(Geen toegang)
Ongeveer 40 kilometer van Kaapstad skiet die oorbrug van die pad van Stellenbosch na Malmesbury oor die groot snelweg na die Paarl. ’n End weg in die noordelike hoek, wat deur hierdie twee paaie gemaak word, is die ou Kaaps-Hollandse huis van die plaas Joostenberg tussen die bome geleë.
Joostenberg is een van die oudste plase in hierdie omgewing. Reeds in 1694 is dit aan die Sweed Matthys Michaels van Stockholm toegeken. Hy het vir hom ’n opstal aangelê en ’n tipiese langwerpige huisie met drie vertrekke gebou. In 1752 is dit deur die welgestelde Gerrit van der Byl van Vredenburg, Stellenbosch, gekoop. Hy het die huis tot sy huidige T-vorm en omvang verbou deur aan die noordoostekant kamers by te voeg en aan die agterkant die voet van die T uit te bou. Dit is met klip gebou wat aan die ou woning groot stewigheid en ’n aantreklike ongekunsteldheid verleen.
Die huis is nie slegs oud en verteenwoordigend van ’n bepaalde vorm van die Kaaps-Hollandse boustyl nie, maar die voorgewel verleen besondere onderskeiding daaraan. Gerrit van der Byl moes ook vir die bou daarvan verantwoordelik gewees het, want dit dra die datum 1756. Dit maak dit dus allereers een van die twee oudste gewels in die Boland. Maar dit is die vorm wat dit uniek maak, nl. ’n drielobgewel, die voorloper van die holbol en die enigste oorblywende van sy soort.
Soos aan alle ou huise, is ook aan hierdie een in die loop van twee eeue veranderinge aangebring, maar die huidige eienaar, mnr P.A. Myburgh, het dit onlangs met groot liefde en fyn aanvoeling gerestoureer.
(Geproklameer 1964)
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 83.