Johan Stemmet (1952-)

Zacharias Wagenaer (1614-1668)
December 7, 2020
Audrey Blignault (1916-2008)
December 8, 2020

deur Daantjie Dinamiet

“Vyftig randjies vir jou”

Dit is seker een van die bekendste sêgoed in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse televisie en word geassosieer met die langslopende program in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse televisie, naamlik Noot vir Noot.

Dié program was die breinkind van Johan Stemmet, wat aanvanklik as sanger en aanbieder van die televisieprogramme Platepraatjies en Teletreffers was. Johan Carl Stemmet is op 9 Februarie 1952 op Springbok in die Noord-Kaap gebore en het op Kleinzee aan die Kaapse Weskus grootgeword. Hy het op elfjarige ouderdom reeds tydens ’n Oujaarsdans op Kleinzee basviool gespeel en só ’n inkomste verdien. Hy het aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad gematrikuleer waarna hy die grade BA, BA (Honneurs) en ’n hoër onderwysdiploma aan die Universiteit van Stellenbosch behaal het. Daarna het hy ’n diploma in dramakuns aan die Universiteit van Kaapstad verwerf. Tydens sy studentejare het hy as ’n eenmanorkes opgetree om sy skuld te betaal; hy het klavier, baskitaar en tromme gespeel en terselfdertyd gesing. Verder het hy as lid van die Universiteitskoor van Stellenbosch onder leiding van Philip McLachlan aan ’n internasionale kompetisie in Portugal deelgeneem.

Johan het by die Ronderbosch Boys High School in Kaapstad skoolgehou met Afrikaans en geskiedenis as hoofvakke. Hier het hy vir Colleen Harrison, ’n wiskundeonderwyseres, ontmoet. Johan het na sewe jaar besluit dat hy nie vir die onderwys in die wieg gelê is nie; hy het vertel dat dit vir hom lekker was om klas te gee, maar dat die buitemuurse aktiwiteite vir hom te veel was. Hy het in 1980 ’n betrekking as televisieregisseur by die SAUK in Johannesburg aanvaar en hy en Colleen is getroud. Sy eerste kennismaking met speletjiesprogramme op televisie was Micro Macro, waarvan die konsep deur ’n Belg aan die SAUK verkoop is. Leon Schuster was die aanbieder daarvan, en dit was ’n redelike sukses. Hy het die geleentheid gekry om sy liefde vir musiek uit te leef, en sy eerste program vir die SAUK was My land my lied, ’n reeks van vier programme met musiek uit verskillende streke van Suid-Afrika, gevolg deur Platepraatjies in 1981. Dit was tydens hierdie program wat Sias Reinecke se treffer “Sproetjies” onder die publiek se aandag gekom het. Die konsep van die program was eenvoudig; die betrokke kunstenaar met wie Johan gesels het, het ’n eksemplaar van sy of haar jongste kort- of langspeelplaat ateljee toe geneem en Johan sou met hom of haar daaroor gesels. Die opname sou op ’n kwartduimband opgeneem word en die kunstenaar sou saam met die opname sing of mimiek. Sias se kortspeler “Jean-Marie” is vrygestel kort voordat Johan met hom sou gesels, maar die kortspeler was gekrap en daarom was dit nie geskik vir televisieopname nie. Die B-kant was nie gekrap nie, en daar is besluit om eerder hierdie liedjie vir die program te kies. Dié liedjie was “Sproetjies”, waarvoor Sias se eertydse sangmaat Gert van Tonder die woorde geskryf het. Sias was nie gelukkig nie omdat hy “Jean-Marie” as die treffer beskou het en “Sproetjies” net die B-kant volgemaak het. Die res is geskiedenis; “Sproetjies” het die treffer geword, en die album waarop dit aanvanklik verskyn het, Ek en my kitaar, is heruitgereik met “Sproetjies” as titelsnit. Daarna het programme soos Treffers van toeka tot nou, ’n Dag in die lewe van Rina Hugo, Gé sing en Die wêreld van Randall Wicomb gevolg. In 1987 het Johan die televisietalentkompetisie Debuut geloods. Hierdie program, wat vir baie kunstenaars die platform was waarmee hulle hul musiekloopbane begin het, is elke twee jaar uitgesaai en daar was drie rondtes. In 1987 het Innes en Franna Benade gewen, in 1989 was dit Marié du Toit terwyl Steyn Fourie die laaste reeks in 1991 gewen het. In dieselfde jaar het hy die suksesvolle program Teletreffers, waarin musiekvideo’s van Afrikaanse liedjies uitgesaai is, vir die eerste keer aangebied. Hy en Johan van Rensburg het in 1991 besluit om saam te span en die eerste reeks van Noot vir Noot, wat nou nog uitgesaai word, te ontwikkel, met Johan Stemmet wat die program sou aanbied en die vrae sou opstel, en Johan van Rensburg wat die leier van die orkes, bekend as die Musiekfabriek, sou wees.

Johan se sangloopbaan het in die 1980’s momentum gekry nadat hy aanvanklik met Afrikaanse kabaret en luisterliedjies geëksperimenteer het. Corrie Myburgh, wat met Cora-Marie getroud was, het die produksie van sy eerste drie albums, Ek is lief vir jou, Bianca en Op versoek, behartig, en hy, Cora-Marie, Kupido en Laurika Rauch het die Kers-album Die klokkespel, saam opgeneem, weer eens met Corrie as regisseur. Daarna het hy oorgegaan na Decibel-platemaatskappy, en die eerste album wat hy in hierdie tyd vrygestel het, As ek maar net kon sê, het in 1987 verskyn. Die twee Johanne, Stemmet en Van Rensburg, het die volgende jaar saamgespan en die wenliedjie vir Die Voortrekkers se Voorinniekoor-liedjiekompetisie, “Land in die suide”, geskryf. Johan Stemmet het dit saam met Rina Hugo gesing, en dié liedjie is intussen in Die Voortrekkers se sangbundel en die nuwe FAK-sangbundel ingesluit. Nadat sy album ’n Deel van my in 1989 vrygestel is, het seker sy grootste, maar mees omstrede treffer op sy album, My musiek, waarvoor hy al die snitte self geskryf het, verskyn. “’n Dans met Pa” was die Treffer van die Jaar op die radioprogram Afrikaanse Treffers in 1991, maar sommige mense het beswaar gemaak omdat dans kwansuis sonde is. Benewens ’n trefferversameling het Johan nog drie albums vir Decibel vrygestel, waarna hy op sy televisiewerk begin konsentreer het. Benewens sy eie treffers het Johan die woorde vir Carike Keuzenkamp se groot treffer “Dis ’n land” geskryf, en hy was die komponis en liriekskrywer van die outobiografiese titelsnit van Cora-Marie se album Ek’s ’n country-meisie. Onder die treffers waarvoor hy die lirieke geskryf het en waarmee Rina Hugo sukses behaal het, was “Somer, son en see”, “Alhambra”, “Tiritomba”, “Ek voel deel van jou” en “Verlore is ons nie”. Hy en Carike Keuzenkamp het verder saamgespan vir die treffers “Kan jy nog onthou?” en “Do you speak English?”

Johan is daarby ’n kranige vlieënier, en hy het al ’n televisieprogram gemaak na aanleiding van ’n reis per girokopter wat hy langs die kus onderneem het. Hy is ook ’n liefhebber van klassieke motors, en besit ’n pragtige Mercedes-Benz 450 SL-afslaankap. Twee seuns, Carl en Etienne, is uit sy huwelik met Colleen gebore. In 2012 het Johan die vasvraprogram Musiektrivia op kykNET aangebied, en ‘n boek met inligting uit die program, asook sy outobiografie, Woord vir woord, het in dieselfde jaar verskyn.

In 2019 het Johan besluit om Noot vir Noot as aanbieder te groet; hoewel hy nog betrokke is by die vervaardiging en opstel van vrae, het die formaat, met Emo Adams as aanbieder, heeltemal verander.