Japie Greyling
June 27, 2017
Marie Koopmans-De Wet
June 27, 2017

(Geskryf deur mej. CE Muller, soos verskyn in Historia Junior, Februarie 1961)

Laat een wintermiddag stap daar ’n seun in die grootpad van Utrecht na Marthinus-Wesselstroom, nou die bekende Wakkerstroom.

Dit was al goed skemer, toe die seun by ’n boerewoning aanklop. Toe die boervrou die deur oopmaak, sien sy die seun met die oop en vriendelike gesig voor haar – regop in sy nuwe pak Met ’n breërandhoed in sy hand. In gebroke Afrikaans, met ’n Skotse aksent, vra hy die vrou verblyfplek vir die nag en verseker haar dat hy daarvoor sal betaal. Tipies van die boerenasie, is hy ingenooi en van die nodige voorsien.

So het Oliver John Hindon, later bekend as Jack Hindon, verkenner en spoorbreker, ons Afrikanerwêreld ingeloop op ’n koue winternag.

Op Wakkerstroom aangekom, loop hy by ’n kerk wat in aanbou was, verby. Gelukkig vir hom kon hy hier werk kry as messelaar wat hy met albei hande gegryp het.

Hier het hy baie geleer, soveel dat hy later homself as bouaannemer geadverteer het.

Jack het die gasvryheid en opregtheid van die Afrikanernasie baie waardeer. Dit het gemaak dat daar groot bitterheid in sy hart gekom het, as hy sien hoe die Afrikaners verneder en valse dinge van hulle gesê word. Hy was ’n persoon wat reg en geregtigheid wou laat seëvier.

Dit was die jaar 1899 toe die Boere verneem dat Engelse troepe in aantog was. Die mense was verskrik en bang.

Jack het besluit dat hy sy deel gaan doen. Hy was op sy pos in die kommando van veldk. Thys Pretorius. Later het hy in die republikeinse Polisie-korps diens gedoen.

Die Engelse wou die land besit en die Boere het besef dat hulle wapens sou moet opneem. Jack was toe in die omgewing van Middelburg en dit was sy taak om die mense in die omgewing op te roep.

Die seun van ’n weduwee was ook opgeroep. Sy was baie bekommerd en wou hom slegs laat gaan, as Jack ook gaan om na hom te kyk. Jack was natuurlik nie opgeroep nie en hy besluit toe om met iemand wat wel opgekommandeer is, uit te ruil. Nou was hy in die posisie om na die seun te kyk wat hy ook gedoen het.

Hindon is ingedeel onder generaal Lukas Meyer – hulle moes die Drakensberge oor om na Dundee op te ruk. Later word hy onder bevel van genl. Dawid Joubert geplaas.

Een van sy nuttige verkenningswerke was gedoen tussen Lombardskop en Ladysmith. Daar was ’n hele paar Engelse posisies, bekend as die “Rooi-forte”. Die forte was geleë op ’n rantjie, “Devonshire Hill”, by die draai van die Kliprivier.

Die Boere was in die omgewing en het die forte opgemerk. Hulle kon nie sien of daar Engelse by die forte was nie. Hindon besluit toe om self te gaan kyk of daar troepe was. Hy kon niemand kry wat wou saamgaan nie en moes alleen gaan.

In ’n spoelsloot het hy met sy perd gery tot naby die fort, maar daar was niks te sien nie. Hy besluit toe om nog nader te gaan en ry oop en bloot voor die forte verby. Nog was daar geen teken nie. Hindon besluit toe om terug te gaan. Net toe hy draai, skreeu iemand: “Halt, hensop!”

Toe hy omkyk, sien hy twee seuns en moes toe hoor dat die twee knape self die forte wou bespied. Hulle is saam met Jack terug en was natuurlik hoogs in hulle skik. Op hulle terugtog kry hulle ’n lerse “Brigade”, onder leiding van majoor McBride. Dié bied toe dadelik sy manskappe aan en hulle is terug na die forte.

Ook nie lank nie of twee Engelse maak hulle verskyning en dit was nie lank nie toe klap die skote. Onder die skietery het ’n verslaggewer se perd die loop geneem en sy baas verskrik alleen gelaat. Gelukkig het Hindon dit gesien en die perd aan sy baas terug besorg.

Hindon het ’n groot hart gehad. Daar was die keer toe hy ’n Engelse fort stormgeloop het. Die Engelse het gedink dat dit versterking was en moes vinnig spore maak, toe hulle ontdek dat dit die Boere was.

Jack het een van die soldate ingehaal en hom beveel om oor te gee. Die soldaat vloek en skel op hom en jaag weg. Ongelukkig vir die soldaat, trap sy perd in ’n gat en gooi hom dat hy met ’n boog deur die lug trek. Nou het Jack die kans gehad om hom te skiet naar Jack het dit nie gedoen nie. “Nou kan jy vir ’n Boer ‘hensop’ nè?” het hy gevra en sy geweer laat sak. Die soldaat was so beïndruk deur sy grootmoedigheid dat hy sy hand uitgesteek het en dié van Jack geskud het.

So dapper was hy dat hy dikwels belangrike dokumente na hulle bestemmings geneem het. Hy was baie betroubaar en het tot op die end vir die Afrikanernasie geveg.

Na die oorlog het hy met mej. Pauline Coetzee getrou.

Ongelukkig het hy sy gesondheid verloor. Sy gestel is aangetas deur senu-verlamming wat hom die gebruik van sy hande en gesigspiere ontneem het. Hy was hulpeloos en het in armoede verval. Sy vrou het hom getrou bygestaan.

Later is ’n operasie op hom uitgevoer en in Februarie 1919 is hy oorlede.

Jack Hindon sal onthou word as ’n dapper vegter van Suid-Afrika.