Khoi-Khoin verloor selfstandigheid

Pionierswerk op Genadendal
January 29, 2015
Slawewette en die koms van die Islam
January 31, 2015

Dwarsdeur die agtiende eeu het Khoi-Khoi in diens van blanke boere in die Kaapkolonie getree. Die Khoi-Khoin was vaardig met die afrigting en hantering van beeste. Hulle het koeie gemelk, geweet hoe om diere af te slag, velle te bewerk, diervet uit te braai, velsakke, velskoene, swepe en rieme te maak. Met bietjie bykomende onderrig kon hulle ook botter en seep maak. Die vroue het as koks en huisbediendes gewerk en kinders opgepas, en het die grasmatte gevleg wat gebruik is om hutte en waens mee af te dek. Hulle het soms ook hul eie vee aangehou en hul rantsoene aangevul.

Die Khoi-Khoin kon dus op die plase ’n deel van hul beeste behou en hul gesinslewe voortsit. Dit het egter ook tot die ekonomiese afhanklikheid van die Khoi-Khoin gelei, en sodoende tot die verlies van hul selfstandigheid.

Die wit mense het die klanke van die Khoi-Khoi-tale baie vreemd en moeilik gevind en baie min van hulle het dit ooit aangeleer. Die Khoi-Khoin het egter gou die koloniste se taal begin aanleer. Die soort Afrikaans wat hulle geleer het, staan vandag bekend as Oranjerivier-Afrikaans. Kenmerkend daarvan is die agtervoegsel  -goed wat as meervoudsvorm gebruik word, soos in Pa-goed, houtwerk en dié klas goed, gabruikgoed, meneergoed en oupagoed-hulle.

Baie plekname van die Khoi-Khoin het behoue gebly. Gamka beteken “leeurivier” (ka=rivier) en Keiskamma “blink water” (kamma=stroom); Tsitsikamma beteken “helder water” en Karoo “droog”; Kareedouw kom van karee (“bossie”) en douw “bergpas”. Woorde soos abba, boegoe, dagga, karos en kierie het al vroeg in die geskiedenis deel van alle soorte Afrikaans geword, en later ook koedoe, kwagga, geitjie, kango, kamma, hoeka, en uitroepe soos eina, aitsa en arrie. Die Khoi-Khoin het algaande ’n belangrike bydrae daartoe gelewer dat hul vorm van Afrikaans oor die hele Suid-Afrika uitgebrei het.

Die Khoi-Khoi- en San-bevolkings was in elk geval maar yl. Die prestige van die kapteins was verbonde aan veebesit, ’n uiters kwesbare vorm van rykdom. Nadat hulle hul vee aan Nederlandse ekspedisies verloor het, het die meeste Khoi-Khoi-leiers nie meer die gesag besit om hul volgelinge tot verset op te roep nie.

Tog het daar wel verset voorgekom. In 1739 was daar ’n opstand in die noorde wat vir ’n deel aangevoer is deur Khoisan wat vir blanke boere gewerk het. Die grootste Khoisan-opstand was egter van 1799 tot 1803 aan die oosgrens. Hier was die opstandelinge voormalige plaaswerkers. Dit was die laaste keer dat hulle geveg het om die grond terug te wen wat hulle verloor het. Die opstand het ten dele misluk weens verdeeldheid tussen die Khoisan en onenigheid met hul Xhosa-bondgenote.

Sommige Khoisan het geweier om te rebelleer, en die rebelle se werwers het geantwoord: “Loop julle maar, ons sal al die Christene doodmaak, en júlle ook almal!” Ná hul militêre neerlaag het Khoisan-werkers hulle teen onderwerping verset deur roof en dade van weerspannigheid op plase – sloerwerk, brandstigting en krummeldiefstal.