Hendrik Potgieter. Die grondlegger van Transvaal
April 7, 2017
Wolraad Woltemade
April 9, 2017

(Geskryf deur Johan Preller, St. 8, Sentrale Hoërskool, Bloemfontein, soos verskyn in Historia Junior, November 1965)

“Alles sal regkom,” sê Jan Brand.

Hierdie gesegde is tiperend van die vertroue- wat die Vrystaters in President Johannes Hendrikus Brand gestel het gedurende die vier en twintig jaar, 1864-1888, toe hy president van die Oranje-Vrystaat was. Vir die destydse Vrystaters was die toekoms teen 1864 duister. Aan die Oosgrens was die Republiek geteister deur Basoeto-oorloë en -strooptogte, wat die ekonomie ernstig benadeel het en ’n gevoel van onrus en verydeling gewek het; daar het feitlik geen afsetgebiede bestaan vir die produkte van die landelike Vrystaat nie en die regering het ernstige finansiële probleme gehad wat die skuldelas van jaar tot jaar laat styg het; die regspleging was ondoeltreffend in die hande van leke; die staat het geen diplomatieke  betrekkinge met die buiteland beoefen nie en die onderwysgeriewe was ontoereikend.

Onmiddellik na sy ampsaanvaarding het hy sy ernstige aandag aan die Basoeto-vraagstuk gewy. Onder sy ferme leiding trek die Vrystaters in 1865 vir die tweede keer teen die Basoeto’s op. Met heldemoed word die vyand teruggedryf ten koste van verskeie dapperes waaronder kommandant Louw Wepener. In Februarie 1865 klink ’n eie volkslied, die teken van ’n ontwaakte nasionale gevoel, teen die hange van die Basoeto-bergvesting. Op 3 April 1866 word die vrede van Thaba Bosigo gesluit. Die glans van oorwinning is egter spoedig verdof deur Wodehouse, die Britse goewerneur aan die Kaap, wat hom aan die kant van die Basoeto’s geskaar het.

Aangevuur deur die Britse meegevoel en goeie oeste in 1866, bars die Basoeto’s weer in plundertogte oor die grens, sodat die Vrystaters in 1857 vir die derde keer teen Mosjesj na die wapen moes gryp. Weer seëvier die Vrystaters en weer is die vrug van oorwinning voor die Vrystaters weggegryp toe Brittanje Basoetoland as protektoraat onder die breë voue van die “Union Jack” inlyf.

Hiermee is die Oosgrens egter finaal afgebaken, is bestendige vooruitgang verseker en het die donker wolke oor die O.V.S. begin ooptrek.

Brand wat uit ’n geleerde gesin gespruit het en homself in Leiden en Londen in die regte bekwaam het, het vervolgens ernstige aandag aan die haglike onderwystoestande in die O.V.S. geskenk. In samewerking met die N.G. Kerk het hy ’n memorandum aan die Volksraad voorgelê. Die gevolg hiervan was dat hy in 1869 opdrag gekry het om ’n onderwysordonnansie op te stel. Op ry aandrang is in 1872 ’n onderwysfonds gestig en is die onderwys deur Ordonnansie no. 5, deeglik gereël. Hiervolgens is ’n onderwysstelsel met ’n inspekteur aan die hoof in die vooruitsig gestel, is skoolkommissies vir elke distrik in die lewe geroep en is staatsteun uit die onderwysfonds verseker. In 1874 word dr. John Brebner as eerste inspekteur van onderwys benoem en word op sy aandrang ’n verbeterde onderwysordonnansie aanvaar wat die grondslag vorm vir ’n tydperk van ongekende bloei in die Vrystaatse onderwys. Maar weens sy Britse agtergrond het Brebner veroorsaak dat die Engelse taal in die Vrystaatse skole so ’n belangrike rol gespeel het, dat die Hollandse taal en ’n eie Vrystaatse kultuur daardeur ondergrawe is. Hierdeur is die Afrikanersiel baie verarm en as gevolg van hierdie stroming in die onderwys, moes Brand heelwat kritiek verduur.

In 1867 word die diamant wat deur Danie Jacobs by Hopetown opgetel is, deur J.H. O’Reilly verkoop en spoedig word die gebied tussen die Vaal- en die Hartsriviere binnegestroom deur fortuinsoekers uit alle oorde. Die aanspraak van die O.V.S. op hierdie gebied is op bekwame wyse deur Brand behartig, dog die gebied is deur die Keate-uitspraak van 1871 onder Britse beheer geplaas en die klein republiek moes swig onder die dwingelandy van die magtige Brittanje. In 1876, na samesprekings in Londen, ontvang Brand R180,000 as vergoeding vir die verlies van die diamantvelde, in die wete dat ’n halwe eier beter is as ’n leë dop.

Al is die Vrystaat die volle voordeel van die ontdekking van diamante ontneem, het hy tog die vrug van die rykdom uit sy gewese bodem gepluk, aangesien die afsetgebiede vir sy produkte verbeter is deur die oprigting van nuwe dorpe soos Kimberley. Sedert die ontdekking van diamante het die republiek op ekonomiese gebied vooruitgegaan, was fondse beskikbaar vir die onderwys, die staatsdiens, die regspleging en vir die verbetering van die verkeerstelsel en is ’n bank in 1871 gestig. Die son van voorspoed het nou finaal deur die donker onweerswolke oor die Vrystaat gebreek.

Brand het ook diplomatieke betrekkinge met die buiteland gesluit en hom daarvoor beywer om internasionale erkenning vir die O.V.S. te erlang in die ry van volkere. Konsuls is in Rusland, Amerika en Hongarye aangestel en vriendskaps- en handelsverdrae is ook met hierdie lande gesluit.

As regsgeleerde was dit ook vir Jan Brand ’n doring in die vlees om die ondoeltreffendheid van die O.V.S. se regstelsel te moet aanskou. Magistrate moes die pligte vervul wat eintlik by ‘n regter berus het en in baie gevalle was hulle nie daarvoor toegerus en opgelei nie. Gedurende die Volksraadsitting van 1872 lê Brand ’n ontwerpordonnansie voor waarin daar voorsiening vir ’n appèlhof gemaak word en op 4 Mei 1874 aanvaar die ywerige jong advokaat F.W. Reitz, diens as appèlregter. Spoedig word Ordonnansie no. 2 van 1875 aanvaar en daarvolgens word ’n hooggeregshof in die lewe geroep. Reitz nou hoofregter en J. Buchanan M. de Villiers die twee strafregters.

Nadat Brand ook hierdie gesonde regstelsel, wat soveel vir die welvaart van ’n staat beteken, vir die O.V.S. verkry het, was hy meer gerus dat reg en geregtigheid in hierdie modelstaat sou seëvier.

Waar die toekoms vir die Vrystaat by sy ampsaanvaarding duister was, het Brand deur sy takvolle en besielende optrede, sy ywer, Godsvertroue en met behulp van sy dinamiese persoonlikheid die wolke oor die Republiek verwyder en een vir een het dinge reggekom…