John Fairbairn (1794-1864)

Andries Hendrik Potgieter (1792-1852)
March 4, 2019
Anna Elizabeth Steenkamp (1826-1906)
March 4, 2019

KAMPIOEN VIR VRYHEID VAN DIE PERS IN SUID-AFRIKA

In die dae van lord Charles Somerset het John Fairbairn na Suid-Afrika gekom sonder enige noemenswaardige vooruitsigte, maar met die vasberadenheid van ’n gebore stryder. Sy lewe was ’n tydperk van meer as een groot worsteling op politieke gebied, en sy hele loopbaan het ten nouste saamgehang met die geskiedenis van Suid-Afrika. Hy was joernalis in die eerste plek en daarby ook politikus en sakeman wat deurgedryf het wat hy aangepak het.

Ons weet uiters min van sy jeugjare, maar dit is bekend dat hy in Roxburghshire in Skotland gebore is, en dat hy later student geword het aan die Universiteit van Edinburgh. Aanvanklik volg hy ’n mediese kursus en onderskei hom in wetenskaplike vakke, maar gaandeweg word dit duidelik dat sy belangstelling in die sfeer van die letterkunde Iê. Hy lê hom dan ook al meer toe op literêre werk en vestig hom in Newcastle.

In 1823 nooi sy vriend uit studentejare, Thomas Pringle, hom om na Kaapstad te kom waar Pringle toe al reeds enkele jare woonagtig was en ’n pos beklee het.

Foto: John Fairbairn (Elliott-versameling, Kaapse Argief)

Fairbairn gee aan die versoek gehoor, en saam begin hulle vroeg in 1824 ’n privaat skool in Darlingstraat, en kort daarna gee hulle ’n tydskrif, The South African Journal, uit.

Ietwat later roep die uitgewer Greig hulle hulp in om die eerste nuusblad aan die Kaap The S.A. Commercial Advertiser uit te gee, en so beland Fairbairn en sy maat weldra in ’n hewige botsing met goewerneur Somerset.

Dit was die voorspel tot die stryd om die vryheid van die pers. Pringle het na ’n rukkie teruggegaan na die Oosgrens en Fairbairn het voortgesukkel om met sy skooltjie ’n bestaan te maak. Sy groot rol in hierdie stryd was om die openbare mening in Engeland in te lig teen Somerset en in 1825 is hy weer redakteur van die tydelik geskorste blad.

In 1827 word die koerant nogeens stopgesit, en Fairbairn skryf ’n pamflet teen lord Bathurst wat daarvoor verantwoordelik was. Hy gaan sit die stryd in Engeland voort en in Feb. 1829 kon die Kaapstadse publiek hulde aan hom bring as die man wat die vryheid van die pers vir die Kolonie verwerf het.

Hy bly redakteur van die S.A. Commercial Advertiser en oefen so jarelank invloed uit op ’n groot verskeidenheid van openbare aangeleenthede: hy bepleit die invoering van die juriestelsel, die invoer van merinoskape, die aanbou van openbare paaie, brugge en bergpasse, die uitbreiding van die onderwys, en die bevordering van selfregering.

Soms staan hy in die midde van politieke twis, want hy was die skoonseun van die bekende dr. Philip, wie se standpunt oor inboorlingsake hy sterk in sy blad ondersteun het. Steeds veg hy egter met oortuiging, en in 1849 was hy een van die leiers van die beweging om te voorkom dat Suid-Afrika ’n bandietestasie word.

In 1850 weer was hy afgevaardigde na Engeland om namens die koloniste ’n bevredigende stelsel van selfbestuur te verkry.

In Kaapstad het Fairbairn ook in die sakelewe belang gestel, en so het hy met andere vroeg in 1845 ’n versekeringsmaatskappy in die lewe geroep wat as die “Ou Mutual” vandag nog bestaan. Hy was voorsitter van die direksie tot 1850, en weer vanaf 1854 tot sy dood.

Na sy terugkeer uit Engeland is hy gekies as lid van die eerste Parlement wat volgens die nuwe grondwet saamgestel is en het hy die kiesafdeling Swellendam verteenwoordig.

“It has been (my) intention to make or to assist in making, this country a fit country for free men.” – John Fairbairn

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck