Jim Fouché (1898-1980)

Tom Naudé (1889-1969)
May 13, 2021
Jan de Klerk (1903-1979)
May 14, 2021

deur Daantjie Dinamiet

Jim Fouché was Suid-Afrika se tweede voltydse staatspresident.

Jacobus Johannes Fouché is op 6 Junie 1898 op Wepener in die Vrystaat gebore en het  in 1916 aan die Hoër Jongenskool Paarl gematrikuleer.

Hy was ’n suksesvolle boer, maar is in 1941 tot Volksraadslid van die kiesafdeling Smithfield in die Vrystaat verkies. In 1964 is hy tot administrateur van die Vrystaat, toe nog die Oranje-Vrystaat, verkies, en in 1959 is hy tot die kabinet bevorder. Hy was van 1959 tot 1966 minister van verdediging, waarna hy van 1966 tot 1968 die portefeuljes van landbou-tegniese dienste en waterwese behartig het. Hy was van 1960 af ook Volksraadslid vir die kiesafdeling Bloemfontein-Wes.

In Desember 1967 het Suid-Afrika se eerste staatspresident, adv. CR Swart, uit sy amp getree en Fouché was ’n gunsteling om hom op te volg. Dr. Eben Dönges het egter die verkiesing gewen. Dönges het, kort na sy verkiesing, ’n beroerte gehad waarvan hy nooit herstel het nie en hy kon nooit beëdig word nie en Tom Naudé is tot waarnemende staatspresident verkies. Op 19 Februarie 1968, net meer as ’n maand na dr. Dönges se dood, is Fouché tot Suid-Afrika se tweede voltydse staatspresident verkies.  Hy was die enigste seremoniële staatshoof wat sy volle termyn, wat ingevolge die destydse grondwet sewe jaar geduur het, gedien het. Hy is op 10 April 1968 in sy amp beëdig en het tot 9 April 1975, toe dr. Nico Diederichs hom opgevolg het, as staatshoof gedien. Hy was die staatspresident wat die langste enkele termyn gedien het.

Hy is in 1920 met Letta Rhoda  (Lettie) McDonald getroud en twee seuns is uit die huwelik gebore. Sy het op die besture van verskeie Vrouelandbou-unies gedien, en sy was bekend vir haar musiektalent. Sy is op 23 Mei 1900 gebore en op 11 Junie 1993 oorlede. Twee skole, een in Bloemfontein en een in Vanderbijlpark, is na haar vernoem.

Oom Jim, soos hy alom bekend was, is op 23 September 1980 in die ouderdom van 82 jaar in  Kaapstad oorlede. Twee skole, naamlik ’n laerskool en hoërskool in die Bloemfonteinse voorstad Gardeniapark, is na hom vernoem.