Jimmy Kruger (1917-1987)

Jan Hofmeyr (1894-1948)
July 29, 2021
Paul Sauer (1898-1976)
July 29, 2021

deur Daantjie Dinamiet

Jimmy Kruger was ’n voormalige minister van justisie, polisie en gevangenisse in die Nasionale Party- (NP-) regering.

James Thomas Kruger is op 20 Desember 1917 in Wallis gebore maar hy is deur Afrikaanse ouers aangeneem. Hy het sy skoolloopbaan in Ventersdorp in Noordwes voltooi, waarna hy in die mynwese gaan werk het.

Hy het aanvanklik deeltyds in die onderwys aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) gestudeer, met Afrikaans as hoofvak. Daarna het hy ’n graad in die regte aan die Universiteit van die Witwatersrand behaal en in 1955 as prokureur begin praktiseer.

In 1962 het hy tot die politiek toegetree en lid van die Transvaalse provinsiale raad geword. In 1966 is hy tot volksraadslid van die NP verkies, en in 1972 het hy adjunkminister van polisie, gesondheid en welsyn geword. Hy is in 1974 as minister van justisie, polisie en gevangenisse aangestel. Hy het die seremoniële posisie van president van die senaat van Junie 1979 af beklee totdat die senaat in 1980 afgeskaf is.

Terwyl hy minister van justisie, polisie en gevangenisse was, was hy verantwoordelik vir die verbanning van die leier van die swart bewussynsbeweging, Steve Biko. Toe Biko op 12 September 1977 in polisieaanhouding dood is, het die polisie aangevoer dat sy dood die gevolg van ’n eetstaking was. Donald Woods, ’n blanke joernalis wat ’n goeie vriend van Biko was, het hierdie bewerings bevraagteken. Kruger se reaksie op Biko se dood was: “Dit laat my koud.” Kruger het later gesê dat Biko pamflette geskryf het wat “bloed en lyke op die strate” voorgestaan het. Woods se artikels het toenemend onder die loep gekom en nadat hy Kruger se bedanking in een artikel geëis het, het Kruger hom verban. Dit het gemaak dat Woods uit die land gevlug en in ballingskap in Engeland gaan woon het.

In reaksie op toenemende internasionale druk is ’n geregtelike ondersoek na Biko se dood gelas. Die landdros het bevind dat Biko dood is aan kopbeserings wat tot breinskade gelei het. Volgens die landdros kon niemand verantwoordelik gehou word vir Biko se dood nie en niemand kon daarvoor vervolg word nie. Dit het hom sy politieke loopbaan gekos. Nadat die regering bepaal het dat Kruger se werk as minister sy geloofwaardigheid in die buiteland geskaad het, en hy ’n verleentheid geword het, is hy beveel om te bedank. Hy het nie net sy portefeulje in die kabinet verloor nie; die NP het hom ook uitgeskop. In 1982 het hy hom by die Konserwatiewe Party (KP) aangesluit uit protes teen die rassehervormings wat deur die NP aangekondig is, maar daarna het hy in die vergetelheid verdwyn.

Hy is op 9 Mei 1987 in sy huis in Irene oorlede nadat hy ’n hartoperasie ondergaan het.