Kapstylhuise, Puntjie, dist. Riversdal (Geen toegang)

Die Barry-kerkie, Port Beaufort
June 27, 2018
Oude Post, Rietvallei, Swellendam
June 27, 2018

H Clayton • Kapstylhuis 1887 • Africana-museum, Johannesburg

Enige kilometers van Heidelberg op weg na Riversdal draai ’n pad suidwaarts na Vermaaklikheid weg. Nouliks 10 km van hierdie ouderwetse dorpie met sy sprekende naam is Puntjie op ’n krom landtong met die see aan die suidekant en die breë monding van die Duivenhoksrivier aan die westekant, geleë. Puntjie is ’n “onvoorbedagte opelugmuseum” van bykans 70 kapstylhuisies of, soos hul hier bekend staan, hartbeeshuisies.

Puntjie is deel van die plaas Kleinfontein. Met die loop van tyd het vissers en vakansiegangers sonder verlof van die opeenvolgende eienaars van die plaas, en dikwels tot hul ergenis, hier tent opgeslaan en kapstylhuisies begin oprig. Toe mnr. Danie Hoffmann, lank burgemeester van Bredasdorp, uiteindelik eienaar van Kleinfontein geword het, het hy Puntjie, ’n terrein van ongeveer vier hektaar afgekamp en aan die inwoners van Vermaaklikheid en Brakfontein die reg gegee om daar huisies op te rig en te gebruik teen ’n nominale betaling van 50c per jaar. Byna almal het vir hulle kapstylhuisies, elk met ’n klein kookhuisie in dieselfde styl, laat oprig. Die argitek en boumeester van die meeste kapstylhuisies hier op Puntjie was mnr. F.J. (Kaffertjie) de Jager van Vermaaklikheid.

Hierdie nederige woninkies, waarvan die oudste ongeveer 50 jaar is, is opgerig in ’n boustyl waarvan die geskiedenis in Wes-Europa sover as 500 n.C. teruggevoer kan word, en dit is bekend dat soortgelyke huisies aldaar wydverspreid was—vanaf Hongarye in die ooste oor Duitsland tot in Spanje en Portugal in die weste. Trouens in sommige van hierdie lande word dit tans nog deur veewagters gebruik. Vanuit Europa het die boustyl na Suid-Afrika oorgewaai.

Aan die begin van die 18de eeu het die trek van die veeboer na die binneland begin en reeds lank voor die einde van hierdie eeu het hul voorhoede aan die verre oosgrens gestaan. Aanvanklik was die kapwa hul tuiste, maar sodra hulle hul vir ’n rukkie op ’n plek gevestig het, het hulle vir hulself beskuttings opgerig en één van die algemeenste was die kapstylhuisie. Hierdie huisies moes dan ook in ’n stadium in ons geskiedenis dwarsoor Suid-Afrika te vind gewees het.

Met verloop van jare het hierdie huisies egter al hoe meer verdwyn totdat daar vandag slegs enkeles in die Oos-Vrystaat en in die omgewing van Oudtshoorn, Heidelberg en Riversdal oorgebly het. In eersgenoemde distrikte word hul hoofsaaklik as tabakskure en waenhuise gebruik, terwyl die huisies by Vermaaklikheid en Puntjie nog bewoon word.

Die benaming kapstyl is eintlik baie beskrywend van hierdie boustyl. In sy eenvoudigste vorm en in die klein lyk dit na die dak van ’n Kaapse huis wat plat op die grond geplaas is. ’n Reeks kapbalke van plaaslike hout word ewewydig van mekaar in die grond geplant om ’n oppervlakte van min of meer 8 meter x 5 meter te bedek. Bo word die kapbalke met houtpenne aanmekaargevoeg en met koppel- of hanebalke versterk wat insgelyks met penne aanmekaargeslaan of met rourieme vasgemaak is. Dwarsoor die kapbalke word dwarslatte vasgemaak. In sommige gevalle word ter versterking ’n windlat oorhoeks van voor tot agter oor die kapbalke geplaas. Die ganse raamwerk word dan met gras bedek wat met riempies, grastou of natuurlike vesel, soos basvesels, daaraan vasgewerk word. Die nok word waterdig gemaak deur dit met ’n mengsel van grond en beesmis te smeer. Vandag word ander materiaal vir die doel gebruik. Die voor- en agterkant word ietwat gerond en aan die een end is ’n inspringende deuropening waarin ’n staldeur met bo- en onderdele ingebou is. Vir lig en ventilasie is daar ’n klein venstertjie aan die teenoorgestelde end wat met ’n houtluik toegemaak kan word.

Oorspronklik is die vloere van gebreide klei gemaak en met beesmis gesmeer. Later is miershoop gebruik en is die vloere herhaaldelik met die bloed van slagvee of lynolie gesmeer om dit hard en glansend te hou. Binne-in word die kapstylhuis deur ’n eenvoudige afskorting in ’n slaap- en woonkamer verdeel. In ’n kookskerm buite die huis word ’n oop vuur gemaak en die kos gekook.

Vanselfsprekend is daar in verskillende dele van ons land op verskillende tye variasies in hierdie boustyl aangebring. So is o.a. in Natal ’n lae sooimuur, met grond en beesmis gesmeer, aan weerskante van die huisie gebou om die kapbalke te ondersteun, om die woonruimte teen trekke en reënwater te beskerm en om die verlies van ruimte wat deur die skuins mure veroorsaak word, te verminder.

Puntjie, met sy bykans 70 kapstylhuisies, is dus ’n unieke “riethuis”-dorpie en volgens dr. B.E. Biermann “ ’n argitektoniese monument van meer as bloot nasionale belang”.

(Geproklameer 1967)

 

H Clayton • Kapstylhuis 1887 • Africana-museum, Johannesburg

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 117-118.