Gerhardus Marthinus Rudolph, CMG – Landdros van Ladysmith, 1881–1899
Februarie 22, 2016
Die lewe in die Konsentrasiekamp
Februarie 22, 2016

(geskryf deur P. Van Zyl, Laerskool Japie Greyling, soos verskyn in Junior Historia)

(In sy boek Fear and be slain wat in 1931 verskyn het, gee kaptein Jack Seely op bladsye 89-96 ’n volledige beskrywing van die voorval met die kinderheld, Japie Greyling. Na afloop van die Tweede Vryheidsoorlog het hy navraag in Suid-Afrika laat doen om die heldhaftige seun wat bereid was om ses geweerlope, ’n kwaai kaptein (kaptein Seely) en nog veertien ander soldate te weerstaan eerder as om sy vader en vaderland te verraai, op te spoor. Daarna moes hy die saak met vraelyste laat oplos, omdat verskeie persone daarop aanspraak gemaak het dat hulle dié dapper seun was. Kort voor die onthulling van die Japie Greyling-monument op 23 November 1966 het die skrywer van hierdie artikel ook te doen gekry met ’n nasaat van nog ’n aanspraakmaker op die heldedaad. Voldoende bewyse is egter in die verlede ingewin om die werklike held uit te wys. Deur die toedoen van Seely is die akker van kinderhelde met nog ’n kinderheld verryk. Dit het later ook by hom ’n lewensideaal geword om die buitengewone held weer te ontmoet.)

As kind was Jack Seely ’n uiters lewendige knaap en het baie dikwels waaghalsige streke aangevang. Geen wonder dat hy ’n leier onder sy maats was en ook hulle bewondering vir sy vindingrykheid afgedwing het. Hy wou baie graag ’n soldaat word en het ’n deeglike opleiding aan ’n militêre kollege deurloop. Tydens die Tweede Vryheidsoorlog het hy die rang van kaptein beklee en het tydens die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) een van die hoogste militêre poste in Brittanje beklee.

Toe hy as jongman op die skip die Kaikoura gewerk het, het die skip Tafelbaai aangedoen. Die gesig van Tafelbaai en omgewing het hom so met bewondering vervul dat hy in ekstase uitgeroep het dat dit die mooiste plek op aarde is. Min het hy geweet dat hy jare later as Britse soldaat daar aan wal sou gaan om teen die twee Boererepublieke te veg.

Tydens ’n besoek aan Nieu-Seeland het hy sir George Grey ontmoet, wat goewerneur aan die Kaap was. (Grey-Kollege in Bloemfontein, waar Japie Greyling na die Tweede Vryheidsoorlog skoolgegaan het, is na hom vernoem.)

Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog het hy as kaptein onder lord Kitchener diens gedoen en was bekend as ’n voorbeeldige mens, gewilde leier en dapper soldaat. Hy het ’n baie groot bewondering vir die Boerevegters gehad en het hulle as dapper, beskaafde en eerlike mense beskou. (Lees maar sy boeke Fear and be slain en Adventure.)

In Maart 1901 het die voorval op die plaas Smaldeel met Japie Greyling afgespeel. Hy het op ’n vurige Arabiese ponie met die naam “Maharajah” gery, toe hy en twintig ander ruiters op die plaashuis afgestorm het. Al wou hy klein Japie maar net skrikmaak om lewensbelangrike inligting van hom te kry, het hy homself daarna altyd verwyt dat hy die seun so met die vuurpeloton die skrik op die lyf gejaag het. Kort na hierdie voorval het hy na Engeland teruggekeer en op 31 Mei 1901 by Plymouth aan wal gestap. Hy was tot lid vir “Isle of Wight” vir die Laerhuis verkies. Kort na sy terugkeer het hy verskeie Britse koerante oor die kole gehaal oor die “wolhaarstories” en valse berigte wat daar oor die sogenaamde “wrede Boere” verskyn het. Na die oorlog het hy bevriend geraak met generaal Louis Botha en het daar interessante briefwisseling tussen hulle ontstaan. Seely het eenkeer ’n afgesant na Suid-Afrika gestuur om Japie Greyling te oorreed om op sy koste ’n besoek aan Brittanje af te lê. Japie het egter geweier, omdat hy ’n kwaai asma-lyer was en niks van publisiteit gehou het nie.

In 1931 verskyn Seely se boek Fear and be slain. Hy het ’n eksemplaar aan Japie Greyling gestuur met ’n inskripsie in sy eie handskrif voor in die boek waarin hy die voorval van 1901 in herinnering roep. Dié boek behoort vandag aan Japie Greyling (jnr) van Bethlehem (O.V.S.). Die volgende gedeelte kom in die boek voor:

“Then I saw one of the most beautiful things that I have ever seen in my life. The boy was transfigured by patriotism and devotion. He lifted his head, looked me straight in the face, put his hands behind his back and said in a loud clear voice: ‘Ich sall ne sag’ (dit is: ek sal nie sê).

As long as I live I shall never forget that wonderful moment when love of father, home and country triumphed over imminent and apparently certain death.”

In 1937 het Seely (toe burggraaf Mottistone) na Suid-Afrika gekom, maar moes weens siekte weer terugkeer sonder dat hy Japie Greyling kon opsoek. Dit was vir hom ’n diepe teleurstelling.