Hierdie goedvore, wat op enige stukkie papier of karton gedruk is, is as kleingeld uitgereik en is in 1860 opgevolg deur mandate. Die vroegste voorbeelde was met die hand geskryf en in die meeste gevalle was die betaalmiddel sterling. Mandate was ook maar niks anders nie as skuldbewyse wat namens die regering uitgereik is en deur die ontvanger vir kontantgeld ingeruil kon word wanneer die staat oor die geld sou beskik. Nog later is gedrukte mandate gebruik met riksdaalders as betaalmiddel. Na 1 September 1865 was mandate egter nie meer geldig nie.

Goedvore was op enige stukkie papier of karton gedruk en uitgereik as kleingeld. Dis deur president MW Pretorius geteken.

’n Interessante stuk in die versameling van die Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum in Pretoria is ’n mandaat gedateer 30 Augustus 1861. Dit is uitgereik as die salaris van die “Landdrost te Schoemansdal” vir ’n bedrag van 260 riksdaalders, 5 schell, 2 stuivers (ongeveer R 106). ’n Ander waardevolle stuk in die versameling is ’n tweede mandaat gedateer 4 April 1865, wat geteken is deur pres. M.W. Pretorius vir die bedrag van Rds. 150 (ongeveer R60) “aan den Heer D.J. Oosthuizen, ter vergoeding van ’n perd in die oorlog verloor”. Nogal ’n besonder goeie prys vir ’n perd in daardie dae! Die oorlog was waarskynlik een van die eerste Sekoekoenie-oorloë.

’n Mandaat in die versameling van die Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum, Pretoria, uitgereik ten opsigte van verlies vir ’n perd gedurende ‘n Sekoekoeni-oorlog.

Winkeliers en selfs kerke het nieamptelike geld uitgereik om die tekort aan kleingeld te oorbrug. ’n Persoon het byvoorbeeld na die skriba van sy kerk gegaan en “kerkgeld”, sê so vir ’n pond, gekoop. Dan is daar aan hom stukkies karton met verskillende waardes gegee wat in die kollektebordjies gegooi kon word. Die Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum het drie voorbeelde van hierdie “kerkgeld”. Twee daarvan is uitgereik deur die Nederduits Hervormde kerk op Rustenburg. Hulle gesigswaarde was ses pennies en drie pennies onderskeidelik. Daar is ook een van die Gereformeerde gemeente van Pretoria, ter waarde van drie pennies. Hierdie kerkgeld is deur ’n ouderling of diaken geteken.

Kerkgeld wat by ’n skriba verkry kon word om in die kollekte-bordjie te gooi.

In die S.P. Engelbrecht-museum, Pretoria, is daar ook ’n voorbeeld van “kerkgeld” van Potchefstroom, ter waarde van ’n halfkroon. Op hierdie spesifieke “kerkgeld” is geen aanduiding van watter susterskerk dit uitgereik het nie, maar aangesien dit deur ds. Dirk van der Hoff geteken is, kon slegs die Nederduits Hervormde Kerk dit uitgereik het, en wel voor 1870.

Dit is duidelik dat hierdie “kerkgeld” of goedvore heelwat in waarde gewissel het. Waarskynlik is dit ook net in Transvaal uitgereik.

Sterling is in 1825 in die Kaap in gebruik geneem, d.w.s. ruim tien jaar voor die Transvaalse Trekkers die Kaap verlaat het, maar tog het hierdie mense riksdaalders bly gebruik. Dit lyk asof dieselfde toedrag van sake geheers het wat ons vandag beleef: die ouer geslag dink steeds in terme van sterling en kan nog nie die desimale stelsel heeltemal aanvaar nie.

In 1868 het die Z.A.R. vyf uitgawes van banknote in ’n tydperk van vyf jaar gehad. Die eerste vier uitgawes is plaaslik gedruk, terwyl die vyfde uitgawe in Londen gedruk is. Die eerste uitgawe van banknote in 1865 was vir Riksdaalders (rds) 10 en 5 (die bekende ‘bluebacks’). Latere reekse banknote is in sterling uitgegee.

As deel van die Z.A.R. se vierde uitgawe van banknote in 1868 is goedvore ter waarde van 1/- en 6d uitgereik. President Pretorius, die tesourier en ’n lid van die Uitvoerende Komitee, moes persoonlik elkeen van hierdie 150,600 banknote en goedvore teken — voorwaar ’n reusetaak. Al die note het dieselfde datum nl. 1869 gehad.

Die vyfde uitgawe van banknote, wat in 1871 verskyn het, het klein nootjies ingesluit om die goedvore van die vierde uitgawe te vervang. Hulle waarde was 10/-, 5/-, 2/6, 1/- en 6d. Op hierdie klein nootjies was daar ’n afdruk van president Pretorius se handtekening. Die £20, £1O, en £1 is egter deur die waarnemende president D.J. Erasmus geteken.

Klein nooitjies in die vyfde uitgawe van annknote wat in 1871 verskyn het. Dit is teruggetrek toe die Krugergeld in omloop gekom het.

Vir elke reeks banknote wat uitgereik was, moes ’n aantal plase van die Staat as sekuriteit dien. Die ironie was dat banknote niks werd was nie. Staatsamptenare wat hierdie note as betaling ontvang het, het in ellende geleef en boere het die banknote in die vuur gesteek, want handelaars wou hulle nie as betaalmiddel aanvaar nie. Die handel was behoorlik mank. Buite Transvaal is note nie aanvaar nie en in die Z.A.R . self kon die note nie vir meer as een-derde van die gesigswaarde ingeruil word nie.

Na die ontdekking van goud en diamante het die posisie aansienlik verbeter en was die Z.A.R. nie so kronies op die rand van bankrotskap nie.

Al die bogenoemde note het in 1873 verval, nadat die Cape Commercial Bank in Transvaal gestig is, wat die eerste bankgeriewe in Transvaal aangebied en ook takke in Lydenburg en Potchefstroom gestig het. Hierdie bank is egter weer in 1882 gesluit. Vanaf 1892 het die Z.A.R. sy eie munte gehad (Krugermunte) en is die banknote met lae waardes van die vorige uitgawe teruggetrek.

Na 1900 was daar egter nog steeds nie voldoende kleingeld nie. Ook die Vrystaat het ’n tekort van kleingeld ondervind. Besighede en munisipaliteite het ook hul eie tekengeld uitgegee. Die munisipaliteit van Jagersfontein in die O.V.S. het byvoorbeeld ’n waterpennie uitgegee vir gebruik in waterpompe. Die firma Stewarts en Lloyds van Bloemfontein het die waterpompe in 1913 opgerig en ook 10,000 tekenmunte in Birmingham, Engeland laat staan vir gebruik in die pompe. Die waterkrane was ongeveer drie voet hoog. Bo-aan was die kop van ’n leeu en in die bek van die leeu was die pypie waaruit die water gekom het. Die tekenmunte, wat teen ’n pennie stuk by die munisipaliteit gekoop kon word, moes in ’n gleufie gegooi word. Nadat ’n hefboom gedruk is, het drie gelling water deur die dun pypie in die leeu se bek gestroom. Daar was geen beperking nie en water kon so dikwels moontlik getap word mits ’n tekenmunt vooraf in die kraan gevoer is. In 1935 is die water egter na huise op Jagersfontein aangelê.

’n Tekenmunt wat deur die munisipaliteit van Jagersfontein uitgereik is om die tekort aan kleingeld te oorbrug.

Om en by 1900 is kaartjies vir gebruik in Rhodesië deur die “Chronicle Printing Works”, Bulawayo gedruk om die tekort aan munte te oorbrug. Agter op die kaartjies is posseëls ter waarde van 10/-, 2/6, 2/-, 1 P, 6d en 3d onderskeidelik geplak. Op die kaartjie was ’n kennisgewing gedruk dat kontant ter waarde van die gesigswaarde van die seël aan die persoon uitbetaal sou word wat die kaartjie aanbied, mits dit op of na 1 Augustus 1900, maar nie later nie as die 7 Oktober 1900 aangebied word. Dit blyk dus dat hierdie seëlgeld net vir twee maande geldig was.

Gedagtig aan al hierdie probleme wat die burgers van die Z.A.R. ondervind het om kleingeld in die hande te kry, moet ’n mens in die toekoms miskien twee keer dink voordat jy weer ontevrede is oor die magdom twintigsentstukke wat die beursie so swaar maak!

 

Bron: Esterhuysen, Matthy. 1969. Lantern, Desember, pp. 41-43.