(geskryf deur dr. J.J. van Tonder, soos verskyn in Historia Junior)
Dit het op Germiston plaasgevind. Danie Theron en Barnie Enslin was op weg na Pretoria.
’n Trein het gereed gestaan om oor ’n paar minute na Pretoria te vertrek. Daar was baie mense op die stasie. Alle beskikbare plekke op die trein was reeds beset. Daar was veral baie vrouens en kinders wat nie sitplek gehad het nie, want die trein was volgepak.
Danie kon dit nie verdra dat vrouens en kinders soveel ongerief moes verduur nie. Hy roep vir Barnie en hulle stap na die stasiemeester se kantoor toe. Baie beleefd vra hy die meneer om nog ’n passasierswa te laat aanhak ter wille van die vrouens en kinders.
Ewe ongeërg antwoord die stasiemeester dat hy nie bevele ontvang nie en nie verder voorsiening vir die gerief van die passasiers sou maak nie.
Weer herhaal Danie sy versoek baie beleefd. Toe is die stasiemeester net warm en hy beduie luidrugtig dat hy nie sou toelaat dat ander mense hulle met sy werk bemoei nie. Hy sou nie nog ’n wa aanhak nie.
Beslis maar beleefd vra Danie weer dat nog ’n passasierswa aangehak moes word en hy verduidelik dat hy nie sou toelaat dat moeders en kinders soveel ongerief verduur nie. Daarby sê hy dat hy kommandant Theron is.
“Og, wie is kommandant Theron? Ek laat my nie beveel nie en ek weet wat my werk is. Ek sal nie verdere voorsiening vir die gerief van die passasiers maak nie.” So raas die grootmeneer en swaai met sy arms.
Toe is kommandant Theron kwaad en sê baie beslis: “Kyk hier, ek beveel jou nou om nog ’n passasierswa te laat. aanhak, en voor dit nie gebeur nie, sal die trein nie die stasie verlaat nie.” Hy en Barnie Enslin stap toe reguit na die masjinis wat die volgende bevel ontvang: “… Sien jy hierdie man met sy gelaaide geweer! Nou ja, probeer jy net hierdie trein laat wegtrek sonder my bevele dan kry jy ’n koeël deur die kop.” Danie sit Barnie daar op wag, wat sy geweer intussen van sy skouers afgehaal het. Die masjinis het dadelik besef dat hy in sy pasoppens moes bly, want nou het hy met besliste manne te doen.
Daar blaas die stasiemeester die fluitjie en gee die sein dat die trein moes vertrek.
Maar die trein staan doodstil.
Die fluitjie blaas weer en die stasiemeester swaai met die arm dat die trein moet vertrek.
Maar die masjinis verroer nie ’n spier nie.
Die stasiemeester stap vinnig langs die trein na die masjinis toe, wat ewe ongeërg die toedrag van sake afwag.
“Waarom laat. jy nie die trein vertrek nie? Die fluitjie het al twee keer geblaas en die trein moes al vertrek het. Waarom word my bevele so verontagsaam?” en met baie lawaai gee die man uiting aan sy boosaardigheid.
Ewe kalm wys die masjinis net na die gewapende burger wat hom in die oog hou.
Raas-raas stap die stasiemeester terug en beduie hoe hy sal laat afreken met die loslopers wat sy treindiens in die war stuur. Hy loop ’n paar oud Volksraadslede ook daar raak by wie hy teen kommandant Theron uitvaar. Terwyl hy nog so beduie, kom Theron ook daar by hulle aan. Hy verduidelik hoe hy die stasiemeester drie keer beleefd gevra het om beter voorsiening vir die gerief van die vrouens en kinders te maak. Hy vervolg verder: “Ek beveel jou nou vir die laaste keer dat hier binne vyf minute nog ’n passasierswa moet aangehak word of anders sal jy voel hoe smaak vyf-en-twintig houe van die stiegriem.”
Toe skrik die stasiemeester.
Binne ’n paar minute was daar nog ’n wa aangehaak. Danie het veral vir vrouens en kinders daarin goeie plekke aangewys.
Toe het die trein vertrek!
***
Daar is ’n monument vir kaptein Danie Theron langs die hoofweg tussen Johannesburg en Potchefstroom opgerig. Kinders het die leeue-aandeel in die insameling van fondse vir die monument gehad.