Kerklike lewe aan die Kaap

Volksfeeste
February 5, 2015
’n Groot Kaapse prediker
February 7, 2015

Hoewel Afrikaners nie veel gelees het nie, was daar een boek waaruit die meeste elke dag gelees het en wat byna in alle gesinne te vinde was: die Bybel. ’n Amptelike kommissie het in 1806 bevind: “Die godsdiens word skynbaar op prys gestel; die Bybel, ’n gebede- of ander godsdienstige boek lê oral byderhand. Iedereen is gesteld op die doop van sy kinders, die eed word vir ’n heilige saak gehou en mens gaan nie aan tafel sit sonder om te bid nie.”

GD Scholtz skryf dat die Bybel seker selde so tot die hart en gemoed van mense gespreek het as tot die 18de-eeuse Afrikaners. Die Bybel het die verhaal vertel van die volk Israel wat in byna soortgelyke omstandighede verkeer het: ’n volk met ’n roeping en opdrag om getrou aan God te bly te midde van vyandiggesinde nie-gelowiges. Israel moes hom van die heidene afsonder, en dikwels met die wapen teen hulle verweer; was die volk wederstrewig, is dit gestraf.

Die beleid van die Kompanjie, onder wie se gesag die Kaapse kerk gestaan het, het van die begin af ’n bepaalde geestelike eenheid geskep. In die gebed waarmee Van Riebeeck sittings van die Politieke Raad moes open, is die begeerte verwoord dat die “ware gereformeerde Christelijke Lere” voortgeplant en verbrei mag word.

Omdat nie alle Nederlanders Protestante was nie, was daar ook Rooms-Katolieke in die klein samelewing. Die politieke raad wou hulle by die Gereformeerde Kerk laat aansluit. Met die beëindiging van immigrasie na Suid-Afrika het daar geen Katolieke bygekom nie. Dié wat daar was, het óf die land verlaat óf Protestante geword. Die feit dat die Afrikaners almal tot ’n Calvinistiese kerk behoort het, het ’n soort eenheid geskep wat sou ontbreek het as ’n deel van die volk Protestants en ’n deel Rooms-Katoliek was. Wat dié geestelike eenheid bevorder het, was dat daar min Lutherane was, en dat laasgenoemde in die omgewing van Kaapstad gekonsentreer was.

Die eerste gemeente was dié aan die Kaap, gestig 1665. Stellenbosch het in 1686 bygekom, en die gemeente Drakenstein, tans bekend as die Paarl, tuiste van die Hugenote, in 1691. Die klein getalle weens die beëindiging van immigrasie word weerspieël in die stadige groei van die aantal gemeentes: Roodezand (tans Tulbagh) in 1743, Zwarteland (Malmesbury) in 1745, Graaff-Reinet 1792 en Swellendam 1798.

Die kerk het wit en bruin lidmate gehad. Dit was die gebruik van die Europese volkere dat, wanneer Oosterlinge hulle tot die Christendom bekeer, hulle in alle opsigte as gelykes behandel sou word. Dit was aan die Kaap ook die geval. A Moorrees, ’n kerkhistorikus, skryf: “Alle lidmate het sonder onderskeid van kleur of stand aan dieselfde Nagmaalstafel aangesit. Die vraag was nie wat ’n man se kleur was nie, maar of hy al of nie lidmaat van die Christelike kerk was.” Omdat almal wat Christen geword het, in die kerk opgeneem is, het die vroeë NG Kerk nie aan iets soos ’n sendingkerk gedink nie. Die meeste Protestantse kerke het eers in die 18de eeu in die sending begin belang stel.