Danie Smal
July 27, 2015
Klein Pieter
July 27, 2015

deur GHP de Bruin.

Op 7 September 1801 is ’n seuntjie op die plaas Schoongezicht in die distrik Klein-Drakenstein gebore wat een van die mees bewoë tydperke in die Afrikaner se geskiedenis sou meemaak.

Voordat klein Sarel Cilliers ses jaar oud was, moes hy reeds die eerste lang trek met die ossewa meemaak. Sy ouers het na Graaff-Reinet getrek en op die plaas Riviertjie gaan woon. Hy het die veld met sy prag en gevare goed geken, met rowerbendes wat voortdurend die skape wou steel. Sarel het maar min kans gehad om te leer, maar hy het darem geleer skryf – en hy hét nogal baie geskryf, veral in sy later jare. Daar is ’n hele paar interessante briewe van hom en ook sy joernaal wat belangrike lig op gebeurtenisse rondom die Groot Trek werp. Die Bybel het hy goed bestudeer en geken.

Kinders by VegkopHy was altyd ’n gelowige kind. Hy vertel self in ’n brief dat hy sy hart vir die Here gegee het toe hy nog maar tien jaar oud was. Sarel sê dat hy die eerste keer vir Hom getuig het toe hy twaalf was. Dit was op die plaas Wortelfontein van Hans Lubbe. Hulle was ’n hele klomp kinders bymekaar in die skaduwee van ’n groot rots. Daar het ’n onkeerbare begeerte by hom opgekom om aan die ander kinders te vertel hoe nodig dit was dat hulle hul harte aan die Here moes gee.

Hy het sy pa getrou gehelp met die boerdery. Twee van sy broers, Petrus en Abraham, het ook saam met die trek na Graaff-Reinet gekom en later het die drie broers hulle eie plase in die omgewing gehad. Toe Sarel 22 jaar oud was, op 6 Oktober 1823, is hy op Graaff-Reinet met Anna Francina Viljoen getroud. Hy was ’n veeboer en moes baie gevare in die distrik Nieu-Bethesda trotseer. Sy ouer broer Petrus het na Groenfontein in die Nuwe Hantam, nou Colesberg, verhuis en Sarel het hom later daarheen gevolg.

In die begin van 1836 het Sarel Cilliers hom met sy vrou en ses kinders en verskeie ander huisgesinne by Hendrik Potgieter se trek aangesluit. Hulle het saam getrek tot by die Sandrivier, toe Potgieter met ’n kommissie van twaalf man, onder wie ook Sarel Cilliers, noordwaarts getrek het om handelsbetrekkinge met die Portugese in Delagoabaai (die huidige Maputo in Mosambiek) aan te knoop.

Sarel Cilliers was ’n goeie skut en só het hy op hierdie tog die guns van ’n hele kraal verwerf toe hy ’n berugte wolf doodgeskiet het wat die stam die “kindervreter” genoem het. Die kommissie het die trek van Louis Tregardt in Soutpansberg ontmoet en vandaar nog verder noordwaarts gegaan.

Op 2 September was hy weer terug by sy mense by die Vaalrivier. Hy moes verneem van die treurspel toe die Ndebele die Trekkers aangeval het. Hulle het eers die jagparty van Erasmus aangeval en bykans almal vermoor, behalwe Erasmus en sy seun, wat die ander Trekkers gaan waarsku het. Hulle het gou ’n laer getrek en weerstand teen die Ndebele gebied. Die Liebenbergs, wat verder op langs die Vaalrivier was, is almal vermoor, behalwe ’n seuntjie en twee dogtertjies wat ontvoer is. Van die kinders is nooit weer gehoor nie.

Sarel Cilliers het ’n voorgevoel gehad dat hulle weer aangeval sou word. Voorbereidings is getref en ’n laer is getrek aan die voet van ’n lang rant, later Vegkop genoem. In die middel van die laer het Sarel Cilliers sewe waens vir die vroue en kinders laat trek. Sy kommando het maar uit 33 weerbare manne en sewe seuns bestaan, van wie die tienjarige Paul Kruger en Cilliers se oudste seun, wat effens ouer was, die grootstes was.

Vroeg die oggend van 29 Oktober 1836 het die 33 man te perd uitgetrek om die aanvallers tegemoet te gaan. Sarel Cilliers het tot op 50 tree genader en nog probeer om met hulle te praat, maar hulle het gestorm en die klompie Voortrekkers probeer omsingel. Dié het weer op die perde gespring en ’n ent weggejaag, weer hulle gewere gelaai en dan weer geskiet. So het hulle stadig teruggeval tot by die laer.

In die laer is alles in gereedheid gebring. Niemand moes skiet voordat Sarel Cilliers die eerste skoot aftrek nie. Die Ndebele het die laer tot op ’n sekere afstand genader, waar hulle gaan sit het. Sarel Cilliers het almal byeengeroep en nog ’n kort woord gespreek. Daarna het hy ’n ernstige gebed gedoen. Watter oomblik! ’n Klein klompie mense wat hulle moes verdedig teen ongeveer 5 000 Ndebele! Iemand het voorgestel dat hulle nog moes probeer om ’n wit vlag op te steek. Toe die Ndebele dit sien, het hulle dadelik opgestaan en die laer gestorm. Maar die Ndebele kon nie die laer oorweldig nie. Hulle het die waens probeer losruk, maar die doringtakke was met kettings vas, en hulle het die waens bykans ’n halwe meter na buite gepluk. Ná die geveg het 430 Ndebele om die laer gelê. Sarel Cilliers is in die knie gewond, twee burgers het gesneuwel en dertien ander is gewond. Daar het 1 137 assegaaie in die laer gelê. AI die vee is weggevoer. Ten spyte daarvan het Sarel Cilliers en sy gesin ná die slag die Here vir hul redding gedank.