JP Toerien (1859-1930)

Tydlyn vir die Hugenote
April 21, 2021
Chris Blignaut (1897-1974)
April 23, 2021

deur Daantjie Dinamiet

JP Toerien, wie se skrywersnaam Jepete was, het bekendheid verwerf vir die lirieke van een van ons land se bekendste volksliedjies, “Sarie Marais”.

Jacobus Petrus Toerien is op 18 November 1859 in die Paarl gebore en het sy skoolloopbaan aan die Paarl Gimnasium voltooi. Hy het eers as ’n bankklerk gewerk, en daarna was hy as subredakteur van Di Patriot verbonde aan die drukkersfirma D.F. du Toit & Co. In sy jong dae was hy lid van die Union Debating Society in die Paarl, waar sy ernstige geaardheid daartoe gelei het dat hy die bynaam Die Filosoof gekry het. Ongeveer 1883 het die Afrikanerbond hom na Pretoria gestuur as redakteur van ’n Nederlandse koerant wat hy daar moes oprig, naamlik De Republikein, wat elke week op Woensdae verskyn het. Benewens sy werk by die koerant was hy sekretaris en algemene bestuurder van ’n tabakfabriek in Pretoria, aangesien die meeste aandeelhouers in Paarl gewoon het. Hy was ook sekretaris van die Leeuwpoort Goudmijn Maatschappij Beperk, op wie se direksie genl. Piet Joubert en ds. SJ du Toit onder meer gedien het. Verder het hy Het Koloniaal-Transvaal Syndicaat gestig met die doel om vir edelmetaal en edelgesteentes in die distrikte van Middelburg, Lydenburg en Waterberg te prospekteer. Hy het ook op die aandelemark gespekuleer maar al sy geld op hierdie manier verloor.

Teen 1896 het hy hom op Middelburg (Transvaal) gevestig en ’n nuwe koerantonderneming opgerig, Hy het onder meer die Barberton and Middelburg Herald en die Belfast Heraut uitgegee. Hy was ook die redakteur van godsdienstige publikasies soos Middernag en Maranatra. Vir sy skryfwerk het hy die skuilnaam Jepete gebruik. Tydens die Anglo-Boereoorlog (Tweede Vryheidsoorlog) het hy hom by die Middelburgse kommando aangesluit. Hy het aktiewe diens in die Steenkampsberge in die distrik van Lydenburg verrig en hom later aan die Natalse front bevind.

Toerien was getroud met Susara Margaretha (Sarie) Maré, die enigste dogter van Jacob Philippus Maré, wat later lid van die uitvoerende raad van Transvaal was en na wie ’n straat in Pretoria later vernoem is, en sy vrou, Cornelia Susanna Jacoba Erasmus. Sarie is op die plaas Eendracht aan die Suikerbosrand in die distrik van Heidelberg (Transvaal) gebore. Haar ouers was Voortrekkers en het in die omgewing van die Suikerbosrand gewoon voordat die dorp Heidelberg gestig is. Die grootste konsentrasie Voortrekkers het hulle in die wyk van die Mooirivier bevind; waar die dorp Potchefstroom aangelê is. Suikerbosrand was in die wyk van die Mooirivier, een van vyf wyke in die destydse Transvaal. Dit het gestrek van Potchefstroom tot by die huidige Wolmaransstad en Makwassie. Sarie het hom ontmoet toe sy sestien jaar oud was, en hy in Pretoria was om ’n onderhoud met haar pa te voer. Hulle is op 19 Desember 1884 getroud, waarna hulle in Potchefstroom gaan woon het. Hy het onder die skuilnaam Jepete in sy hoedanigheid as subredakteur (volgens sekere bronne, maar dalk eerder as adjunkredakteur) vir die publikasie Ons Klyntji geskryf. Later het Toerien die liedjie “Sweet Ellie Rhee” by Amerikaners wat in die myne gewerk het, gehoor. Hierdie liedjie het tydens die Amerikaanse Burgeroorlog ontstaan en is geskryf deur Septimus Winner, die skrywersnaam van Alice Hawthorn, wat van 1826 tot 1902 gelewe het. In die tydperk tussen die Eerste en Tweede Vryheidsoorloë het Jepete die woorde vertaal en sy vrou só verewig. Weens ’n drukfout is haar van as Marais eerder as Maré aangedui, en die liedjie het aanvanklik nie al die versies en woorde as vandag gehad nie.

Sy was ’n diep godsdienstige vrou, en selfverheerliking was in stryd met haar nederige geaardheid. Dit het beteken dat sy haar verbintenis met die liedjie stil gehou het solank sy gelewe het. In die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek het LB Odendaal geskryf dat hoewel daar geen afdoende bewys was dat Toerien wel die woorde geskryf het nie, alle getuienis uit beskikbare bronne wel daarop gedui het dat die liedjie se woorde wel oorspronklik dié was wat hy vir sy latere vrou geskryf het. Sarie was gekant teen die popularisering van die liedjie wat sy as intiem-persoonlike besit beskou het, en gevolglik het sy die oorspronklike gedig laat vernietig.

Nadat Toerien op 3 Mei 1930 in die ouderdom van 70 jaar oorlede is, het Sarie by haar dogters in Bloemfontein gaan woon, waar sy op 22 Desember 1939 in die ouderdom van 73 jaar oorlede is. Sy is in ’n ongemerkte graf by die Nasionale Vrouemonument ter ruste gelê. Op 10 Oktober 1995 is daar egter wel ’n grafsteen opgerig en ’n doringboom is geplant om mense te herinner aan die feit dat sy langs so ’n boom onder by die mielies aan die Mooiriv