Johannes Hendrik de Lange (1799-1861)

Pieter Johannes Potgieter (Oorlede 1854)
March 5, 2019
Daniel Lindley (1801-1880)
March 5, 2019

TRAGIESE EINDE VAN KRANIGE VOORTREKKER

Johannes de Lange (Hans Dons) het in die geskiedenis van die Groot Trek ’n legendariese figuur geword. Vir die Afrikaner is hy ’n voortipe van Danie Theron, die baasverkenner, en sy naam word geëer deur sy landgenote soos dié van Baden-Powell onder die Britse volk. Om Hans Dons se nagedagtenis het wonderlike verhale in die loop van ’n eeu saamgegroei, amper so talryk soos die anekdotes wat van Paul Kruger vertel word.

Saam met Piet Retief het hy aan die Oosgrens van die Kolonie teen die kaffers geveg, en hy het gejag in die oop vlaktes van die onbewoonde wêreld oorkant die Oranje. In 1834 was hy saam met Trichardt en die eerste trekkers aan die Wit-Keirivier. Dan gaan hy saam met Piet Uys op die kommissie-trek na Dingaan, wat die pad na die beloofde land vir die Voortrekkers moes verken.

In die fleur van sy jare, wakker en fier, met sy yl, koperblonde donsbaard om die ken, sluit Hans Dons met vrou en kinders by Maritz se trek aan. Na Retief se aankoms trek hy saam langs die Sandrivier op en hy gaan met Retief op die eerste tog na Dingaan teen die einde van 1837. Hy was dapper en sterk, en sy oë was oral. By die terugvat van die gesteelde beeste by Sikonjella speel hy ’n flinke rol, maar Retief laat hom agterbly by die laer en so bewerk die noodlot dit dat hy nie saam met Retief en sy makkers vermoor word nie.

Foto: Hans Dons (Denkbeeldige tekening)

Hy help om die waens oor die Drakensberg te bring, en daag betyds op om die gruwelike moorde aan die Boesmansrivier te aanskou. Hans Dons help die moordenaars terugskiet en word leier van die gehawende bende witmense in Natal. In hierdie maande is hy die “oë” van die trekkers. Bygestaan deur flukse jongkêrels, bespied hy die Zoeloe-leër en voer waaghalsige strooptogte uit om Zoeloebeeste te buit.

Na die neerlaag van Uys en Potgieter by Italeni se berg bly Hans Dons bevelvoerder van ’n laer aan die Boesmansrivier, en hy hou sy mense bymekaar in die uur van nood. Dan kom Pretorius. Nou word hy verkenner van die Wenkommando tot na die slag van Bloedrivier. Pretorius gee aan hom en Landman opdrag om die Zoeloes agterna te sit, en Hans Dons neem deel aan die oorlog teen Dingaan tot 1840.

Pretorius maak hom nou verteenwoordiger van die Boere by Panda, en hy word ’n persoonlike gunsteling van die Zoeloe-koning. Eers woon hy aan die Umvoti en later gee Panda aan hom en andere die Kliprivier-gebied as woonplek. Wanneer die Engelse Natal annekseer, verklaar Hans Dons en sy bure hierdie streek tot ’n republiek, maar dit word uiteindelik ook Engelse gebied.

So versnel die jare. Die vermaarde Voortrekkerverkenner bly op sy plaas digby Ladysmith, en sy koperblonde hare en baard word wit.

Aan die begin van Desember 1860 skiet hy ’n naturel dood op sy plaas. Oor die omstandighede van die gebeurtenis bestaan daar heelwat meningsverskil, maar dit is vry seker dat hy die daad wel gepleeg het. Hy word deur ’n Britse hof ter dood veroordeel, en die vonnis word op aandrang van Theophilus Shepstone in Maart 1861 bekragtig deur die Natalse Uitvoerende Raad.

Op Ladysmith is Hans Dons, die held van menige Voortrekkerkind, en die onverskrokke stryder teen die magte van die onbeskawing, op 26 Maart 1861 onder baie skokkende omstandighede in die openbaar opgehang.

Onverskrokke stryder teen die magte van die onbeskawing

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.