Kerklike verdeeldheid

Afrikaners veg teen Afrikaners
April 16, 2015
“Sneeuwitjie van die veld”
April 19, 2015

In party twiste in Transvaal het kerksake ’n rol gespeel. Omdat die Kaapse NG Kerk so onsimpatiek teenoor die Groot Trek was, wou baie Transvalers nie onder die Kaapse kerk staan nie. In Augustus 1853 het ’n Algemene Kerkvergadering in Rustenburg besluit om ’n selfstandige kerk te vorm met ds. Dirk van der Hoff uit Nederland as voorlopig die enigste predikant. Dié kerk het bekend gestaan as die Nederduitsch Hervormde Kerk in Afrika. Die Lydenburgers het egter met Van der Hoff gebreek en onder die Kaapse kerk gebly. Die plaaslike Volksraadslede het die beweging gesteun en Lydenburg het hom kerklik en staatkundig afgeskei van die res van die republiek. In 1859 was daar vereniging, maar die gemeente Lydenburg sou selfstandig bly onder die Kaapse kerk. Dié gemeente, en ander wat daarna gestig is, was bekend as die NG Kerk in Transvaal. Gevoelens het soms hoog geloop. So het kmdt. Jan Viljoen in 1868 ’n NG predikant, ds. Frans Lion Cachet van Lydenburg, met ’n sambok bygekom en hom en twee proponente met geweld uit die distrik Zeerust gejaag omdat hulle nie sy bevel wou gehoorsaam om pad te gee uit die distrik nie. Die dominee en een proponent is later te voet na die plaashuis en het daar, soos gereël, ’n diens gehou. Viljoen was ondersteuner van die Hervormde Kerk en sterk gekant teen die stigting van nog NG gemeentes omdat hy bang was vir meer verdeeldheid.

Die verdeeldheid het toegeneem met die stigting van die Gereformeerde Kerk deur ds. Dirk Postma, wat deur die Christelike Gereformeerde Kerk in Nederland uitgestuur is. Met sy koms het hy lidmate, bekend as Doppers, gevind wat ontevrede was met die erediens in hulle kerk. Hulle het niks gehou van die Evangeliese Gesange nie, en het gemeen dat daardeur afgewyk word van die kerkorde van die Sinode van Dordrecht (1618-1619). Vir ander lidmate was gesange soos “Op bergen en in dalen”, “O goedheid Gods”, “Uren, dagen, maanden, jaren” en “Ruwe stormen mogen woeden” (wat almal later in Afrikaans verwerk is) ’n deel van ’n kosbare geestelike erfenis. Die Doppers was nie net in Transvaal nie. Die meerderheid was oorspronklik in Colesberg en Burgersdorp – lede van veral die families Coetzee, Kruger, Aucamp, Van der Walt en Venter. Heelparty Transvaalse Doppers was prakties al los van die Hervormde Kerk, en toe hulle ’n eendersdenkende predikant soos ds. Postma kry, het hulle op 10 Februarie 1859 in Rustenburg die Gereformeerde Kerk gestig. Postma en sy kollega ds. Jan Lion Cachet het in 1869 in Burgersdorp ’n Gereformeerde teologiese kweekskool opgerig.

Ook in die Kolonie het die kerkeenheid tot niet gegaan. Ná 1830 het party wit mense daarop aangedring dat bruin mense nie tot dieselfde gemeente as hulle behoort nie. Aanvanklik wou die kerk nie aan hulle toegee nie. Maar die Sinode het op 6 November 1857 op voorstel van ds. A Murray senior van Graaff-Reinet ’n verreikende besluit geneem. Dis skriftuurlik dat wit en nie-wit tot dieselfde gemeente behoort, maar waar dit “ten gevolge van de zwakheid van sommigen” die bevordering van die saak van Christus onder die heidene in die weg sou staan, sal die gemeente wat uit die heidene opgerig is of sal word, sy Christelike voorregte in ’n afsonderlike gebou of inrigting geniet. Ook die meerderheid bruin mense het dié ontwikkeling gesteun, en die groei van die NG Sendingkerk, op 5 Oktober 1881 gestig, was fenomenaal.