Klagskrif teen die Goewerneur

Begin van ’n mitiese stryd teen maghebbers
January 16, 2015
In die “donker gat” opgesluit
January 18, 2015

Op 31 Augustus 1705 het die jaarlikse verpagting van die Kaapse “koele wijne” plaasgevind. Die vier mense wat die hoogste gebie het, moes 36 450 gulden aan die Kompanjie betaal. Plotseling het Willem Adriaan egter laat afkondig dat hy nie tevrede met dié bedrag is nie en het gevra of daar nie ’n hoër bod is nie. Johannes Phijffer, iemand met ’n twyfelagtige verlede, bie toe 2 650 gulde hoër as die ander vier saam.

Willem Adriaan het vol trots aan die Here XVII geskryf oor die mooi bedrag wat hy hiermee vir die Kompanjie kon wen, maar vir die boere was dit ’n teken dat dit tyd geword het om op te tree. Die vaardige skrywer Adam Tas het ’n lywige klagskrif opgestel wat met die eerskomende retoervloot versend sou word. Die meeste klagtes het verband gehou met die onwettige grondbesit van amptenare, maar ook hul pligsversuim en oneerlike gedrag. Met voorbeelde is aangetoon dat die amptenare, veral Willem Adriaan, die burgers onbeskof behandel en die Kompanjie benadeel met oneerlikheid en wangedrag.

Terwyl Hüsing, Tas en hulle vriende die klagskrif opstel, het die gevoelens tussen die boere en amptenare versleg. Toe die oud-burgerraad Jan Rotterdam een Sondag nie soos al die ander burgers opstaan toe die goewerneur die kerk binnekom nie, het laasgenoemde die saak in die politieke raad laat bespreek en die ou man is na Batavia verban. Rotterdam het gesê dat hy aan ’n ouderdomskwaal ly en nie kon opstaan nie, maar daaraan het die raad en die goewerneur hulle nie gesteur nie.

Die goewerneur het ook die vleiskontrak met Hüsing verbreek. Die Here XVII het wel beswaar gehad dat die kontrak in 1700 vir tien jaar aan Hüsing toegeken is, maar nou het die pag in die hande gekom van vier slagters wat net sou doen wat die amptenare wou hê.

Spanning het toegeneem. Vooraanstaande boere van die Kaap, Stellenbosch, Franschhoek en Drakenstein het die klagskrif onderteken. Toe die retoervloot op 4 Februarie 1706 in Tafelbaai anker, was daar 63 name onderaan. Byna die helfte van die ondertekenaars was Hugenote. Vroeër het Adam Tas hulle beskou as vreemdelinge, maar nou was hulle vir hom “onze Franse broeders” wat saamwerk in die stryd teen die amptenare.

Daar was geen kommissaris by die vloot aan wie hulle die klagskrif kon oorhandig nie. Maar hulle het vriende onder die bemanning gehad en die klagskrif is aan die skeepsarts Abraham Bogaert gegee wat sou sorg dat dit die Here XVII bereik. Die goewerneur het ’n brief uit Batavia ontvang. Sy broer Adriaen het hom vertel van die eerste klagtes wat soontoe gestuur is, en ook gesê wie dit gestuur het. Hy het ’n geskrif opgestel wat hom aanprys as ’n heerlike voorbeeld van sedigheid en iemand van “seer goedertieren en saghtmoedigen aerdt”. Hy het die landdros Starrenberg met die getuigskrif platteland toe gestuur sodat soveel boere as moontlik dit kon teken.