Die betekenis van die Transvaalse goud
July 27, 2015
Danie Smal
July 27, 2015

deur JJG Grobbelaar.

Op die plaas Bulhoek (in die distrik Steynsburg) heers daar reeds die afgelope paar dae ’n gewoel en ’n gewerskaf van die ander wêreld. Casper Kruger, die eienaar van die plaas, het besluit om na die Transoranje te trek.

Bulhoek was ’n familieplaas van die Steyns en die bruidskat wat Casper Kruger van Elsie Steyn ontvang het toe hulle getroud is. Sedert sy huwelik twaalf jaar gelede het die omstandighede op die plaas heelwat verander.

Baie bure het sedertdien in daardie streek ingetrek en vir Casper het die wêreld langsamerhand ’n bietjie nou geword. Droogtes, sprinkane en trekbokke het periodiek die plaas besoek en die weiveld erg beskadig.

Bulhoek, wat by uitstek ’n skaapplaas was, het stadigaan sy belangrikheid in hierdie opsig verloor en hoewel daar tere herinneringe aan die ou plaas verbonde was, het Casper besluit om dit van die hand te sit en van sy oortollige vee ontslae te raak.

Die vendusie het sopas plaasgevind en môreoggend douvoordag sal die trek na die Caledonrivier begin.

Die laaste strale van die ondergaande son bestraal reeds die Teebusberg (so genoem omdat sy vorm ’n mens aan ’n teebus herinner), ’n uitstaande baken in die see van rantjiesveld.

Casper stap traag huis toe en kuier oral op die werf rond om van sy handewerk afskeid te neem. Sy agtjarige seuntjie, Paul, stap saam met hom.

“Tot waar sal ons trek, Pa?” vra hy.

“Tot aan die Caledonrivier, my seun,” antwoord Kruger.

“Dit sal seker ’n lang ent pad wees, Pa, want ek sien Ma het baie beskuit uitgedroog en ’n groot klomp biltong ingepak. Ek is bly dat ek dié keer kan saamgaan. Tot nou toe het net Ouboet altyd saam met Pa gaan jag. Ek was nog nie verder as Cradock nie,” sluit hy effens verwytend af.

“Ja, Paul, jy was al dikwels op Cradock as daar Nagmaalsviering is, nè? Om die waarheid te sê, jy is op ons hoofdorp gedoop. Jy was ons vierde kind wat op Cradock gedoop is,” verduidelik sy pa. “’n Sekere ou tante het daardie dag nogal voorspel dat jy eendag ’n groot man gaan word.”

“’n Groot jagter, ja, Pa,” se Paul opgewonde. “My mond water altyd as Ouboet vertel van die lekker dae op die jag … die vrye veld … die troppe wild … die lekker wildsboud op die kole en die klompie jagters saans om die vuur.”

“Jy laat my nou sommer weer dink aan jare gelede, nog voor jou geboorte, toe jou oom Theuns en ek die eerste keer in die Transoranje gaan jag het,” vertel sy pa. “Dis toe dat ek op die stuk grond tussen die Oranje- en die Caledonrivier verlief geraak het. Die weiveld was pragtig en die wêreld het gewemel van die wild. Ons het langs die twee riviere opgegaan tot by Donkerberg. Toe het hy nog nie daardie naam gehad nie. Die Basotho’s het ook nog nie daar gewoon nie – hulle het maar kort voor jou geboorte na die berg verhuis,” verduidelik Kruger.

“Was dit toe dat Pa-hulle die mensvreters raakgeloop het?” vra Paul.

“Ja, ja,” antwoord Kruger. “Die wêreld daarlangs was vol mensvreters en daar is selfs nou nog mensvreterdorpies in Basoetoland, my seun.”

Kruger was op die punt om van sy ontmoeting met ’n mensvreter te vertel toe sy vrou Elsie hulle vir aandete roep. Vroeg die volgende oggend het die trek ou Bulhoek verlaat.

Dit was die begin van ’n reis wat vir Paul iets van ’n triomftog was, maar wat vir die Kruger-familie baie hartseer sou inhou. AI verder en verder het die ossewawiele gerol en hulle van hul geliefde Bulhoek weggevoer. Ná ’n maand se trek het hulle die Caledonrivier bereik. Hier is halt geroep, maar toe die perde uitgerus was, het Kruger en sy oudste seun na  Moshweshwe gery om verlof te vra om hulle aan die Caledon te vestig. Teen dié tyd het baie families al rondom die Koesberg (die teenswoordige Zastron) gewoon.

Moshweshwe het hierdie Voortrekkers met ope arms ontvang, want die Franse sendeling, Casalis, het hom daarop gewys dat hy die Voortrekkers kon gebruik om ’n bufferstaatjie tussen die Basotho’s en hulle aartsvyande, die Korannas, te vorm.

Hier aan die Caledon het Casper Kruger en sy familie gewoon totdat die Voortrekkers die gebied binnegetrek het. Casper se broers, Gerrit en Theuns  het eendag by hom aangekom en hom omgepraat om saam te trek in hulle soektog na die “vryheid en die see”.

Die Krugers het saamgetrek en by die Potgieter-trek aangesluit, wat ná baie swoeg en swerwe oor die wuiwende grasvlaktes van die Hoëveld uiteindelik by die Vetrivier tot stilstand gekom het.

Ná die aankoms by Vetrivier het daar ’n besige tydjie gevolg.

Meester Roos het dadelik sy skooltent opgeslaan en die jongspan is aangekeer. Onder hulle was daar baie ander wat net soos Paul Kruger op twaalfjarige leeftyd vir die eerste keer in sy lewe onderwys ontvang het!

Die vrouens moes baie herstelwerkies doen, want dit was byna ’n jaar gelede dat hulle laas klere kon koop. Gelukkig het ’n Portugese smous by die Trekkers aangekom en ’n paar rolle sis saamgebring. Voedselvoorbereiding het ook vir die vroue hoofbrekens besorg, want al hulle groente was gedaan. Gelukkig kon hulle darem pampoene van die plaaslike stamme ruil en suring op die rivierwal pluk. Die groot klipplaat by die drif was ’n uitstekende plek om wasgoed te was.

Die mans het douvoordag al gaan jag en saans laat teruggekom. Die wêreld langs die Vetrivier was ’n paradys vir die jagter. In die rivier self het seekoeie gespoeg en geblaas dat dit ’n aardigheid was.

Spoedig het die Ndebele egter die rus aan die Vetrivier versteur. By Vegkop moes daar later ’n laer getrek word om die hoofaanval van die Ndebele die hoof te bied. Hierdie geveg was die twaalfjarige Paul Kruger se vuurdoop. Later het Paul ook saam met sy ouers na Natal getrek en daar was hy ooggetuie van die moordtonele by Bloukrans en Weenen. Ná die mislukte Slag van Italeni het die Krugers saam met Potgieter na die Vrystaat teruggetrek.

In 1849 tref ons Paul Kruger as jeugdige boer op die plaas Waterkloof aan, in die distrik Rustenburg. Hoewel hy maar sewentien jaar oud is, koester Paul reeds trouplanne. Trouens, hy het reeds ’n paar leeus en olifante platgetrek en het homself dus as ’n man bewys.

Paul was op Maria du Plessis verlief, ’n nooientjie wat aan die Renosterrivier gewoon het. Tussen hom en die jong meisie het ’n byna onoorkomelike struikelblok gelê, naamlik die Vaalrivier.

Toe die eensaamheid van die plaas vir hom te veel raak, besluit Paul om weer by Maria te gaan kuier. Maar, o wee! Toe hy die gedugte Vaalrivier bereik, is dit in vloed. Sal hy na Waterkloof omdraai … of maar die rivier aandurf?

’n Boerseun het altyd ’n plan. Hy trek haastig sy klere uit, rol dit in ’n bondel en bind dit op sy kop vas. Toe haak hy die teuels van sy troue perd om sy regterarm en sak na die stormwaters af. Die water is baie sterk en stoot hom etlike honderde tree laer af uit.

Terwyl hy sy klere aantrek, hoor Paul iemand vinnig naderkom.

Hy herken dadelik die pontwagter.

“Wat makeer jou, kêrel? Is jy gek?” vra hy aan Paul. “Ek self wil dit nie eens met die pont oor die rivier waag nie, en jy gaan swem sowaar deur!”

Jong PaulPaul sê niks nie. Hy is haastig en dis al byna sononder. Hy wil nog voor donker by die familie Du Plessis aankom.

“Daar moet seker ’n groot aantrekkingskrag êrens wees,” gaan die pontwagter voort. “Is dit nie ou Casper du Plessis se dogter nie?”

“Ja,” erken Paul skamerig en spring weer op sy perd. “Moenie waag om in die nag deur te swem nie, ou seun!” roep die pontwagter hom agterna. “Kom slaap liewer hier by my oor. My huisie staan hier naby.”

Maar Paul hoor skaars die laaste woorde.

Die sweetvos moet nou met kragtige hale die streep pad oprol, wat soos ’n bruin lint voor hom Iê.

“Wel, Paul, ons sou jou nooit verwag het nie, ou seun,” groet Casper du Plessis hom. “Die Vaalrivier Iê kant en wal.”

Hulle stap die huis binne.

Eers aan die eettafel sien Paul vir Maria. Sy is pragtig uitgedos in haar mooiste rok en hy laat sy oë strelend oor haar gaan waar sy daar in die kerslig sit.

Ná die aandete en die gebruiklike huisgodsdiens, word die twee jongmense alleen gelaat.

“Jy moenie weer ter wille van my deur die vol rivier swem nie, Paul,” sê Maria effens verwytend.

“Hoe sal ek maak as die verlange my pak?” is Paul se verweer.

Dan gaan hy voort: “Jy weet, Maria, ons ken mekaar al baie jare. Ek herinner my nog goed hoe skaam ons albei was toe ek by jou moes sit in ou meneer Roos se tentskool. In die Slag van Vegkop het jy weer gehelp om lopers te giet. Toe is ons weer saam Natal toe.”

“Ja, en toe ons terugkom, het jy jou eerste leeu hier op die plaas geskiet,” val sy hom in die rede.

“Ek sal dit nooit vergeet nie,” sê Paul spoggerig. “Ons osse was in die weiveld by die Renosterrivier. Die leeu het ons osse gevang. Ses manne het te perd gegaan om die ondier te soek. Ek was die sewende, maar is nie in berekening gebring nie – nee, ek was mos nog ’n snuiter, het hulle gereken.”

“Toe ons die leeu gewaar, moes ek by die perde bly om hulle op te pas. Maar in plaas daarvan dat hulle die leeu onder die koeëls steek, peul hy hier tussen hulle uit en storm op die perde af. Ek het darem my geweer reg gehad en toe hy spring, brand ek los en skiet hom in die sprong morsdood, sodat hy op my val. Die manne moes toe kom help om die dooie leeu van my af te sleep!”

“Daar was ’n kêrel Hugo onder hulle wat toe voor by die leeu se bek gaan sit het om die tande te meet, omdat hulle so lank en yslik groot was. Sonder enige kwade bedoelinge gee ek die leeu ’n harde skop teen die pens, wat hom ’n verwoede brul laat uitstoot het, en Hugo het van skrik reg agteroor geval!”

Hulle lag heerlik saam. Hierna het die gesprek ’n ernstiger wending geneem.