“‘k Ben een Africaander!”

“Victórie! Victórie!” vir die Vryburgers
January 19, 2015
Die verdwyning van Frans
January 21, 2015

In die tyd van onrus, en net voordat die nuus van die “Victórie” gekom het, was Stellenbosch die toneel van ’n byna onbenullige insident wat later deel sou word van die mitiese gebeure.

Vier besope en baldadige jong mans, onder wie die sewentienjarige Hendrik Biebouw, het op 6 Maart 1707 groot moles gemaak in die kompanjiesmeul op Stellenbosch. Die gehate landdros Starrenburg het bygekom. Twee van die losbandige jong mans het op hul perde gespring en weggejaag. Maar Hendrik kon nie betyds wegkom nie, kry ’n paar houe met die rottang en vlug weer die meul in.

Die landdros probeer hom oorreed om huis toe te gaan, maar dan skreeu hy die woorde uit: “Ik wil niet loopen, k’ben een Africaander, al slaat den Landdrost myn doot, of al setten hij myn in den tronk ik sal nog wil niet swijgen.” Dit is die eerste keer dat die woord “Afrikaner” vir ’n wit mens gebruik is – in die 17de eeu is dit deurgaans gebruik vir ’n inboorling.

In Vergelegen noem Starrenburg vir Biebouw “’n blote penkop” wat ”venynig” vir hom skree: “’Onthou vandag, jou verdomde kinderslaner, / Jy sal nog bars. Ek is ’n Afrikaner!.’ / So staan Hollanders, Duitsers en Franse saam / met die hiergeborenes onder daardie naam.”

Vir die aand se gedoentes moes Biebouw duur betaal. Hy is blykbaar na Batavia gestuur, maar volgens een oorlewering het die skip noord van die huidige Perth in Australië gestrand en moes hy saam met die inboorlinge lewe.

In elk geval is “Afrikaner” tot diep in die 18de eeu gebruik vir alle mense wat aan die Kaap gebore is, wit of swart. Onderskeid is getref tussen “vaderlanders”, of mense wat in Nederland gebore is, en “Afrikane” of “Afrikaanders”. ’n Afrikanervolk het nog nie bestaan nie, maar die verskeie elemente het al begin versmelt. D.J. Opperman laat Willem Adriaan van der Stel in sy drama Vergelegen optimisties sê: “Ons word in hierdie land nog almal één groot volk / uit baie volke saam, en neem van iedereen die beste.” In die 19de eeu het Boere sinoniem vir Afrikaners geword.

Die Duitssprekendes aan die Kaap is maklik in die Hollandse samelewing opgeneem. Daar was wel baie Duitsers, maar hulle was oorwegend mans, wat dus hoofsaaklik met Hollandstaliges moes trou. Selfs in die hele agtiende eeu, toe daar meer Duitsers as Hollanders na die Kaap gekom het, het dit die Hollandse karakter onaangetas gelaat.

Die taalverwantskap tussen Duits en Hollands het die samesmelting ook vergemaklik. Party Duitsers het gekom uit gebiede wat staatkundig in Duitsland geval het, maar waarvan die taal naby aan Nederlands was. Tot in die sewentiende eeu het baie Hollanders Duits nie as ’n vreemde taal beskou nie, maar as ’n suster- of moedertaal. Daar was by die Duitsers ook geen wil om as aparte groep te bly bestaan nie, iets wat die Franse aanvanklik saamgebind het. Baie Duitsers het hul name verhollands en soms hul vanne verander toe hulle in diens van die Kompanjie getree het. Die Duitssprekendes het ook nie, soos die Franse, ’n eie gemeente gehad nie. Die Lutherse gemeente, waarvoor die Lutherane hulle beywer het, het eers in 1780 gekom, maar die dienste moes op bevel van die owerheid in Nederlands wees, hoewel Duitse gesange toelaatbaar was.