Kinders by Vegkop
July 27, 2015
Moordspruit
July 27, 2015

deur CR Swart.

Onder die name van die 71 Afrikaners wat op die onvergeetlike dag van 6 Februarie 1838 wreed saam met Piet Retief deur die Zoeloekoning, Dingane, vermoor is, kry ons ook dié van jong Pieter Retief, ’n seun van elf jaar oud en sy drie maats, Danie Liebenberg, Kosie Oosthuizen en Kootjie Opperman.

Piet Retief was die leier van die Voortrekkers in Natal en ’n man wat baie hoog geag en geliefd was onder die ander Voortrekkers. Hy was eerlik, opreg en bekwaam en selfs sy vyande het groot ontsag en eerbied vir hom gehad.

Uit die staanspoor het hy dit gewettig dat geen grond van die Zoeloes met geweld geneem sal word nie. Daarom het hy na Dingane, die koning van die Zoeloes, gegaan en hom gevra om ’n stuk land in Natal aan die Voortrekkers te verkoop, waar hulle in vrede kon woon.

Dingane was eers teësinnig en het die Voortrekkers daarvan beskuldig dat hulle ’n klomp van sy beeste gesteel het. Dit was nie waar nie en Piet Retief het hom meegedeel dat ’n ander koning se mense die skuldiges was – die koning se naam was Sekonyela, ’n vyand van Dingane. Die Zoeloekoning sê toe vir Retief dat as hy en sy kommando die beeste by Sekonyela sal gaan afneem en aan hom terugbesorg, hy hulle as beloning die stuk land sal gee wat hulle vra.

Piet Retief was gewillig om dit te doen en dit is so afgespreek. Die Voortrekkers het daarin geslaag om die beeste by Sekonyela te gaan haal en hulle na Dingane gestuur, wat baie bly was om sy beeste terug te kry. Piet Retief het dus gedoen wat die Zoeloekoning van hom gevra het en hy kon nou eis dat die koning ook sy woord hou en die grond aan die Voortrekkers afstaan. Hy besluit toe om na die kraal van Dingane te gaan en die kontrak te laat teken.

Die harde lewe wat die Voortrekkers moes lei, het van klein Pieter ’n dapper kêreltjie gemaak. Hy was elf jaar oud, maar taai en gehard. Hy kon perdry en met ’n geweer skiet net soos enige groot man. Elke keer as sy pa op ’n tog gegaan het, het hy klein Pieter saamgeneem. Die seun het dit baie geniet en al die gevare en ongemak trotseer of dit niks was nie.

Toe sy pa op hierdie tog na Dingane moes vertrek, het Pieter ook nie daaraan gedink om agter te bly nie, maar opgewonde uitgesien na die besoek aan die groot koning van die Zoeloes van wie hy al so baie gehoor het. Alles is vir hulle klaargemaak en sy ma het hulle saalsakke vol lekker kos gepak. Die aand voor die vertrek was alles gereed, sodat hulle vroeg die anderdagmôre net kon opsaal en ry.

Die Voortrekkers was nie almal bymekaar nie, maar het in verskillende laers ’n ent weg van mekaar gestaan. Die eerste klompie wat vertrek het, was uit Piet Retief se laer. Hulle het vandaar by die ander laers aangery om die manskappe ’n kans te gee om aan te sluit en saam te ry.

Baie vroeg die môre, toe dit nog donker was, het Pieter saam met sy pa opgestaan, hul perde gaan opsaal en tot by die tent gebring. ’n Paar ander mans was toe ook reeds daar. Eers het sy pa godsdiens gehou. Hy het ’n stukkie uit die Bybel gelees en ernstig gebid om die Here te vra om te waak oor hulle wat wegry en ook hul dierbares wat agterbly in die laer te beskerm. Die môrester het nog helder aan die donker hemel geblink toe sy pa “Amen” sê,  hulle sy ma groet en die teuels oor die perde se koppe gooi.

Sy ma het Pieter aan haar hart gedruk, gesoen en gesê: “Dag, Pieter, jy moet lekker saamry, hoor, en pas jou tog goed op, my seun.”

Sy het nog vir oulaas ’n stuk biltong in sy sak gedruk en gesien hoe hy manhaftig op sy perd klim. Min het sy geweet dat dit die laaste keer sou wees dat sy haar seun sien. Maar sy was vol moed.

Meteens het geweerskote deur die lug geknal. Dis die teken van afskeid, en Piet Retief met sy burgers spring op hul perde en ná ’n laaste “Dag, Vrou” en “Dag, Mammie” van pa en seun, galop die perde die donker in, op pad na die ander laers – en vandaar na Dingane se stat.

Klein Pieter wou so graag darem een of meer maats hê om ook saam te gaan, want hy sou te alleen voel tussen die klomp grootmense – en ’n seun wil tog maar maats van sy eie ouderdom hê om allerhande pret aan te vang. Hulle ry gou by die ander laers langs en die ander mense sluit by hulle aan. Groot was sy blydskap toe nog drie ander seuns ook aansluit om saam met hul pa’s te gaan. Die seuns kon baie help, soos om die perde vas te hou en op te saal. Die drie maats se name was Danie Liebenberg, Kosie Oosthuizen en Kootjie Opperman. Die vier seuns het mekaar goed geken. Hulle het toe ook by mekaar gery en was heeltyd saam. As die kommando afsaal, versorg die seuns hul pa’s se perde en hul eie en help ook vuurmaak om die ketel vir koffie te kook en om vleis te braai.

Koning Dingane se stat was ver en hulle het eers op die dertiende dag by Dingane se kraal aangekom. Laat ons nou eers vertel hoe die kraal of stat van die koning van die Zoeloes gelyk het.

Klein PieterDie naam van die koning se hoofstat was Umgungundlovu, wat beteken “die woonplek van die olifant”. Dit was teen ’n ronde bult geleë en daar was bosse rondom, maar by die kraal self was dit kaal. Buite-om was ’n ronde muur van hoë pale met skerp punte. Binnekant was omtrent 1 500 strooihutte waarin Dingane se soldate gewoon het – tussen 15 000 en 20 000 Zoeloes. Dan volg daar weer so ’n muur van pale met ’n groot oop plek binne waar die koning en sy mense bymekaargekom het. Bokant die middelste sirkel was daar ’n verdere klomp strooihuise waarin koning Dingane en sy honderde vroue gebly het. Van sy koningshut af was daar ʼn gang van rietmure en met plat klippe uitgelê tot by ’n groot oop plek onder ’n groot wildevyeboom. Dingane se sitplek was in die koelte onder die wildevyeboom vanwaar hy oor sy hele stat kon sien, én ook nog alles wat ’n hele ent daarbuite gebeur. Binnekant was nóg ’n veekraal, seker vir sy vetste slagbeeste, en hoër teen die bult buite was nog veekrale. Daar was vyf hekke in die mure waardeur ’n mens die stat kon binnekom.

’n Entjie onderkant sy kraal was ’n spruitjie. Vanwaar Dingane altyd gesit het, kon hy mooi kyk op ’n klipkoppie oorkant die spruit. Daardie koppie was die plek waar die wrede Zoeloekoning al duisende ander Zoeloes laat vermoor het. Die klipkoppie was naderhand wit van die hope bene van die vermoorde Zoeloes.

Tussen die koppie en die groot kraal was nog ’n paar huisies waar ’n Engelse sendeling, eerwaarde Owen, en sy familie gewoon het.

So het die plek gelyk wat klein Pieter daardie oggend gesien en nuuskierig bekyk het toe hy saam met sy pa se kommando daar aangekom het. Hulle het te perd in gelid agter mekaar gery, twee aan twee, 35 rye altesame. Hy en sy drie maats het agter die grootmense gery. Toe hulle teen die bult af na die stat ry, het hulle ’n paar sarsies skote as saluut vir die Zoeloekoning geskiet. Hulle ry toe deur die hek in die kraal na die kaal plek in die middel, waar derduisende Zoeloes saamgedrom het om die Voortrekkers te sien. Daar is eers ’n skyngeveg gehou en die Zoeloes het gedans. Daarna is die kommando toe weer by die hek uit om buite  te gaan afsaal.

Al die dinge was vir klein Pieter en sy drie maats baie mooi om te sien en terwyl sy pa en ander met die koning gaan praat en besigheid doen, het hulle rondgestap en alles bekyk.

Dit was ’n Saterdag toe hulle daar aangekom het, en hulle het Sondag en Maandag ook oorgebly. Dingane het die kontrak onderteken waarin hy die stuk land aan Piet Retief en die Voortrekkers gegee het as beloning vir sy beeste wat hulle teruggebring het. Hulle sou die Dinsdag weer na hul eie laers teruggaan.

Klein Pieter 2Die koning het gedurende daardie paar dae allerhande dinge laat doen om die Voortrekkers te onthaal. Die Zoeloesoldate het oorlogsdanse uitgevoer en skyngevegte gehou met groot lawaai en vertoon. Die ouer Zoeloes se regiment was die Wit Skilde en die jongeres weer die Swart Skilde, en nog ’n ander klomp het hulle die Wildebeeste genoem. Hul osse was ook geleer om aan die manewales deel te neem. Daar was eers 400 osse wat saam met die soldate aan die dans deelgeneem het; toe hulle weggelei is, kom daar weer 400 swartwitrugosse in hul plek, en nog later weer 400 wit osse. Dit was pragtig om te sien en die vier jong seuns was maar al te gretig om altyd by te wees as die oorlogsdanse gehou word, want so-iets het hulle nog nooit vantevore gesien nie. Dit was vir hulle te wonderlik hoe oulik die osse afgerig was.

Dingane vra toe vir Piet Retief of dit vir hom mooi is en of hy ook sulke osse het. Piet Retief se antwoord was: “Ja, dit is baie mooi en ek het nog nooit so iets gesien nie. Ons Voortrekkers het ook osse, maar ons gebruik hulle om ons waens te trek.”

Dingane antwoord toe: “Dan is jy nie so ’n groot koning soos ek nie.”

Die Voortrekkers het darem ook vir die Zoeloes gewys wat hulle met hul perde kan doen. Hulle het allerhande maneuvers uitgevoer; in twee seksies na mekaar toe gejaag en geweerskotegeskiet; toe het hulle te perd teen mekaar reisies gejaag en naderhand het van die vinnigste Zoeloes te voet teen die Voortrekkers se perde kom hardloop. Hierdie jaery was vir die seuns groot pret. Dit alles het ’n diep indruk op die Zoeloekoning gemaak, want toe die Voortrekkers klaar was, het Dingane gesê dat hy verbaas is oor die spoed van die perde en die ratsheid van die ruiters. Die Zoeloes het in daardie dae nog nie perde gehad nie.

Dingane het hom baie vriendelik vir die Voortrekkers voorgedoen en hulle kon nooit dink dat hy in werklikheid slu was nie. Al die tyd het hy planne sit en beraam om hulle te laat vermoor. Piet Retief en sy mense was weer verlig dat alles so goed afgeloop het en het haastig geraak om huis toe te gaan. Toe hulle koning Dingane vir oulaas gaan groet, is hulle aangesê om hul perde en wapens in die sorg van die agterryers te laat staan. Dit was baie teen hul sin, maar hulle moes dié gebruik gehoorsaam. Hulle gaan toe maar in en Dingane kom uit sy hut en gaan sit op sy stoel onder die wildevyeboom. Hy gee toe die bevel dat die Wit Skilde en die Swart Skilde na vore moes kom en laat hulle in ’n halfmaan voor hom staan. Hulle was omtrent 3 000 soldate en almal met kieries gewapen.

Dingane laat toe vir Piet Retief en sy manskappe roep om te kom groet. Vooraan stap die forse gestalte van Retief, die leier van die Voortrekkers in Natal. Hy het net ’n karwats in sy hand en om sy lyf is ’n bladsak en waterfles. Agter kom sy manskappe en ook sy seun met dié se drie maats, wat niks van die seremonies wou misloop nie. Hulle stap toe tussen al die duisende Zoeloes in en gaan staan voor die koning.

Dingane staan toe op en praat met Piet Retief. Hy sê dat dit sy begeerte is dat die Voortrekkers nou moes kom en besit neem van die land wat hy hulle gegee het. Hy wens hulle ’n voorspoedige reis toe en vra hulle om eers te gaan sit en bier te drink saam met hom en sy volk. Retief moes langs die koning plek inneem en die ander Voortrekkers moes op ’n klein afstand voor hom op die grond op hul hurke sit. Die koning beveel toe sy soldate om eers weer te dans en staan self op om die sang te lei.

Die dansery en sang begin. Die aarde dril van die wilde rondspringery van die 3 000 Zoeloes en die woeste lawaai dreun om die klompie Voortrekkers wat daar op die grond sit, omring deur die Zoeloemenigte. Dit word al woester en wilder; die Zoeloesoldate kom al nader, gaan dan weer ’n entjie terug; maar elke keer kom hulle nog nader aan die Voortrekkers.

Naderhand, toe die lawaai só erg raak dat die Voortrekkers nie eers hul eie stemme kon hoor nie, begin Piet Retief ongeduldig word. Hy vra toe vir Dingane om die Zoeloes ’n entjie verder van hulle af te laat dans.

“Ja,” skree Dingane, maar hy gaan maar aan en sing: “Drink, o, drink van die bier! Jul brandende kele roep daarna! Drink soveel as wat julle kan; want môre sal julle nie meer drink nie.”

Die Voortrekkers het teen dié tyd al onraad gemerk en besef dat hulle lewens in gevaar is. Maar dit was te laat. Die valse Zoeloekoning het hulle verraai. Meteens fluit Dingane, soos hy altyd doen as hy wil hê sy soldate moet die vyand aanval, en hy skree: “Maak dood die towenaars!”

Die duisende Zoeloes storm op die klein klompie Voortrekkers af wat nie eens kans gehad het om op te spring nie.

“Verraad!” skree ’n paar Voortrekkers, en “Here help!” kom daar uit ’n paar kele in die angs van die dood.

Daar sit die vier maats, jong Pieter en die ander drie. Hulle kan nie begryp wat nou gebeur nie. Gaan die Zoeloes hulle nou rêrig doodmaak, of is dit ’n nare droom, ’n aaklige nagmerrie? Pieter probeer opspring om na sy pa te hardloop, op wie hy vertrou, maar dit help nie. Soos ’n groot swart muur val duisende Zoeloes op hulle en vertrap hulle. Hulle probeer nog, maar daar’s geen vegkans nie, want hulle is vasgedruk en magteloos. Nog altyd deur skreeu Dingane vir sy soldate: “Maak dood die towenaars!” ’n Groot klomp Zoeloes pak Piet Retief tegelyk en hy kry nie eens kans om homself te verdedig nie. Terwyl Retief weggesleep word, gaan sit Dingane weer op sy stoel en roep uit: “Neem die hart en die lewer van die Voortrekkerkoning en begrawe dit op die pad van die Voortrekkers!”

Klein Pieter 3Party van die Voortrekkers het dit reggekry om hulle los te spook en hul messe uit te ruk. Ander slaan met die vuis en veg tot die uiterste toe met moed en in wanhoop. Hulle word deur die Zoeloes weggesleep tot buitekant die kraal en daar met rieme vasgebind, terwyl hulle gedurig woes met kieries geslaan word. Só word hulle die 1 200 tree na die moordkoppie gedra.

Piet Retief is gespaar tot heel laaste. Vasgebind moes hy staan en aanskou hoe sy vriende – en sy eie seun – doodgemaak word. Eers daarna is hy doodgeslaan. Wat presies alles met klein Pieter Retief en sy drie maats in daardie uur van foltering gebeur het, weet ons nie en sal ons nooit weet nie. Ons weet net dat hulle hul jong lewens vir vryheid opgeoffer het.