Japie van Zyl (1957-2020)

Dirk Mudge (1928-2020)
December 7, 2020
Eve Boswell (1922-1998)
December 7, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Dr. Japie van Zyl was ’n Namibiese elektriese ingenieur wat by NASA gewerk het.

Hy is in 1957 op Outjo in Namibië gebore en het in 1979 sy honneursgraad in elektroniese ingenieurswese cum laude aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Nadat hy sy diensplig in die Suid-Afrikaanse Vloot verrig het, is hy na Kalifornië in die Verenigde State van Amerika waar hy in 1983 sy MSc-graad in elektriese ingenieurswese aan die California Institute of Technology (Caltech) verwerf het. In 1986 voltooi hy sy PhD in elektriese ingenieurswese aan Caltech en sluit daarna by NASA se Jet Propulsion Laboratory (JPL) as navorser aan.

In 1990 word hy aangestel as leier van ’n groep wat gevorderde navorsing met vliegtuie doen; hulle ontwikkel verskeie nuwe tegnieke wat foto’s van die aarde en ander planete met behulp van spesiale radars neem, en in 1995 word hy tot hoof van alle navorsing aan die JPL bevorder. In 2000 word hy adjunkhoof van die organisasie wat al die JPL se sendings om die aarde in werking stel en lanseer. Een van die belangrikste sendings was die Shuttle Radar Topography Mission wat in Januarie 2000 op die pendeltuig Endeavour gelanseer is.

Dr. Van Zyl het in 2003 die adjunkdirekteur van astrofisika by die JPL geword, en in 2006 die direkteur. Verskeie sendings, soos die Spitzer- en Kepler-teleskope is onder sy leierskap gelanseer. In 2011 het hy die mededirekteur van die JPL geword, met die verantwoordelikheid om die JPL se strategie te ontwikkel. Die gevolg, bekend as JPL 2025 was ’n groot sukses en het tot ongekende voorspoed gelei vir die JPL in terme van die aantal sendings wat deur NASA aan hulle befonds is. In 2016 het hy die direkteur van die sonnestelselverkenning by die JPL geword, waar hy vir al die sendings na die planete in die buitenste deel van die sonnestelsel verantwoordelik was.

Die Internasionale Instituut vir Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese het dr. Van Zyl in 1997 as die wêreldwye jong ingenieur van die jaar gekies en die volgende jaar is hy as genoot erken; ’n eer wat net omtrent 1% van die lede van dié organisasie toegeken word, en in 2010 het hy die Onderskeidende Prestasie-toekenning van dieselfde organisasie ontvang. Die Universiteit van Stellenbosch het in 2015 ’n eredoktorsgraad aan hom toegeken.

Volgens die universiteit het dr. Van Zyl nog steeds teruggeploeg in die gemeenskap en as buitengewone professor in die departement van elektriese en elektroniese ingenieurswese het hy ’n bydrae gelewer tot die opleiding van die volgende geslag wetenskaplikes en ingenieurs. Ondanks sy vele internasionale suksesse het hy ’n kind van Afrika gebly.

Kort voordat hy in ’n kritieke toestand in die Huntington-hospitaal in Pasadena in die Amerikaanse staat Kalifornië opgeneem is, het hy afgetree na 33 se jaar se verbintenis met NASA. Hy is op 26 Augustus 2020 in dié hospitaal oorlede, en laat sy vrou, Kalfie, met wie hy in 1979 getroud is, agter.